Sarie Kos

Herman sê

-

Kan jy glo! Dis al 10 jaar sedert die eerste SARIE KOS destyds in 2007 die lig gesien het. Die eerste uitgawe was ’n wegholsuks­es, vertel hulle my, en niemand het dit sien kom nie. Ek was toe nog maar ’n student by die sjefskool op Stellenbos­ch, maar ek het geweet SARIE KOS praat my taal. Ek kon tussen die blaaie verdwaal en lief raak vir Suid-Afrikaanse kos. En hier is ek nou: ’n dekade later en ek kook vir daai einste blaaie van die geliefde kosboek! Dis vir my moeilik om my lewe sonder SARIE voor te stel. Maar só is daar ook mense wat jou lewe só beïnvloed dat jy jou nie kan indink sonder hulle nie. Nataniël is so ’n mens. Solank ek kan onthou, het hy my geïnspiree­r om meer te wil wees, kreatief te dink en altyd kop te buig en hard te werk. Want as jy doen waarin jy glo, sal jy iewers iemand oortuig om saam met jou daarin te glo. Die heel eerste keer dat ek met Nataniël kennis gemaak het, was toe ek nog op Upington op skool was, in my vroeë hoërskoolj­are. Hy het ’n vertoning op die dorp kom doen en ek was natuurlik in die voorste ry. Nataniël het uitgestap op die verhoog en in sy kenmerkend­e stem sy stories begin vertel. Hy het vertel van mense en ervaringe. Van kos en onthaal. Plekke wat hy al gesien het en mense wat hy ontmoet het. Ek het skielik besef daar’s ’n wêreld daar buite wat ek moet leer ken. En ek het myself belowe dat ek eendag die kans gaan kry om saam met hom oor kos te praat en oor mooi goed te droom. My pad het sy gang gegaan en jare later stap ek by die SARIE-kantoor in as kosredakte­ur. Skaars ’n jaar daarna wen ek die Galliova-kossprys en wie oorhandig dit: Nataniël! Hy vat my hand en met dieselfde stem waarmee hy my jare gelede die wil gegee het om te droom, oorhandig hy my eerste toekening. ’n Oomblik wat ek altyd in my hart sal saamdra. Dit was vroeër vanjaar tydens SARIE se eerste fees in Pretoria waar Nataniël gepraat het oor etiket en die rol daarvan in ons moderne tyd. Ek het toe al besluit hy moet dit met ons lesers deel. Nataniël se magic is iets wat jy by min mense kry. Hy is ernstig oor die lewe. Jy kan hom oor byna enigiets bel en hy sal jou met ’n antwoord help. Ek het oneindig baie respek vir hom en waardering vir alles wat hy my al tydens eenvoudige gesprekke geleer het. Dis g’n wonder dat hy nie net diep in my hart lê nie, maar ook in die meeste Suid-Afrikaners s’n. Kom sit aan by sy tafel. Trek jou mooiste klere en skoene aan. Kuier saam met Nataniël terwyl hy op sy unieke manier vir ons leer hoe om die feestyd te benader. Kom sny saam koek en vier ons 10 jaar van wonderlike kosstories. Daar is nog baie om te vertel ...

Tot later.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa