Donkersjokola de-éclairs
(bl. 20) Ek het sulke éclairs die eerste keer in Parys geëet en ek wou dit nog altyd deel met die SARIE-lesers. genoeg vir 18-20
• 500 ml water • 200 g (220 ml) botter • 10 ml sout • 280 g (500 ml) koekmeel • 8 eiers
VULSEL • 3 groot eierwitte • 145 g (170 ml) strooisuiker • 30 ml glukosepoeier (kyk by apteek) • 5 ml vanieljegeursel • 200 g donkersjokolade, gesmelt, plus ekstra vir oorskep
Verhit oond tot 180 °C. Plaas water en botter in ’n middelslag-pot. Bring tot kookpunt met deksel op. Voeg sout en al die meel op een slag by en roer met ’n houtlepel tot dit verdik en sagte deeg vorm. Hou op hitte en roer nog 3 minute. Skep deeg uit pot en laat sowat 10 minute lank afkoel. Voeg eiers een-een by en klop met houtlepel ná elke byvoeging. Skep deeg in spuitsak met 1 cm-stertuit. Voer bakplaat met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Spuit 10 cm lange worsies op papier. Sny worsies af by tuit met mes. Bak 35-40 minute of tot goudbruin. Laat afkoel. Vulsel Plaas eierwitte, suiker, glukosestroop en vanielje in ’n bak wat op ’n pot sal pas – die pot moet ’n bietjie water inhê wat prut, maar die bak moenie aan die water raak nie. Klits met elektriese handklitser tot mengsel dik raak en stywe punte vorm. Haal bak af van pot en hou aan klits tot mengsel koud is. Vou sjokolade in. Skep mengsel in spuitsak en vul éclairs met mengsel. Pak op opdienbord. Skep ekstra gesmelte sjokolade oor en sit voor.