SA Jagter Hunter

TRADISIE OF TEGNOLOGIE: WAT KIES JY?

In vandag se wêreld word ons dikwels met ’n groot verskeiden­heid alternatie­we gekonfront­eer as dit by kalibers kom.

-

In vandag se wêreld word ons dikwels met ’n groot verskeiden­heid alternatie­we gekonfront­eer as dit by kalibers kom.

HANS STRONKHORS­T

Dit was die begin van 2020 en ek en my vrou het ons in Engeland bevind vir ’n korttermyn-werkkontra­k. Ons was skaars twee maande aan die werk toe Covid-19 sy tol begin eis. Naas familie en vriende, was die jagveld seker die ding wat ek die meeste gemis het. Met ons Juniemaand­vlugte huis toe wat vroeg in die jaar gekanselle­er is, het ek besef dit gaan nog ’n hele ruk wees voor ek weer my voete in die stofpad gaan sit.

Ek beplan al ’n hele ruk om vir my ’n nuwe jaggeweer te koop. Dis tog elke jong jagter se droom en dit was op my “to-do”-lysie wanneer ons na Suid-Afrika terugkeer. Toe ons nou so baie tyd in ons woonstel moes deurbring en nêrens heen kon reis nie, het ek besluit dit sou ’n goeie tyd wees om my kennis op te skerp en ’n bietjie navorsing te doen. Ek het vele boeke, tydskrifte en artikels gelees, baie video’s gekyk, herlaaidat­a bestudeer, geweerwink­els se webtuistes besoek, en nog vele meer. Ek was nog altyd iemand wat goeie navorsing gedoen het voor ek iets nuuts aanpak of koop, maar in hierdie geval het die navorsing my net meer onseker as ooit gelaat. »

»Om ’n bietjie meer konteks by die verhaal te voeg, moet ek seker noem waarna ek op soek was. Ek het ’n Ruger M77 Mk2 .338 Winchester Magnum vir my 21ste verjaardag by my pa gekry. Dit was ’n geweer wat ek al van kleins af in die kluis bewonder het en dit was toevallig ook nie my pa se gunsteling nie. Dit was egter asof ek en die Ruger vir mekaar bedoel was. Ek het al vele bokke met dié geweer gejag en tot dusver was elkeen “een-skoot”-doodskote. Die enigste nadeel was dat die geweer vleisskade by kleiner wild veroorsaak het, selfs met verminderd­e ladings.

Ons jag gereeld rooibokke, duikers en vlakvarke en die .338 se koeël bly tog maar groot vir sulke wild. Dus was ek op soek na iets effens kleiner, maar wat steeds genoeg krag sou hê vir klein- tot mediumgroo­tte wild. En so het die navorsing begin.

Ek was nie te besorg oor die fabrikaat of model van die geweer nie; daar is baie goeie vervaardig­ers daar buite wat aan my vereistes sou kon voldoen. Die groter vraag was egter die kaliber. Daar is deesdae ’n ongeloofli­ke verskeiden­heid en dus het ek besef dat ek goeie navorsing sou moes doen om die regte besluit te neem. Soos wat ek deur die boeke geblaai en aanlyn inligting ingeneem het, het ek tot die gevolgtrek­king gekom dat die besluit egter tussen tradisie of tegnologie sou wees.

TRADISIE

Wanneer ek van tradisie praat, verwys ek na die kalibers wat al vir ure om die kampvuur bespreek is, soms al vanaf die vroeë 1900’s. Ons het definitief nie van gister af probeer bewys dat een geweer beter is as ’n ander een nie. Maar dit is ook die kalibers wat al vir jare en deur generasies ongeloofli­ke sukses in die jagveld behaal het. Hier verwys ek hoofsaakli­k na kalibers soos die .375 H&H, .30-06 Springfiel­d, .308 Winchester en .270 Winchester. Daar is ook die Europese eweknieë soos die 9,3x62, 8x68S, 7x64, 7x57 en 6,5x55.

Hierdie kalibers het hulself al vir jare oor en oor bewys en die toets van tyd deurstaan (of so dink ons tot nou). Jou oupa het heel moontlik met een van dié gewere gejag en vir jou vertel dat dit die beste kaliber is, en jy glo ook so. ’n Mens kan ure aan elkeen se tegniese eienskappe bestee, maar die rede hoekom ons almal so oor die kalibers voel, is omdat hulle regtig so goed is. Hulle voorsien in baie se behoeftes en as jy een gebruik, is daar net daardie gevoel van tradisie wat ’n mens eintlik nie kan beskryf nie. Dis deel van jou al van kleintyd af en vorm deel van jou raamwerk as jagter. Dit is meer as net ’n klomp syfers op ’n ballisties­e tabel.

Bo en behalwe bogenoemde faktore, hou hierdie kalibers ook baie ander voordele in. Ammunisie is geredelik beskikbaar en nie te duur nie, jare se herlaai en ander data is beskikbaar, en heel moontlik ken jy iemand wat ook so ’n geweer het. Dit is maklik om advies te vra of iets uit te vind; jare se skiet het al elke probleem gevind en uitgesorte­er. Hierdie gewere is beskikbaar en betroubaar, sonder twyfel.

TEGNOLOGIE

Die eerste geweer wat in my gedagtes opkom rakende hierdie onderwerp, is die 6.5 Creedmoor. Dit is seker die een kaliber wat die meeste opskudding in jare veroorsaak het; dis ongeloofli­k gewild, en hoekom nie? Die terugskop is min, die koeëls het goeie ballisties­e koëffisiën­te en die trompsnelh­eid is perfek vir die meeste jagomstand­ighede (uitsluiten­de grootwild).

Ander name wat ook hier hoort, is enige nommer gevolg deur “WSM”, “SAUM” of “PRC”. Daar is reeds so baie van dié nuwe kalibers dat dit moeilik is om by te hou. Die jaar 2021 het skaars afgeskop en die nuwe 6.8 Western was bekendgest­el.

Die meeste van hierdie nuwe kalibers het hul lewe begin as langafstan­d-teikenkali­bers, bedoel vir die skietbaan of ghongskiet­geleenthed­e. Natuurlik sal die jag- en skietgemee­nskap egter alles wil toets, en as gevolg van vele voordele, het baie van dié kalibers baie betroubare jagkaliber­s geword.

Kalibers soos die .300 WSM, .338 Lapua Magnum, 6.5 Creedmoor en .270 WSM is al suksesvol as toegewyde jagkaliber­s aangeneem en dit is ook verstaanba­ar hoekom. Hierdie gewere het goeie ballisties­e vermoëns wat in baie gevalle die tradisione­le eweknieë verbysteek. Die lang, swaar koeëls vlieg beter deur die wind en meer gevorderde dopkonstru­ksie en vorms bied ander voordele.

Daar is ook natuurlik ’n paar nadele (vir nou?) van hierdie kalibers. Ammunisie is die meeste van die tyd duur en nie altyd beskikbaar nie, veral in hierdie groeiende mark. Herlaai van patrone is gewoonlik hoe die meeste manne hul ammunisie kry. Daar is ook nog nie so baie inligting en data rondom sekere van dié kalibers beskikbaar nie, maar dit sal met die tyd verander.

’n Ander probleem is dat baie van hierdie kalibers verander in sogenaamde wildcats – dikwels ’n goeie idee wat nooit regtig vlamvat nie. ’n Paar jaar later lees jy van iemand wat ’n koedoe met so ’n kaliber gejag het en jy het eintlik al skoon daarvan vergeet. Die bevorderin­g van tegnologie is fantasties, maar dit kan ook sy eie vyand wees.

GEVOLGTREK­KING

Om ’n lang storie kort te maak, kan ek eerlik sê dat ek nog nie tot ’n gevolgtrek­king gekom het nie. Ek is persoonlik ’n groot voorstande­r van tradisie – dit maak ons wie ons is en hoekom sal ’n mens ontslae raak van iets waarmee daar niks fout is nie? Baie van die tradisione­le kalibers is al ouer as 100 jaar, so hoekom sal hulle nie hierdie toets ook kan deurstaan nie?

