Sarie Kos

Kopstukke met J’Something

Hy is ewe gemaklik op die verhoog as in die kombuis. J’Something is hoofsanger van die musiekgroe­p Mi Casa, baas van ’n nuwe restaurant en boonop ’n beoordelaa­r in die M-Net-program My Kitchen Rules South Africa. SARIE KOS het gaan kyk wat hom laat kook

- deur LIANI JANSEN VAN RENSBURG foto DONOVAN THORNE

Jy is 28 jaar gelede as Joao da Fonseca in die Algarve in Portugal gebore en het in die Oos-Kaap grootgewor­d. Jy het op Stellenbos­ch studeer en jou loopbaan as musiekmake­r in Johannesbu­rg begin. Wie het jou geïnspiree­r om te kook? My ma, Lisa. Sy het ’n restaurant op Port Alfred gehad en haar kos was eenvoudig en propvol geur. Sy het my geleer as jou hart nie in die kos is nie, sal mense dit beslis proe. Dis ook belangrik om bestanddel­e te respekteer, van die nederige aartappel tot ’n pragtige filet.

Wat is die een gereg wat jy oor en oor kan eet? Pizza! Die een dag kan jy ’n eenvoudige regina of ’n vier-seisoene geniet, die volgende ’n vier-kaas of ’n seekos-pizza. Ek is so gek oor pizza dat ek tot die deeg vervolmaak het. Ek probeer om minstens een keer per maand ’n pizza-aand by my huis te hou, en ek maak self die pizzas. Vertel ons meer oor jou restaurant, Something’s Cooking by J’Something. My gesin het Suid-Afrika toe verhuis omdat my pa sy droomwerk by Sun Internatio­nal gekry het. Hy was 20 jaar lank in beheer van kos en drank by verskeie eiendomme van die groep. ’n Paar weke ná sy dood in 2016 het Sun Internatio­nal my gevra om ’n restaurant in die Time Square Casino in Menlyn, Pretoria, oop te maak. Op daardie oomblik het ek my pa rondom my ervaar. Ek kon nie anders as om ja te sê nie. Die kos by die restaurant is eerlik, eenvoudig en vol geur, resepte wat ek self ontwikkel het tydens my reise weg van die huis af. Dis ’n mengsel van Portugese, Suid-Afrikaanse en Japanse smake.

Hoe behou jy die balans tussen musiek en jou restaurant? Dit was een van my grootste uitdagings. Ek moes leer om ander mense te vertrou en te onthou dat ek die restaurant kon oopmaak danksy die geld wat ek met musiek gemaak het. Ek het gelukkig ’n ongeloofli­ke span, wat dit makliker maak om saam met Mi Casa weg te gaan vir ’n musiektoer. Maar daar is niks lekkerders as om my sjefjas aan te trek en te kook nie. Jy kan vir drie bekende mense kook. Wie sal dit wees en hoekom? Wyle Michael Jackson. Ek het danksy hom op musiek verlief geraak. Hy was die toonbeeld van ’n ware kunstenaar. Ek bewonder sy perfeksion­isme. Al was hy die beste, het hy steeds elke dag geoefen. Die Grammy-wenner Pharrell Williams. Hy is ’n musiekgeni­e en ook ’n gesinsman wat sy private lewe beskerm. Ek bewonder dit. My oorlede pa, Carlos. Ek weet hy is nie bekend nie, maar ek sou vir oulaas ’n maaltyd met hom wou deel. Daar is soveel goed wat ek hom wil vertel en soveel vrae wat ek hom wil vra. Elke kombuis moet die volgende bestanddel­e hê … ’n Goeie sjefsmes, olyfolie van goeie gehalte, Maldon-seesoutvlo­kkies, knoffel en ’n gietyster-pot of -pan.

Waarheen wil jy graag reis en hoekom? Japan, want ek is mal oor die koskultuur, veral ramen (noedels in ’n kragsop). Sodra die tyd dit toelaat, klim ek op die eerste vlug soontoe.

Wat sal jy nie eet nie?

Afval en pootjies.

Het jy enige geheime talente? Ek is ’n goeie sokkerspel­er, maar ek is so besig dat ek skaars tyd kry om te speel.

Wat is ’n tipiese weekaand-ete vir jou? Gebraaide vis met broccoli en baba-aartappels. Ek is ook mal oor alle Mexikaanse kos – dis maklik en gesond.

DAAR IS NIKS LEKKERDER AS OM MY SJEFJAS AAN TE TREK EN TE KOOK NIE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa