Gawes uit die Sand
Rina Theron is lief vir die Sandveld, sy mense, sy stories ... en bowenal sy kos. Dis soos jou ma se kos, jou ouma s’n. En dit laat jou mond kwyl, man!
Sy
het 42 jaar gelede as “inkommer” op Leipoldtville in die Sandveld, Wes-Kaap, nesgeskop. En Rina Theron, oorspronklik van Knysna se wêreld, het gesmag na ’n stukkie groen. Dit was ’n droë jaar. En die volgende jaar óók.
“Kyk, nooientjie, die Sandveld werk só,” het oom JanFrans Visser een oggend voor kerk gesê. “Eers wil jy net hier wegkom, maar die sand hou jou vas. Hoe meer jy spartel en spook, hoe vaster val jy vas. En later, as jy kán wegkom, dan wil jy nie meer nie.”
Nét so. Ná haar man, Marius, se dood in ’n motorfietsongeluk in 1996, het sy gebly. “Ek kon nie padgee nie.” Inteendeel, dié boer se vrou het boervrou geword. Aanvanklik met brahmane en aartappels, later jare dorpers. “Die mansmense het weddenskappe aangegaan hoe lank ek gaan oorleef. Toe ek dit hoor, het ek besluit ek gaan hulle wys.”
En sy hét. Sy was onder andere die eerste vroue-direkteur van Boland Agri (nou Kaap Agri); eerste geregistreerde vroue-aartappelmoer-kweker in die Sandveld; en eerste vrou wat voorsitter was van die Leipoldtvilleboerevereniging. In 2000 topprodusent vir nasionale markte in die Vroueboer van die Jaar-kompetisie (aangebied deur die Departement van Landbou).
Sy woon steeds op die plaas, Aan het Berg, maar verhuur die boerdery sedert 2017. Van die ou opstal met sy kleimure en rietdak waar sy as jong meisie op die yslike houtstoof gekook het, is nog net ’n skildery oor. Die gewels het uitmekaar begin trek. Maar haar groentetuin, dís steeds haar trots. Vlak in die sewentig, begin die spittery haar onderkry en sy kry hulp daarmee. “Dis lekker om iets te hê wat jy kan oes, waarna jy kan kýk. Eenmaal ’n boer ...”
Destyds, as jong getroude, het sy haar man gevra: “Asseblief, ploeg ’n stukkie grond om die huis, breed genoeg dat ek tuin kan maak.” Dit was rou aarde, vol perdegras. Hy’t dit met die trekkertjie omgeploeg en met hakiesdraad toegespan. Al die foute wat ’n tuinier kan maak, het sy daar gemaak. Só het sy geleer. En sy leer stééds. As groot groente-eter het sy ná ’n besoek aan China vroeër vanjaar ’n bamboesstomer gekoop. “Ek is versot op die manier waarop hulle kook, elke groente se individuele smaak bly behoue.”
Rina het Yantai, China, besoek om ’n toekenning te ontvang vir haar boek, Sandveldkos: Kosnostalgie en
stories van gister* (selfgepubliseer). Dit was die Gourmand World Cookbook-toekennings se Afrika-wenner in die kontreikos-kategorie. En sommer die geleentheid gebruik om saam met haar dogter, Laetitia, meer van China te sien.
Sandveldkos is ook verlede jaar as beste selfgepubliseerde boek aangewys in die koskategorie van die SA Independent Publishers-toekennings.
Met die boek kon sy haar passie vir geskiedenis en kos kombineer. “Ek wou die unieke leefwyse van die Sandveld se mense vir die nageslag bewaar. Die heerboontjie word byvoorbeeld net in die Sandveld verbou. Dis veelsydig, jy kan dit inspan as voorgereg of slaai, of warm bedien as bykos. Ons SuidAfrikaners onderskat boontjies oor die algemeen. Ons is geneig om daaraan te dink as sop in die winter. Of iets wat ander mense eet. Die Chinese eet gaar rooibone saam met geelmieliepitte vir ontbyt. En meng gaar, gekleurde boontjies vir slaai, mooi én lekker.” Eenvoudige, voedsame kos, nes die Sandveld s’n.
Die Sandveld se grond is soos op geen ander plek nie, wit en sanderig. “Die aartappels is daarom spierwit, met geen merke op die skil en vergroeiings nie. Die grond is sonder kluite en bied nie weerstand as die aartappel gevorm word nie, ’n perfekte ovaal.” >
“Haar aartappel suurdeegbrood ruik soos my ouma se kombuis. Die soet geur van die suurdeeg vul jou mond en agterna bly die sagte geur van roosmaryn en growwe sout agter van die sop wat Rina voorgesit het. Dit proe soos nog” Herman