Van waar, piesangbrood?
Daar is min dinge wat so na “huis” ruik soos die geil geur van vars gebakte piesangbrood. Dit is veral lekker as dit warm uit die oond kom, in duimdik snye, met ’n koppie tee. Dit wat oorbly, is ewe lekker die volgende dag.
Elke koek en broodjie het ’n familie, van die plat heuning-versoete Antieke Egiptiese “koekbrood” tot die oordadigste Pinterest-skepping vandag. Piesangbrood is ’n taamlike jongeling in die koekfamilie. Dit het eers ontwikkel nadat koeksoda in die middel 1800’s ontdek is as rysmiddel vir gebak, en koelvervoer piesangs se rakleeftyd kon verleng sodat dit landwyd versprei kon word.
Ons voorgeslagte moes staatmaak op suurdeeg – die natuurlike soort, (nie dit wat ons deesdae in pakkies koop nie) – om gebak te laat rys. Later is lug ingeklop en ingevou met eiers om sponskoek te vorm, voordat potas (kaliumkarbonaat) en mettertyd koeksoda ontdek is as rysmiddel.
Hoewel piesangs reeds in die Kaapse Kompanjiestuine aangeplant is, bevat die oudste Suid-Afrikaanse kookboeke nie baie resepte met piesangs nie. Hildagonda Duckitt (1902) noem in haar kookboek dat piesangs skaars was, en in Augustus en September in seisoen is. Sy gee ’n resep vir piesangpoffertjies en ’n piesangpoeding aan en noem dat haar poedingresep ’n koloniale resep uit Indië was.
Piesangbrood het waarskynlik ontstaan in die vroeë 1900’s, toe huisvroue na vinnige resepte op soek was en voedselskaarste ná die Groot Depressie en Wêreldoorloë nie toegelaat het dat ’n krieseltjie kos vermors word nie, selfs nie eens pap piesangs nie.
My ma se piesangbrood was voortreflik gemaak met bruinerige pap piesangs en gewoonlik gegeur met ’n leksel vanieljegeursel. ’n Hele aantal verleidelike variasies het intussen ontwikkel, byvoorbeeld met neute, gedroogde vrugte, soutkaramel en graansoorte soos hawermout – iets vir selfs die kieskeurigste smaak.