Sarie Kos

Fees-etiket met Nataniël

Hy het meer talente as kostuums in sy kas: sanger, sakeman, storievert­eller en kosfoendi, soos ons hom nou weer in die kykNET-reeks Edik van Nantes 3 sien. Voeg daarby etiketkenn­er, want sosiale geskiedeni­s fassineer hom. Met SARIE KOS se 10de verjaardag

-

ETIKET SE ADELLIKE OORSPRONG

Dit het alles by die Sonkoning begin, by die bou van sy fabelagtig­e paleis, Versailles, vertel Nataniël. “Hy wou gesag afdwing – en ook sommer almal van sy grasperk afhou! Reëls is in boekies gebind en boonop op bordjies in die tuin aangebring. Net ná die revolusie het die middelklas die reëls begin volg, om hul eie belangrikh­eid te beklemtoon. Etiket, die ou, streng vorm, het ’n hoogtepunt bereik in die vyftigerja­re, toe hare, rokke en slaaie alles kliphard gestol is. In die sestigerja­re het dit totaal verval en eers weer ’n aanhang gevind in die era toe Kommunisme, diktatorsk­ap en onderdrukk­ing in baie lande tot ’n einde gekom het. Deesdae praat ons van ‘sosiale riglyne’ en nie ‘reëls’ nie. Etiket het meer as ooit ’n plek, die chaos in die wêreld laat mense verlang na orde en hoflikheid,” reken hy. >

“Dis moeilike tye, als is duur. Kan jy familie/vriende nooi vir ’n Kersete, ’n spyskaart opstel en elkeen ’n resep

gee om te maak?”

NATANIËL

“Ek gril my dood, maar jy kan. Etiket is gebaseer op drie dinge: respek, gemak en logika. Binne ’n vriendekri­ng/familie behoort kommunikas­ie goed en gemaklik genoeg te wees om saam te besluit hóé ’n geleenthei­d aangepak gaan word. Dit verskil van familie tot familie, elkeen het sy eie kultuur of band. Ek verkies om alles self te doen; ek hou daarvan om elke detail van ’n groot geleenthei­d self te reël. Ander hou daarvan om as groep te werk. Kies die pad wat die minste wrywing gaan veroorsaak.”

“Ek word genooi vir ’n aansit-ete,

wat trek ek aan? Is my glitter en tiara oukei? En ’n mooi sweetpak en Crocs vir braaivleis?”

NATANIËL

“Dis heerlik om in jou privaathei­d rond te sluip in afgryslike los gewade, stokou hemde of die

duiwel se skoene. Maar wanneer jy in geselskap is, is jy in jou beste klere, formeel of informeel. Blink goed is pret en deesdae deel van dagdrag, maar hopelik deur ’n goeie ontwerper op die regte manier gebruik. Aanddrag kan nie by ’n ander geleenthei­d diens doen nie. Formeel beteken ook nie noodwendig aanddrag nie. Dit word aangedui deur die internasio­nale term black tie (mans in pakke, vroue in kort of lang rokke), of white tie (mans in manelpakke, vroue in lang aandrokke). Die tiara: Met die uitsonderi­ng van die enkele lewende adellikes op aarde, verskyn jy nooit aan tafel met iets op jou kop nie, jy is nie ’n posbus nie. ’n Hoed is toelaatbaa­r by ’n dagfunksie in die buitelug.”

“My millenniër-kind en

haar vriende glo almal betaal vir hom/haarself en almal kuier lekker saam. Want ons het almal ewe min geld. Ek glo dis nie etiket nie.

As jy mense nooi, betaal jy.”

NATANIËL

“Dit hang af. Daar is die geleenthei­d wat almal saam aanbied, waar vooraf op ’n bedrag besluit word en almal dra by. En daar is die geleenthei­d met ’n gasheer of gasvrou wat dan vir als betaal. Ek gee nie om watse neigings daar is nie, as jy dié twee situasies meng of verwar, is daar altyd moeilikhei­d. Ek hoor daagliks van mense wat óf woedend is omdat hulle moet betaal en dan nog geskenke ook moet bring, óf omdat niemand iets bygedra het nie. Watter besluit ook al in ’n familie of intieme vriendekri­ng geneem word, is goed. Dis die kommunikas­ie vooraf wat kortkom.”

“Bring ’n geskenk, dan gooi ons dit op ’n hoop en trek lootjies. Ál meer mense doen dit só. Nou doen ek oneindig moeite, maar kry altyd die lamlendigs­te geskenk.

Wat beveel jy aan?”

NATANIËL

“Ek was jare gelede by ’n geleenthei­d waar so iets probeer is. Ek vermoed dit het sonder ’n oorlog geëindig net omdat almal stormdronk was. Dis twak en ’n mors van geld. Min mense het werklik verbeeldin­g, of doen moeite om aan iets te dink wat almal kan gebruik. Vir my is die lekkerste deel van geskenke gee die soektog en beplanning vooraf, maar ek het al geleer dis nie vir almal ’n plesier nie. As jy wel die R100- of R200-roete wil stap, laat almal die bedrag in ’n houer plaas en skenk dit aan liefdadigh­eid. Of los (anoniem) voor die deur van ’n huis waar daar probleme is.” >

Geluk SARIE KOS met jul 10de verjaardag!

NATANIËL

“Is daar nog plek vir ’n gedekte tafel met al die trimmings en dinge?”

NATANIËL

“Dek die tafel soos jy dink is goed. Leef jou drome uit. En as jy klaar is, haal minstens twee goed weer af. Die oordadige tafel is lankal verby. Ons het asem nodig, gaste moet ontspan en die geselskap geniet. Daar word nog nagmerries op TV en in tydskrifte gesien, want ’n eenvoudige­r tafel fotografee­r net nie mooi nie. En dan is daar troues met tafels wat lyk asof almal op aarde se besittings daarop uitgepak is, maar daai oorlog gaan ons nooit wen nie, die stomme bruid droom al van kleins af. ’n Tafel het net die volgende nodig: ’n baie mooi, verkieslik wit en lang tafeldoek, eetgerei, glase, kerse, iets vars soos blomme of kruie, iets persoonlik­s en iets onverwags. En jy’s klaar.”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa