Sarie

Jy kan nie toelaat dat die pyn, smart jou onderkry nie. Die lewe bied nog so baie

- Teresa

< vind. Sy was die eerste plaaslike Wonderbra-model en verskeie kere op die voorblad van SA Sports Illustrate­d se swembroek-uitgawe. Een spesifieke maand was sy tegelykert­yd op die voorblaaie van vyf plaaslike glanstydsk­rifte.

Dat die stroom haar nie meegesleur het nie, skryf sy toe aan haar wortels. “Dis mos ’n Afrikaanse ding, ’n sterkte . . . byna oorerflik, asof dit in jou gene is. ’n Gevoel van veiligheid, van behoort.”

Aan die einde van die negentigs het haar prins haar opgeraap: Die Duitse bankier, Steffen Klein. Hy het in Londen gewerk en hul kinders is ook daar gebore. Leya is op 14 reeds ’n lang, blonde skoonheid, nes haar ma. En Lenny dring op 12 aan op sy regte naam, Lennon. Hy wil eendag basketbal speel en dit lyk darem net beter op ’n ou se rug.

Die gesin se pad het van Londen na München en toe Kaapstad geloop. Dis hier waar Steffen sy stryd teen kanker geveg het. En al het kanker gewen, benadruk Teresa, sy gees was tot op die einde geweldig sterk.

Dis ’n grou, koue oggend toe ons by Teresa se huis in Kampsbaai ontmoet. Waar sy sit, word sy omraam deur ’n groot venster, met troebel lug en see agter haar. Hulle het die huis twee jaar gelede gekoop en Steffen het dit self opgeknap. Dit was sy trots, iets wat hy met sy eie hande kon doen. Want ’n bankier speel met idees en vooruitsig­te, hierdie kon hy sien vorm aanneem, vóél. In die kanker se greep, het hy so ontlaai. Hy het alles daarin gestort vir sy gesin – stééds hul veilige hawe.

“Steffen was sterk, doelgerig, voete op die aarde, gemaklik in sy vel. Anders as ek, wat meer airy fairy, kop in die wolke is. ’n Jintelman uit ’n goeie Beierse familie; tot met ons ontmoeting die ewige vrygesel. Hy het daai dag glo sy ma gebel en gesê: ‘Ma, my vrou het nou net by die deur ingestap.’ Ek het dit veel later gehoor, ons was langer as ’n jaar net vriende.”

Leya is gebore, toe Lenny. Teresa het soms modelwerk gedoen, maar eintlik wou sy net by haar kinders wees. Steffen se program was druk, stresvol. In 2008 het hulle Duitsland toe verhuis, altyd sy droom. Sy kinders moes dieselfde sorgelose jeugjare as hy hê. Die twee jaar in München het Teresa vlot Duits leer praat, iets waarin sy op skool maar vrotterig was. Daar is mooi herinnerin­ge van lekker eet, bergklim, ontspan in die natuur.

Steffen het reeds in Londen gedurig hoofpyn gehad en in Duitsland het dit meer dikwels gebeur. Dit sou hom van Maandag tot Vrydag ry, Saterdag sou hy soms heeldag slaap en Sondag dalk beter voel.

“Hy was dinamies en het sy werk geniet. Maar hy wou ook tyd hê om sy gesin te koester. Dus het ons in 2011 Kaapstad toe verhuis. Ons Duitse hovawart-honde, Indy (Indiana Jones) en Sunny ook saam.

“Daardie selfde jaar was ons op ’n ongeloofli­ke motorfiets-rit Amerika toe. Hy vyf weke en ek twee weke saam met sy Harley- gang. Die tekens van die kwaadaardi­ge breingewas was egter reeds daar. Hy was soms rigting-verward en ’n bietjie deurmekaar.

“Steffen het in September 2011 vir ’n MRIskander­ing gegaan – die dag dat ons lewe verander het. Dit was ’n groeisel met tentakels wat net verder wou versprei. Maar dit kon suksesvol verwyder word, dit was agter in die stiller deel van sy brein.” Chemo- en radioterap­ie het gevolg, waarna hulle in Duitsland gaan kuier het. Die lewe het normaal aangegaan. Twee jaar later was die gewas egter terug en in November 2013 is dit weer uitgesny. Haar man wat nooit eens verkoue gehad het nie, wou nou dae lank net niksdoen. Daar was die newe-effekte van die nuwe sarsie chemoterap­ie, hoofpyne. Legioensie­kte, ’n ernstige vorm van longontste­king, het hom by die dood laat omdraai.

Ook dit het hy getroef, met Indy sy getroue metgesel. Die lojale hond aanvaar nie “nee” as hy wil gaan loop nie. Steffen kon nouliks trappe klim, maar Indy het net aangehou: Kom jy?

“Sy positiwite­it, krag, dis wat ek uit sy ervaring wil put. Hy was so trots, hy wou nie vir sy kinders wys hy het seer nie. Selfs die nuus, ‘ek is siek’, het hy verwater. Want kyk, ek is nog jul pappie. Nie ’n oomblik het hy vir homself jammer gevoel, wou hy iemand se jammerte hê nie.

“Hy het in hierdie tyd baie vreugde uit sy gholf en gholfvrien­de geput. Die spel se reëls as riglyne vir sy lewe gebruik, dit het hom doelgerig gehou. Sy vriende het hom teen die einde gereeld saam gholfbaan toe gevat.

“En ja, ook ek was sterk, jy vergeet hoe sterk jy is. Kanker gooi gedurig vir jou ’n draaibal. Jy dink julle is op die regte pad en dan is daar nuus . . . gewoonlik slegte nuus. Daar was oomblikke wat jy net kon vashou aan jou positiwite­it . . . hoop, wanneer dit al is wat jou aan die gang hou.”

In Desember 2014, ná nog ’n sarsie chemoterap­ie, het die dokter aangekondi­g die gewas groei weer. As Steffen fisiek

sterk genoeg was, moet hy sy ouers in Duitsland gaan groet. Afskeid gaan neem. Dit het hulle gedoen, die laaste keer dat hy Leonhardt, sy pa, sou sien.

In Junie verlede jaar, afgetakel deur die chemo, kon hy nie meer “dinge bymekaarho­u” nie. Dit het hom vergiftig, sy organe aangetas. Hulle het sáám besluit: Dis die einde van die pad.

“Die pyn en lyding raak te veel en jy vra jouself later af: Vir wie doen jy die guns? Nie vir jouself nie, nie vir jou gesin wat sien hoe jy swaarkry nie, so ja . . .

“Hy kon net met ons hulp die trappe na die slaapkamer open afklim. Ons groot hemelbed kry dus plek in die leefvertre­k se hoek. Sy ma, Gertraude, kom in September die eerste keer hier kuier. My ma, René, het van Johannesbu­rg gekom en ons ondersteun, gedra. Sy is my grootste inspirasie, my rots.” Steffen is daardie Oktober oorlede. Hy was 53. “Dit was ’n groot samesyn, ’n kuier, byna, hier aan die einde. Vriende en familie sou kom en gaan, ons deur was oop. Sy ma het gesels en Duitse kossies gemaak. Dit het egter moeiliker geraak. Hy was later sensitief vir geraas, het maklik geskrik. Kon nie meer kop of stert uitmaak wie daar is, of nie. Maar hy het nooit moed opgegee nie. Hy het sy humorsin behou, selfs toe hy verboueree­rd begin raak het. Daar was ook ligter oomblikke, ons het baie gelag.

“Die laaste dag of wat het dit stiller geraak, ek het gesê die kuiery is nou verby. Die nag het sy verpleegst­er ons wakker gemaak, gesê Steffen het net ’n paar uur oor. Ons was saam met hom, ek, my ma, Indy bo-op almal. Daar op ons hemelbed in die hoek. My ma het gebid. Syne was reeds huis toe.” Sy as is in ’n gunsteling-hoekie in Kampsbaai gestrooi. Teresa se pa, Ewald, sterf skaars twee weke later. Haar ouers is jare gelede geskei en hy was in die versorging­seenheid van ’n Kaapstadse tehuis vir bejaardes. Dit was nie onverwags nie, hy was baie siek weens ’n hartkwaal. En sy moes haar tyd verdeel tussen die “twee mans in my lewe”, Steffen en haar pa. “Ja, ek en my pa was na aan mekaar. Ek het die vrye gees, die onafhankli­kheid wat hy in homself gekoester het, verpersoon­lik.”

Dus ’n dubbele rouproses, haar man, haar pa. En rou kies sy eie tyd en pad. “Ek sou dink ek het ’n punt bereik waar ek weer op ander goed, soos my administra­sie, kan fokus. Net om te besef, nee, jy moet nog tyd saam met jou gevoelens deurbring, die vrese, angste, onsekerhed­e. Twee mense wat belangrike rolle in jou lewe gehad het, is skielik nie meer daar nie. Waaruit put jy nou jou krag, met wie praat jy, vra jy raad? Waar vind jy rustigheid?

“En die kinders . . . hulle lees my emosies en dit bepaal hulle s’n. Is ek ontsteld, of gelukkig? Die verlies van hul pa het ’n nuwe realiteit vir hulle geskep. My skoonsus, Daleen de Klerk, het aan hulle verduideli­k: ‘Hoe hard jul ma ook al probeer om albei rolle te vervul, streng soos Pa en lief soos Ma . . . Sy kan net maar Ma wees. En Pa sal altyd Pa bly, altyd saam met julle, in jul harte.’

“Dis moeilik vir ons. Maar hulle is goeie kinders, hul voete op die grond. En só beweeg ons vorentoe: As ons oor ons hartseer wil praat, is dit goed so. Jy moet daai seerkry voel. Maar môre, môre moet jy weer kan opstaan. Jy kan nie toelaat dat die pyn en smart jou onderkry nie. Want die lewe bied nog so baie.”

Reeds meer as anderhalf jaar is verby en sy het meer perspektie­f. Planne vir haarself en die kinders. Soms wil sy soos ’n atleet uit die blokke wegspring. Maar sy besef sy moet sagkens met haarself werk, goed wees vir haarself.

Die modelwêrel­d gaan alles oor die young and beautiful, sê sy. Tog is sy steeds in aanvraag, daar is plek vir ouer modelle. Gemaklik in hul vel, oor vrouwees, ma-wees. Sy stel eintlik meer belang in wat aan die ander kant van die kamera gebeur, watse lens gebruik die fotograaf, die beligting. En wie weet, dalk begin sy en haar goeie vriendin, oudmodel Bernice Dodd en nou grimeerkun­stenaar, nog ’n besigheid.

En ja, dis nie maklik om so ’n intiem persoonlik­e ervaring te deel nie, maar dit kom “uit my hart”. “Ek het daaroor gedink, aan die woord inspirasie. Hoe kan jy deur so ’n ervaring ander inspireer? Dalk deur ’n boodskap aan mense in dieselfde bootjie: Daar is altyd lig anderkant, altyd hoop. En die vashou daaraan, dit is al wat jy op die oomblik het.”

• Nadia se top Suzaan Heyns, broek H&M • Alma se maasstofto­p JJ Schoeman, blinkertop stilis se eie, romp David Tlale • Nicola se rok Suzaan Heyns, romp The Space • Valensia se rok Thula Sindi, halssnoer stilis se eie • Bianca se maasstofto­p JJ Schoeman, rok Thula Sindi • Ulandie se rok Suzaan Heyns, serp stilis se eie • Tamsyn se top David Tlale, romp Suzaan Heyns, belt The Space, armband stilis se eie • Sarah se bloes H&M, romp Suzaan Heyns, belt The Space • Nicole se rok David Tlale, romp Wizards Vintage • Elmaré se rok JJ Schoeman, halssnoer The Space

Sterre teen die muur Hadeda

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa