Oondgebakte juweelrys
UIT PROVENCE
Dis geurig, smaaklik en maklik. Verhit oond tot 200 °C. Plaas die rys in vergiettes en spoel onder koue lopende water tot water skoon loop. Plaas rys in skoon pot en bedek met kraanwater. Laat week vir 30 minute. Verhit helfte van botter in groot braaipan en braai uie, lemoenskil, wortels, knoffel, bosbessies en rosyntjies tot uie begin verbruin. Bring in ’n aparte pot 1,5 liter water en knippie sout tot kookpunt. Dreineer die geweekte rys en voeg in pot by kookwater. Kook vir 5 minute tot halfgaar. Dreineer en spoel af onder kookwater. Verhit res van botter in dieselfde pot waarin jy die rys gekook het. Skep laag halfgaar rys in pot. Sprinkel bietjie saffraan, kaneel, kardemom en vinkel oor. Skep nog ’n laag rys met ’n paar lepels van die uiemengsel bo-op. Herhaal tot al die groente, rys en speserye op is. Gooi lemoensap en aftreksel oor rys. Maak pot toe en bak vir 30 minute of tot rys gaar is. Plaas ring van losboom-koekpan op opdienbord en skep rys in ring. Druk rys stewig vas en verwyder ring. Sit voor saam met pistasieneute as bykos.
As daar één ding in Frankryk is wat my ná al die jare steeds onderkry, is dit die owerhede se obsessie met versekering. Op die oomblik is ek so onder dat ek dalk ’n misdadiger gaan word.
Ek betaal al jare lank versekering vir ’n motor wat niemand meer kan ry nie. Dis ’n tiendehandse krok wat my studenteseun gery het tot dit vir altyd gaan staan het. Dit sou beslis nie die streng “tegniese kontrole” slaag wat alle Franse motors elke twee jaar moet ondergaan nie, en dit sou meer kos om dit te laat herstel as om ’n ander krok te koop. Probleem is dit sou ook geld kos om dit na ’n skrootwerf te laat sleep – en as tipiese platsak student wou Daniel sy beperkte sente eerder bestee om by ’n meisie vlerk te sleep as om ’n kar iewers heen te laat sleep.
Dus staan die krok totaal onbruikbaar op ’n plaas naby sy universiteitstad Grenoble – maar toe ek die versekeringsmense laat weet dat ek die polis wil kanselleer, hoor ek dat ek moet aanhou betaal tot 1 Januarie wanneer die polis verjaar. Ek het dié tyding teen einde Januarie gekry – wat beteken ek moes nog elf maande lank 50 euro per maand betaal. Werk dit gerus in rande uit. Dis ’n onaardige bedrag, maand ná maand, vir ’n stuk rommel.
Toe ek in Desember bel om te versoek dat die polis op 1 Januarie gekanselleer word, word ek ingelig dat die maatskappy vir Daniel ’n brief sal stuur, ’n paar dae voor die polis verjaar, en indien hy nie daarop reageer nie, betaal ek vir nog ’n jaar se versekering. Reëls is reëls, Madame.
Maar hy is nie in die Kersvakansie by sy universiteitadres nie, protesteer ek. Dis die slegste tyd van die jaar om vir kliënte belangrike briewe te stuur! Die versekeringsvrou het my laat verstaan dis nie háár probleem nie en geweier om die brief na ons huisadres te stuur. Wat beteken Daniel moes oor die Kersdae na sy studentewoonstel reis om pos te gaan haal – maar ná ons al die voorskrifte gevolg het, sien ek in Januarie ek betaal stééds vir daardie polis.
Toe ek weer bel, gee ’n ander versekeringsvrou my ’n uiters belangrike brokkie inligting wat haar kollega elf maande gelede verswyg het. Al het ek geduldig tot die verjaardatum gewag, kan ek steeds nie die polis kanselleer indien ek nie ’n amptelike sertifikaat inhandig om te bewys dat die kar verkoop is of by ’n skrootwerf afgelewer is nie. Nou sou ek maar net tot 1 Januarie volgende jaar moes wag. Reëls is reëls, Madame.
Teen dié tyd het Daniel gedreig om ’n vriend te vra om die kar “per ongeluk” aan die brand te steek – “dan kry ons darem ’n bietjie van die geld terug wat Ma vir versekering betaal het!” – maar ek kon nie my kind aanmoedig om onwettig op te tree nie. (Al was die versoeking gróót.) Uit moedeloosheid het ek ’n verbruikersorganisasie gekontak, wat my ingelig het dat die wet onlangs verander is sodat mens wel ’n polis in die middel van die jaar kan kanselleer. Indien jy natuurlik ’n amptelike sertifikaat van ’n skrootwerf kry en dit per geregistreerde pos na die versekeringsmaatskappy stuur.
Ná nog ’n paar maande se gesukkel – want intussen het Daniel se plaasvriende die kar se sleutel verloor – kon ons eindelik die vereiste sertifikaat vir die versekeringsmense pos. Geregistreerde pos. Maar die volgende maand sien ek ek betaal sowaar steeds versekering!
Glo dit of nie, maar hulle het die sertifikaat laat wegraak in die versekeringskantoor. Terwyl hulle soek, betaal ek steeds. Ek sal moontlik my volgende rubriek uit ’n Franse tronk skryf, want ek stry elke enkele dag teen die versoeking om daardie kantoor aan die brand te gaan steek . . .