Sarie

OP DIE VROU AF

-

Dis nie soos jy jou die eerste Saterdag van die lente voorgestel het nie, maar hier bevind jy jou in die tuin met jou kop hoog in die takke. Onder instruksie. “Knip daai takkie af. Nee, nie daai een nie, dáái een. Links, nee, nóg links. Bokant die uitloopsel!”

Omdat sy die linkerkant­se takkie nie kan bykom nie. Sy weet presies watter takkies waar geknip moet word en watter nie. Dan weer regs. Dis om van deurmekaar te raak en jy voel dit maak inbreuk op jou vrye tyd. Buitendien: “Die rugby gaan nou-nou begin!” “Toemaar, jy kan dit pause . . .” Dis nie soos rugby werk nie! wil jy sê. “Ons is nog nie klaar nie,” sê sy. “Ons gaan nou ’n boom plant.” Dis hoekom jy al die sakke kunsmis en beenmeel en alles wat die ou by die kwekery aan haar gesmous het uit die motor moes laai. Daardie sakke lyk klein, maar hulle is swaar. “Kan ons nie wag tot die tuinman weer hier is nie?” Sy kyk na jou en jy verstaan dadelik: Jy’s nou die tuinman. “Buitendien: Dis nie eens Nasionale Boomplantd­ag nie.” Asof dit nou rede is om nié ’n boom te plant nie . . .

Sy wys waar jy die gat moet grawe. Jy’s halfpad gespit en geswoeg, toe sê sy nee, sy dink die gat moet ’n bietjie meer na regs wees. Die tuin is vol amper-gate van vorige kere, dit lyk of daar molle was. Toemaar, maak maar net weer die grond gelyk, dit sal weer toegroei, sê sy. “Weet jy hoe hard is hierdie grond?!” “Moenie kla nie,” sê sy. “Dis so ’n mooi dag.” Perfek vir gate grou, ja. “Om ’n boom te plant is soos ’n nuwe lente en ’n nuwe geluid,” word sy meegevoer.

Ja, jy hoor al hoe groei hierdie boom soos ’n ritseling. Nou gaan sy seker vir hom gedigte lees om hom vinniger te laat groei. Jy het al gehoor hoe sy met plante praat. Sy noem hulle almal Ounooi, maak nie saak of dit ’n mannetjies­plant is nie. “Daai gat is nog nie diep genoeg nie,” sê sy. “As ek nog dieper spit, gaan jy die hele boom begrawe,” waarsku jy. “Daar moet nog kunsmis en beenmeel inkom. Werskaf dit so ’n bietjie deurmekaar. Nee, anderkant toe. Wag, laat ek dit eerder doen.” Nou vroetel sy aan die boom se wortels om dit ’n bietjie lug te gee en sit hom netjies in die middel van die gat. Jy moet die boom in die rondte draai. “Vir wat?” Bome het ’n voorkant en ’n agterkant, verduideli­k sy. Hû? Vir jou lyk alle bome rond, hoe sien mens waar’s voor en waar’s agter?

“Draai hom nog. Oukei, draai hom nou ’n bietjie terug, nie te veel nie! So ja. Gooi maar toe en trap vas. Ek sal hom water gee.” Klaar. Maar wie gaan nou al die gesnoeide takke optel en in sakke sit? Jy ken klaar die antwoord . . .

“Dis tog lekker om jou hande vuil te maak in die tuin, nè?” moedig sy jou aan. “Dan kan ons saam gaan stort. Wat sê jy?”

Jy tel die takke op en pause die rugby.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa