Kos vol liefde
In Vredendal se wêreld maak hulle kos wanneer hulle lag en kuier en huil en troos. Met liefde, met passie, sê Ronell van Zyl. Dié energieke vrou met die groot hart glo ’n tafel moet kreun onder die kos. Niks kom uit ’n pakkie nie. En jy moet so lekker smu
Moet nooit ’n maer kok vertrou nie. Ek sê dit altyd as iemand my kos komplimenteer. Dit val lekker op my tong, want ek is gróót.
Kos is nie net sintuiglik nie, jou emosies speel ook ’n rol. Vroumense is mos altyd op dieet, dan is jy nie verlief op kos nie. Jy maak die lekkerste kos as jy nie dieet nie. Die heel lekkerste as jy gelukkig is.
As jy sê my kos is lekker, wil ek vertel hoe ek dit gemaak het. En jy kry sommer die resep én padkos. Ek raak mos van my kop af, die adrenalien pomp as ek oor kos praat. Kos moet jou begeester, dán kook jy lekker.
As mense my sien, dink hulle kos. Op 23 het ek en Petrus {haar oorlede man} Penny’s Kitchen, ’n klein restaurantjie, op Vredendal gekoop. Later het ons Paiter’s Grill begin, Petrus se bynaam in sy weermag-dae. ’n Regte steakhouse, waar ek 25 jaar met passie vir baie mense lekker kos gemaak het. Deesdae is ek betrokke by ’n agttienslaapkamer-gastehuis, Tharrakamma, op die dorp.
Vredendal is nie ’n plek met sy eie kultuur nie, want dis ten nouste gekoppel aan die omgewing. Dis ’n “nuwe” dorp, al die invloede kom van buite, die mense wat inkom se
geure en manier van dinge doen. Die Olifantsrivier wat van Citrusdal met sy sitrusboorde kronkel, deur Clanwilliam met sy rooibos, verby Vredendal se wingerde tot waar dit in die koue Weskus-waters naby Papendorp uitmond: Dít bepaal die pas waarteen die hele distrik leef.
Die dorp lê na genoeg aan die Weskus om ons ryk seekos te oes. Soos die “rooi spinnekoppe” (kreef) en bokwaens (snoek). Neffens Vredendal lê die Sandveld, die grootste produsent van aartappels in die Wes-Kaap. En in die rigting van Nieuwoudtville tot by Calvinia, wei die Karoo-lammers.
Ons oumas het heerlike huisbredies gekook met gekapte vleis, groenbone of groenpampoen. Bruingebraaide vleis met ’n paar skaapstertjies – met net aartappels, uie, sout en peper daarby. Die soetkos klein, blink, glaserige soetpatats. Net so eenvoudig en eerlik soos hul daaglikse bestaan in die groen vallei waar die somertemperature jou van skaduwee tot skaduwee jaag.
Vandag hou ons steeds van die kos waarmee ons ma’s en oumas grootgeword het. Lamsboud met bruin aartappels en wortels, tamatie-en-uislaai, sousbone, roosterkoeke, potbrode in blikkies, gebraaide soutribbetjie.
Ons ma’s het ’n bietjie waaghalsiger geraak, die resepte het meer speserye en hier en daar selfs ’n krui bygekry. Ek eksperimenteer al lank met los kruie en speserye.
Kerrie maak ek van meet af. In my kerrieblik is die basis vir die meeste kerries: garam, borrie, droë en fyn rissies, vinkelsaad, komyn en sagte peperkorreltjies. En kardemom, ster- anys, swart en bruin mosterdsaad, masala vir kerrievis, kassia, fyn en heel kaneel, heel neut ... En altyd kerrieblare in die vrieskas. In my kombuis is ook altyd vars gemmer. Ek is mal oor die geur en gooi dit by soetpatats, drink dit in water ... net omdat dit lekker smaak.
Goed wat jy nooit in my huis sal kry nie: suurlemoensap in ’n bottel en emmertjie-knoffel, knoffel wat klaar gekap is. Dit laat ’n bitter smaak in jou mond. My kop sê jy eet knoffel wat fyngerasper is, met ’n parmesaanrasper, of knoffelperser. Dis dan pap en die geur kom na vore. Dit smaak lekkerder en laat jou nie siek voel nie.
Jy kan nie opgesmuk, grênd wees en pretensies hê as jy kosmaak nie. Jy moet lief wees vir mense, dit met liefde doen. Al wat ek eintlik wil hoor: Dis lekker! Dít kan my aan die gang hou deur die lewe. >