Hermansê
Mense vra my gereeld hoekom ek so baie oor die platteland praat, en oor my grootwordjare daar. Die waarheid is dat alles wat jy eendag word, gevorm word deur die dinge wat jy in jou kinderhuis ervaar.
Die platteland is diep in my hart geëts, en elke keer as ek daar is vir ’ n fees, ’ n boekgesprek of ’ n gesellige kuier, besef ek opnuut waarom ek so lief is daarvoor.
Dis die ongemaskerde eerlikheid en oorgawe waarmee alles aangepak word. Dis die warmte waarmee jy verwelkom word en die vriendelike groet waarmee jy vertrek.
Toe ek klein was, was wintertye vir my die heel beste, want dan het ek geweet goeie kos wat heeldag al prut, wag vir my vanaand as die son sak. Vuurwarm lamsbredie wat saggies weggekook het tot ’n sagte moeserigheid en jou met elke happie wegvoer hemel toe. Tuisgebakte brood wat jy sonder vrees oorlaai met regte botter. Winter is om te weet daar is warm pannekoek en die belofte van ’ n groot pot warm soet tee (sommer met kondensmelk versoet!).
Dis al hierdie dinge wat ek jaar in en jaar uit in my hart dra. En dis met groot liefde vir die plattelandse tafel dat ek elkeen innooi en sê: Kom sit aan, die tafel is gedek, dit kreun onder die kos en nou gaan ons langsaam kuier en eet. Die lewe is mooi! Tot later.