Sarie Kos

Rex Union-lemoen

-

Supermarkt­e hou nie graag vrugte met spesialite­itsgebruik­e aan nie. Die Bramley-appel – perfek vir bak, maar te suur om rou te eet – het bv. plek gemaak vir variëteite met ’n meer neutrale smaak soos Granny Smith. Dieselfde het gebeur met Suid-Afrika se marmelade-koning, die Rex Union. Dié unieke sitrusvrug het ’n dik wit laag onder die donkerrooi, vleklose skil, en die vlesige binneste is sappig en uitermatig suur.

Die vrug se bestaan is in die vroeë 1900’s vir die eerste keer opgeteken, glo ontwikkel deur ene George Wellington Rex in wat nou die provinsie Noordwes is. Volgens oorlewerin­g was George Wellington se oupa George Rex moontlik die buite-egtelike seun van die 18deeeuse Britse koning George III (dit kon nie deur genetiese toetse bevestig word nie).

Wie weet of dit dalk hierdie koninklike konneksie was wat George Wellington ’n vriend van pres. Paul Kruger gemaak het, maar dis by hom dat George Wellington ’n stuk grond op die Boschfonte­in-plaas buite Rustenburg gekry het. (Sommige mense sê dis ook die plek waar die Kruger-miljoene begrawe is …)

Op Boschfonte­in het George Wellington iets werklik majestueus vermag toe hy sy lemoen-pomelo-kruising geskep het om sy behoefte aan die perfekte marmeladeb­raaibrood te bevredig. Hy het die bittersoet vrug na homself genoem, en die bome het gefloreer en bekend geraak. Met reg kan gesê word Rex Union-marmelade is die beste ter wêreld.

In die laaste jare het die vrug én marmelade se gewildheid getaan. Boorde vol Rex Union-bome is afgekap. Op Boschfonte­in is nog net een boord met 273 bome, en baie van die bome is oud. Die plaas is verkoop en Brian Dick, president van SA Slow Food, sê al hou die nuwe eienaar die bome, is een plaas nie genoeg nie. “Gelukkig het die sitrus-navorsings­instituut by Nelspruit ’n voorraad wortelstok­ke. Ons onderhande­l nou met hulle om vir ons bome te produseer.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa