Wat sê die ervare, ouer generasie?
WILSON DUNSTER, AKTEUR “Ek speel die rol van oom Fanie in die fliek, ’n kitaarspeler en die mentor vir die band. Dit was verrykend om saam met dié jong mense te werk. Corné [van Rooyen, regisseur] is my seun se ouderdom, maar ons het mekaar dadelik verstaan. Ek dink hulle gaan almal nog groot name in die bedryf word. Stiaan het ’n briljante draaiboek geskryf, almal is talentvol en hulle ken hul storie – en dit wat hulle nié ken nie, is hulle bereid om te leer. Dit was ook vir my wonderlik om te sien hoe goed almal oor die weg gekom het, en hoe toegewyd hulle aan die projek was. Dit maak my opgewonde oor die toekoms van Afrikaanse rolprente.”
DANIE BESTER, VERVAARDIGER “Stiaan se kortfilm Beurtkrag was een van die bestes wat ek in ’n lang tyd gesien het. Toe hulle my dus vra om as vervaardiger aan Sy klink soos Lente te werk, wou ek dit graag doen. Boonop was ek mal oor Hollywood in my huis, waarvan Corné ook die regie gedoen het. Ek het ook lankal Bouwer se bemarkingsvernuf op sosiale media raakgesien. Met só ’n talentvolle groep mense het ek gedink ek kan as mentor optree as dit kom by finansiële en tegniese aspekte, dinge wat jy uit ervaring leer.
“Ek was egter verras oor alles wat ons álmal by mekaar kon leer. Een van die belangrikste dinge wat jy vir ’n groep jonger mense in enige bedryf kan leer, is om kalm te bly. Met ’n projek gaan daar probleme opduik, en mense gaan foute maak, maar as jy emosioneel raak, stuur jy af op ’n ramp. En hulle het my weer herinner watter voorreg dit is om rolprente te maak en stories te vertel. Hul opgewondenheid en die genot wat hulle uit die proses gekry het, het my geïnspireer. Hulle is ook dapper en bereid om kanse te waag, wat verfrissend is.”
Sywas een van dáái dogtertjies by die kleuresport – die een met die bokstert en gespierde beentjies wat los voor die ander kinders oor die wenstreep hol.
Wenda Nel, vandag ’n voorste SA atleet, lag en vou effens verleë ’n blonde sliert agter haar een oor in. Vandat sy kan onthou, het sy aan atletiek deelgeneem. En toe die meneer haar destyds aan hekkies bekend stel, was daar geen keer aan haar nie. Sy’t haar passie ontdek.
Wenda gesels oor ’n cappuccino tydens die SA senior kampioenskapsbyeenkoms op Stellenbosch, op die oog af heeltemal ontspanne, min gepla deur die media se verwagtinge van haar. Een koerantberig het haar selfs bestempel as “a time bomb waiting to explode”.
Op Coetzenburg het sy weer los onder haar teenstanders uitgehardloop. Anneri Ebersohn, wat tweede gekom het, het ná die 400 m-hekkieswedloop geskerts: “Toe Wenda oor die wenstreep gaan, was ek nog besig met die laaste hekkie!”
Sedert 2010 het Wenda nie haar gelyke in SA nie. In ses jaar is sy nog net drie keer geklop. Verlede jaar het sy haar beste tyd – 54.37 sek. – opgestel, die derde vinnigste deur ’n SuidAfrikaner. Net rekordhouer Myrtle Bothma en Surita Febbraio was al vinniger.
Vir Wenda was hierdie eerste hekkiewedloop op Stellenbosch ’n belangrike ysbreker vir die begin van die seisoen. “In my kop het ek ’n syfer wat ek wou bereik . . . en ek het.”
Nou wag die internasionale byeenkomste, deel van haar opbou na die Olimpiese Spele in Rio: soos die Diamantliga-reeks in Mei in Doha (Katar) en Rabat (Marokko) en in Junie in Rome. Met die ter perse gaan was ander byeenkomste nog nie bekend.
Die afgelope drie jaar al werk sy met een doel voor oë: Rio 2016. Langs die pad was daar baie “affe saam met die oppe”. In 2014 is sy op ’n tegniese punt by die Statebondspele in Skotland gediskwalifiseer (terwyl sy as ’n medalje-aanspraakmaker beskou is), maar twee weke later het sy goud by die Afrika-kampioenskap in Marrakesj, Marokko, gewen. Haar afrigter het begin verlede jaar onverwags ’n kontrak in Saoedi-arabië aanvaar, en sy moes aanpas by ’n nuwe afrigter. >