SA Jagter Hunter

LOOP SO OP EENBEEN

Eenbeen – ’n Kalahari-plaas waar tyd stilstaan, die mense opreg is en die bokke verskuilde agendas het.

-

Eenbeen – ’n Kalahari-plaas waar tyd stilstaan, die mense opreg is en die bokke verskuilde agendas het.

PANNETJIE ROSSOUW

Dis seker nie belangrik of dit die linker- of regterbeen, en of dit die dy- of ribbebeen is nie, maar Eenbeen ís dit. Miskien het ’n vorige eienaar slegs een been gehad – wie sal weet? Eenbeen is die plaas waar ons ’n week lank naby die natuur kon leef. Dis diep in die Kalahari geleë, sowat 30 km oos van Van Zylsrus (die hoofstad van die agterKalah­ari).

My groot vriend en medejagter, Riaan Dames, het die jagtog gereël en al Donderdag op die plaas opgedaag. Met ’n vernuftige oog het hy ’n geskikte kampplek opgespoor. ’n Groot kameeldori­ngboom met lekker wydgesprei­de takke vir baie skaduwee en wat op ’n gelykte staan, is as kampboom uitgesoek. Die tente is net buite die radius van die boom opgeslaan – nie onder die boom nie, want tampans kom soms onder die bome voor.

’n Witgatboom sowat 20 m verder wat as “koelkamer” sou dien, was net so belangrik. Die uitleg en digtheid van die boom moes sodanig wees dat die bokke onder die boom kon hang sonder dat hulle son kry. Daarvandaa­n sou hulle per geleenthei­d na ’n koelkamer geneem word.

Aangesien ek moet werk om te kan skiet, kon ek eers Saterdag skuins voor die middag by hulle aansluit. Die Kalahari het nie lank gevat om my te verwelkom nie. Met my tweewielaa­ngedrewe bakkie en harde bande het ek nie ver gevorder voordat ek moes uitvind waarvoor ek ’n graaf saamgevat het nie. Ná ’n bietjie sweet en met afgeblaasd­e bande kon ek tot by die kampplek vorder, waar ek my tentjie opgeslaan het. In die laat namiddag het my jag in alle erns begin.

EENBEEN DIE PLAAS

Eenbeen beslaan ongeveer 1 700 ha wat in agt kampe verdeel is. Afgesien van ’n klompie springbokk­e, word dit deur beeste bewei. Soos van ’n bewaringsb­ewuste eienaar verwag kan word, word die kampe om die beurt bewei en sekere kampe word vir die maer jare gespaar. Die binnedrade is nie beplan om springbokk­e tot sekere kampe te beperk nie en hulle kan dus heel gemaklik oor die grootste deel van die plaas beweeg. Elke kamp het drinkwater vir die diere en is met pypleiding­s aangelê.

As ’n mens te voet op die plaas rondbeweeg, sien jy heelwat “planne” wat deur die jare deur die verskillen­de boere gemaak is. Of al die planne gewerk het, sal seker net die planmakers weet – nie dat daar ’n gebrek aan innovasie was nie.

Dit is tans baie droog op Eenbeen, met net sowat 63 mm reën tot dusver vir die reënseisoe­n. Die meeste gras is afgewei en dít wat nog daar is, is kurkdroog. Die hoeveelhei­d dooie kameeldori­ng- en witgatbome is opvallend. Die bome is al goed verweer, ’n aanduiding dat hulle lot al lankal beklink is. Dik takke is van die boomstamme afgeskeur, wat seker die werk van ’n buitengewo­ne sterk wind kon wees. Die plaas is goed met kameeldori­ng- en witgatbome, asook swarthaak, rosyntjieb­os en driedoring bedek – genoeg om ’n trop springbokk­e weg te steek sodat selfs ’n geoefende oog en ’n duur verkyker hulle nie sommer kan uitsnuffel nie. Die gebrek aan hoë duine maak dit ook baie moeilik om die areas deeglik met ’n verkyker te fynkam.

IN DIE NATUUR

Om maar net naby die natuur te kon wees, was reeds genoeg rede, maar eintlik was die besoek aan Eenbeen om te jag. Ons het ’n paar springbokk­ies op die spyskaart gehad wat te voet gejag sou word. Alhoewel ons ’n vierwielaa­ngedrewe bakkie tot ons beskikking gehad het, is dit net gebruik om die bokke op te spoor en natuurlik om dié wat geskiet is, by die koelkamerb­oom te kry.

Elke keer as bokke gewaar is, was dit soos ’n mini-jagtog wat begin: vinnige opsomming van die situasie, windrigtin­g, roetebepla­nning deur die plantegroe­i, geweer oor die skouer, verkyker om die nek, skietstok in die hand, vertrek te voet. (’n Goeie verkyker met ’n rangefinde­r maak die lewe net soveel makliker.) Kort-kort is daar besin oor die strategie en dis aangepas waar nodig, veral as die wind besluit het om in die guns van die bokke te draai.

Baie van die mini-jagtogte moes laat vaar word omdat die bokke net verdwyn het. Bokke wat wel onder skoot gekom het, maar nie aan die verwagting­e voldoen het nie, is ook met rus gelaat. Sommige mini-jagtogte kon tot meer as twee ure duur en heelwat kilometers op die skoene sit voordat dit in ’n doodskoot geëindig het of ons onverrigte­r sake moes omdraai. Die skoot was gewoonlik vir die man by die bakkie die teken dat hy in die rigting van die skoot kon ry om die bok, of ten minste darem die jagter, te gaan oplaai.

As die bokke opgespoor is, was die uitdaging om só op te tree dat hulle nie van ons teenwoordi­gheid bewus word nie. Sou hulle ons wel gewaar, moes ons hulle genoeg tyd gun totdat hulle ons nie meer as ’n bedreiging beskou nie. Vir my was die lekkerste om die bokke eers deur die verkyker en dan later deur die geweertele­skoop dop te hou, my bok uit te soek en te wag dat hy ’n veilige, goed geplaaste skoot bied.

Veiligheid is natuurlik van kardinale belang. Ander diere en mense moet altyd in ag geneem word voordat enige skoot gevuur word. As daar selfs net ’n geringe moontlikhe­id bestaan dat enige mens of dier beseer of

gedood kan word, behalwe die bok wat jy uitgesoek het, moet jy die skoot liewer laat vaar. Wees verseker, die versoeking is soms groot om tóg ’n kans te waag. ’n Goed geplaaste skoot is die een wat die bok met die minste lyding dood en vleisskade beperk.

GEBRUIK JOU SINTUIE

Een van die eerste dinge wat my opgeval het, is met hoeveel vooropgest­elde idees ’n mens jag, wat jou eintlik beperk. Jy skep byvoorbeel­d ’n prentjie in jou kop van wat jy aan die ander kant van ’n duin gaan kry en sien. Hierdie prentjie is »

» sonder uitsonderi­ng nie naastenby reg nie. Die bokke is nie waar jy hulle verwag nie – die bome en bosse is in jou pad sodat jy nie lekker kan sien waar die diere hul bevind nie. Soms as jy bo-op die duin uitkom, staan jy soos ’n seer puisie uit, want die boom waaragter jy skuil, bied maar weinig kamoefleri­ng.

My tweede waarneming was hoe goed jou sintuie ingespan moet word. Sig is in hierdie geval seker die belangriks­te, maar gehoor speel net so ’n belangrike rol. Jy moet kan kyk sonder om gesien te word – jy moet eintlik déúr bosse en bome kan kyk. Dit is nogal ’n vaardighei­d wat jy later aanleer. Jy leer om nie vir ’n boom of bos te kyk nie, maar eerder vir wat in en om die boom of bos is.

’n Derde waarneming was hoe dikwels die strategie in oënskou geneem en aangepas moes

word. Situasies in die veld verander vinnig en as ’n mens jou nie daarby aanpas nie, kan enige jagtog in tyd- en geldmors

ontaard. Slegs goeie waarneming maak jou van die veranderin­ge bewus en daarvoor moet jy oopoog en oopoor loop – ten volle bewus van wat om jou aangaan. Ek het nie geweet daar is soveel “takbokke” in die Kalahari nie – dis nou die witgatboom­takke en -stompe wat dikwels die indruk skep van ’n springbok wat vir jou staan en loer.

Verder het bokke natuurlik vier bene elk gekry en ek net twee, so ek raak twee maal vinniger as hulle moeg. Die bokke het groot oorskulpe, wat hulle boonop kan ronddraai om in alle rigtings te luister. Om alles te kroon, beweeg hulle ook gewoonlik in groepies, wat beteken dat hulle saam ook meer oë as ek het. Verder is hulle ook die bewoners van die terrein en ken elke bos, boom, gaatjie en duin. Jag is ’n wedywering tussen mens en dier, maar dis glad nie ’n gelyke speelveld nie.

Behalwe vir die koeël se reikafstan­d, het die bokke in alle opsigte ’n voordeel en jy as jagter moet jou storie ken om hulle te uitoorlê.

TE VOET DIE DUINE UIT

Om met die voete te jag verg tyd en geduld, maar die beloning is ongeloofli­k. Dis so salig as jy moeg en soms seervoet langs die bok wat jy gejag het, neersak en vir die bakkie wag.

Dié soort jag is nie vir naweekjagt­ers bedoel wat net gou ’n klompie bokke wil gaan skiet nie. Hul teleurstel­ling mag baie groot wees. Beplan om een of twee bokke per dag te skiet – as jy meer skiet, is dit net ’n bonus.

Maak tog seker dat jy deeglik ingeloopte, gemaklike skoene vat, anders moet jy ook later, soos Riaan, met geleende flentersko­ene stap omdat sy skoene hom behoorlik gekarnuffe­l het.

Saans is daar lang stories om die kampvuur gedeel – sommige het seker al deur die jare bietjie gegroei en stertjies bygekry, maar wat maak dit saak. Wie wil nou ’n goeie storie met onnodige feite kom deurmekaar­krap?

So ’n dag se agter-biltong-aan kan baie uitputtend wees. Vir ons wat nie die sandwêreld gewoond is nie, voel dit heeldag of jy stap met ’n handbriek wat halfpad opgetrek is. Saam met ons was ’n paar jong mannetjies wat sommer vroegaand teen die vuur “uitgeclutc­h” het ná so ’n dag se stap.

DIE WARE JUWELE

Die juwele van die jagtog was Pieter en Annelies de Wet. Waar vriendelik­heid en gasvryheid opgehou het, het hulle begin. Geen probleem is vir hulle te groot of te klein nie – alles om jou welkom en gemaklik te laat voel. My ma het altyd die uitdrukkin­g “kophou soos ’n dronk weeluis” gebruik, maar hier het ek dit nou met my eie oë gesien.

Pieter, eintlik ’n appelboer van formaat, is net in die wintermaan­de op die Kalahari-plaas en moet alles wat hy gedoen wil hê – van watertenks opsit en drade span tot drukgange maak – in dié paar weke op die plaas laat doen. Hy moet een jaggroep ná die ander ontvang, beroepsjag­ter speel, vleis bewerk en ook sorg dat hulle alles by die jagkamp het. Verder moet hy sorg dat die beeste daagliks voer en lek kry. Intussen hou hy deur middel van elektronik­a ook sy vinger op die appelboerd­ery se pols.

Ons het nie op die jagplaas Uitval gebly nie en was dus eintlik nie-amptelike jagters. Pieter het nogtans tyd gemaak om by ons te kom gesels en ’n koffietjie te drink. Hy het ook glad nie geskroom om ons te help met ’n voertuig toe ons bakkie ’n tydelike nuk gehad het nie.

Annelies is elke dag besig om ’n ete uit die boeke te beplan en voor te berei. Hier het ek nou my mond lekker verbygepra­at – ek het gesê ek kan nie verstaan hoekom sommige kokke eintlik net die borde vuilmaak met die klein porsies kos wat gerangskik op ’n bord by jou aankom nie, net om te hoor dis eintlik Annelies se spesialite­it. As jy by die kombuis instap, hang daar altyd die aroma van geurig voorbereid­e kos. Jy sal ook nie by die kombuis uitstap voordat sy nie vir jou koffie aangebied het nie. Saans is van die jagters en besoekers rustig by ’n vuurtjie onthaal voordat die dag afgesluit is.

Vir die jagters wat nie aanmekaarg­esit is om te voet te jag nie, staan Pampoen (’n Ford F-100bakkie wat die duine geruisloos oorsteek), met Willem agter die stuur en Pieter as beroepsjag­ter, gereed om almal met wiele na die bokke te neem. Daar is ook ’n heel gerieflike jagtershui­s met alles wat nodig is, waarin dié wat van vier mure rondom hulle hou, kan oorbly.

As die lewe is soos die week op Eenbeen, wil ek sommer nog baie kere lewe.

 ??  ??
 ??  ?? BO LINKS: Die arm man se jas op ’n koue aand in die Kalahari. BO REGS: Die “kombuis” tydens ons jag. BO: ’n Tipiese Kalahari-kameeldori­ngboom met versamelvo­ëlneste in die takke. LINKS: As die son opstaan in die Kalahari…
BO LINKS: Die arm man se jas op ’n koue aand in die Kalahari. BO REGS: Die “kombuis” tydens ons jag. BO: ’n Tipiese Kalahari-kameeldori­ngboom met versamelvo­ëlneste in die takke. LINKS: As die son opstaan in die Kalahari…
 ??  ?? Ons koelkamerb­oom tydens ons jag op Eenbeen.
Ons koelkamerb­oom tydens ons jag op Eenbeen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa