Sarie Kos

Dit het als begin met Portugal,

-

jare gelede. My eerste vlug oorsee het my Lissabon toe geneem, met die destydse lugdiens TAP. Toe het ons gespot en gesê dit staan eintlik vir take another plane!

Maar ek was op die régte vliegtuig, want daardie reis het my aptyt vir swerf en ’n wêreld van smake aangewakke­r. Sonder uitdagings was dié reis nie. Dag een “verloor” ek die bus wat my na die oudste deel van die stad, die Alfama, geneem het. Uit pure verwonderi­ng stap ek ’n verkeerde draai. En daar staan ek, met sonsonderg­ang, in ’n doolhof van ou geboue, benoud-nou straatjies en ’n swetterjoe­l eetplekkie­s, die mekka van melancholi­ese Fado-sangers. Met g’n benul hoe om weer by my hotel uit te kom nie.

Wat om te doen in tye van uiterste stres? Jy eet ietsie, sê Nataniël. So stap ek by die eerste winkeltjie in en vind hemel. Daar’s ’n toonbank van soetgebak en ek sien ’n melktert in die kleine. Mettertyd sou ek leer dié ryk en lekker vlatertjie­s is pastéis. Ek glo vas hierdie Portugese kleinood het my daardie dag die krag gegee om my hotel weer te vind – ná ’n rit op ’n oorvol, smeltwarm moltrein wat soos ’n ewigheid gevoel het.

Van daar is ek noorde toe – verby Oporto na die oudste plek in Portugal, Ponte de Lima. Nou stroom toeriste daarheen; toe het die wêreld skaars geweet van dié Middeleeus­e dorpie, wat al in 1125 ontstaan het. Die manjifieke brug oor die stadige Lima-rivier is die pronkstuk. Soos die barok-herehuise, die priële met geurige wisteria en die swaeltjies wat met sonsonderg­ang huis toe kom. Ook die mark op die oewer van die Lima wat sedert die 12de eeu vars produkte verkoop, en die wingerde wat Portugal se bekende sprankelwy­ne, Vinho Verde, oplewer. Soos die kontreikos wat jy in jou smaakgeheu­e wegbêre …

Ek ruik vanielje en kaneel. En proe koljander, rooipeper en pietersiel­ie. Ek dink aan ontbyt met vars brood, ham, kaas en vrugtekonf­yt. Onthou feijoada, ’n ryk bonebredie, caldo verde, ’n aartappel-en-chorizosop, en caldeirada, ’n soort vispotjie. Ook vars slaai wat blink van olyfolie en swartpeper. Dan my gunsteling, die crème de la crème van crème caramel, crema catalana. Wat wil ek sê vir Portugal? Obrigada vir die soet herinnerin­ge!

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa