Kosdinge: Spaar só
Met ’n paar blink planne kan jy 2019 sonder vrees aanpak, want jou beursie gaan voller wees en jou kos goedkoper! Hier is 6 nuttige wenke
KOOP BESTANDDELE IN SEISOEN
Die nommer-eenreël wat ons almal moet volg. Vrugte en groente in seisoen smaak nie net beter nie, dis ook meer bekostigbaar. En dis goed vir ons planeet, want groente wat buite seisoen beskikbaar is, kom gewoonlik van ver af, wat ’n yslike koolstofvoetspoor tot gevolg kan hê.
DOEN DIE WERK SELF
Leer ken jou bestanddele en verwerk dit eerder self as om reeds verwerkte bestanddele te koop. Hoenderporsies gaan bv. meer kos as die heel hoender, want iemand het daardie hoender verwerk, verpak en vervoer. Hoe minder prosesse by bestanddele betrokke is, hoe goedkoper is dit.
VERMY DIE VERPAKKING
Het jy geweet daardie plastiekof ander soort houer waarin baie produkte verpak word, sorg vir ’n reusedeel van die prys? Kies dus eerder produkte wat jy self weeg en in ’n sakkie pak. Nie net kan jy die beste uitsoek nie, maar jy hoef nie vir die peperduur verpakking te betaal nie.
MINDER BELASTING
Hoor net hier: By Investec kan jy ’n bankrekening oopmaak waar jy geen belasting op jou belegging betaal nie! Al wat jy moet doen, is om vir 12 maande ’n minimum-bedrag van R30 000 in ’n vastedepositorekening te belê – jy kan wel 32 werkdae kennis gee as jy dit vroeër wil onttrek. Besoek www.investec.com vir meer. Gebruik die geld wat jy op belasting spaar om daai droomkombuis te help bou!
REGTE TYD VIR INKOPIES
Raar maar waar: Die tyd wat jy kies om die winkels in te vaar speel ’n groot rol in jou aankope. Verskeie studies het bv. al aangetoon as jy honger winkel toe gaan, is jy meer geneig is om goed te koop wat jy nie noodwendig nodig het nie.
BEPLAN JOU SPYSKAART
My ma het my al vroeg geleer die beste geldspaartegniek is om te beplan. Sit een maal per week met jou gesin en bespreek die spyskaart. Kies resepte bv. bolognese wat jou nie net tyd spaar nie, maar wat jy ook vir meer as een maaltyd kan eet. Kyk wat is in seisoen en bestudeer die winskopiepamflette. Dis wanneer ons impulsief koop dat ons geriefsgoedere kies wat duurder kos.