Aan die ander kant glo ek ook in die Engelse sêding van “the numbers don’t lie”; dit is duidelik dat die nuwer kalibers soms die oueres effens ore aansit (op papier, ten minste). Natuurlik is daar iemand wat vir jou sal vertel dat hy sy .308 Winchester só kan laai en skiet om by die buurman se 6.5 Creedmoor by te hou, maar met watter doel? Dan kry jy ook die man wat elke jaar ’n nuwe geweer aanskaf, want die vorige een is net nie meer goed genoeg nie, terwyl die buurman net elke jaar sy betroubare .30-06 uit die kluis haal.

Dit is definitief vir die nuwe, jong jagter moeilik om so ’n groot besluit te neem. Ek dink egter die groot vraag is watter van die kalibers die volgende paar jaar gaan oorleef, ongeag die honderde persoonlik­e redes vir en teen die spesifieke kaliber. Ek kan steeds nie besluit watter een die beste vir my eie jagdoelein­des is nie, en dit lei dan na die punt van die saak: Jy moet op die ou end die geweer kies waarmee jy die akkuraatst­e skiet en wat vir jou in alle opsigte die beste is, ongeag ander mense se opinie. Praktiese ondervindi­ng is ook goud werd in hierdie opsig, want ’n papier kan vir jou tog net sóveel vertel.

Ek wonder dikwels oor watter gewere ek eendag met my vriende langs die kampvuur gaan stry. Gaan ons tradisie kies en hoop dat jare se prestasie die wind van voor sal oorleef, of gaan ons die kans waag met tegnologie en hoop die kaliber kan volgende jaar nog byhou? Die tyd sal leer watter kalibers dit sal wees.

Praktiese ondervindi­ng is ook goud werd in hierdie opsig, want ’n papier kan vir jou tog net sóveel vertel.

 ??  ??
 ??  ?? ’n Paar van die bekende tradisione­le kalibers. Hierdie kalibers het al lang paaie saam met ons jagters gestap en het hulleself deeglik bewys. Links na regs: .270 Winchester, 7x57 Mauser, .30-06 Springfiel­d, 9,3x62 Mauser.
’n Paar van die bekende tradisione­le kalibers. Hierdie kalibers het al lang paaie saam met ons jagters gestap en het hulleself deeglik bewys. Links na regs: .270 Winchester, 7x57 Mauser, .30-06 Springfiel­d, 9,3x62 Mauser.
 ?? ammoandwea­pons.com) ?? Die welbekende .243 en .308 Winchester. Hierdie kalibers is ontwikkel in 1955 en 1952. (Bron:
ammoandwea­pons.com) Die welbekende .243 en .308 Winchester. Hierdie kalibers is ontwikkel in 1955 en 1952. (Bron:
 ??  ?? Drie van die bekendste nuwe kalibers. Hierdie kalibers is almal ontwikkel tussen 2007 en 2013. (Bron: Hornady)
Drie van die bekendste nuwe kalibers. Hierdie kalibers is almal ontwikkel tussen 2007 en 2013. (Bron: Hornady)
 ??  ?? Baie van die sogenaamde wildcat-kalibers het baie meriete, maar min van hulle bereik kommersiël­e sukses. Hier is “verbeterde” weergawes van die .303 (links), sowel as die .270 Winchester (regs).
Baie van die sogenaamde wildcat-kalibers het baie meriete, maar min van hulle bereik kommersiël­e sukses. Hier is “verbeterde” weergawes van die .303 (links), sowel as die .270 Winchester (regs).
 ??  ??
 ??  ?? Van die nuwe kalibers wat beskikbaar is, is die 6,5 PRC (links), .30-378 Weatherby (middel), sowel as die .375 Ruger (regs).
Van die nuwe kalibers wat beskikbaar is, is die 6,5 PRC (links), .30-378 Weatherby (middel), sowel as die .375 Ruger (regs).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa