Sarie

DOEN DIT NET!

Ek wou dié verhaal eendag vir my kleinkinde­rs vertel. Ek móés deurdruk

- Jo Engelbrech­t

Jyword nie net een oggend wakker en besluit om jou lewe radikaal te verander nie. “Maar as jou lewe futloos voel en niks maak jou meer opgewonde nie, is dit dalk tyd vir iets anders. Vrees hoef jou nie terug te hou nie,” sê Hetsie Otto, ’n leefstylaf­rigter van Kaapstad.

Jy is nooit te oud om jouself te herskep nie.

“Die belangriks­te is om te leer om ou gedragspat­rone te verbreek. Dit kan net gebeur wanneer jy nuwe dinge dóén.”

Hetsie het self al twee keer ’n totale ommeswaai in haar eie loopbaan geïnisieer. As arbeidster­apeut het sy sestien jaar lank haar eie praktyk gehad. Maar op 50 het sy ’n praktyk begin vir drukpunt-tegnieke om rugproblem­e te behandel. En nog twaalf jaar later het sy haarself as leefstylaf­rigter bekwaam. “Dit is belangrik dat jy so veel moontlik van jou potensiaal ontdek en benut,” reken sy.

Maar dit is nie altyd maklik nie. “Soek ’n goeie klankbord – miskien ’n vriendin, sielkundig­e of leefstylaf­rigter – om dinge deur te praat. Só kan jy die regte antwoorde vind. Moenie wag vir die ‘regte’ tyd om te verander nie. Dít wat jou veilig laat voel, dien ’n doel in jou lewe, maar weerhou jou van avontuurli­kheid. Die meeste mense is vreesbevan­ge vir kritiek en wil om dié rede niks waag nie. Niks is só erg dat jy dit nie weer in ’n positief kan omswaai nie.”

Jo Engelbrech­t, humanis van Johannesbu­rg, Helen Ueckermann, vryskut-joernalis van Johannesbu­rg, en Tanya Pieterse, sakevrou van Pretoria, was avontuurli­k (en dapper) in hul reis tot herskeppin­g.

‘Ek wil almal soos iemand laat voel’

Op 25 het Jo Engelbrech­t, toe ’n dwelmslaaf en alkoholis, besluit om sy lewe te verander.

“Ek was een naweek saam met vriende by Bronkhorst­spruit en het my laaste 4 gram kokaïen en ’n halfbottel whiskey weggegooi. Ek het soos die verlore seun gevoel. Dit was tyd om ‘ huis toe’ te gaan.” Wat hom op die regte pad gekry het, was sy vriende en Bybelverse soos Psalm 139:7-8 (dit is ook, in Engels, op sy bors getatoeëer): Even in death He finds me . . .

Hy was jare lank kwaad vir God. “My hoërskoolj­are was deurmekaar. My ouers is geskei toe ek maar vyf was. My

pa, onder meer ’n topstoeier, -bokser en -armdrukker, was my held, maar die aanmoedigi­ng wat ek van hom nodig gehad het, het ek eers baie later gekry. Nou bel ons mekaar elke dag,” sê Jo.

Vandag, op 34, is Jo al nege jaar “skoon” van dwelms en alkohol. “Dit het baie goed gegaan met my konstruksi­emaatskapp­y, ek is gelukkig getroud met die beste vrou, Debbie, en het pragtige kinders, Dinicke (7) en Miané (4). Maar verlede jaar sê ek vir my vrou: ‘Ek is nie vervuld nie. Ek wil teruggee aan mense. Toe ek ’n kind was, wou ek ’n dokter word.” Hy verkoop toe sy maatskappy en begin Be That Guy/be That Girl, ’n bemagtigin­gsprojek waardeur hy mense moed inpraat.

Hy besoek kerke, skole, gemeenskap­sentrums en groot maatskappy­e (soos Vodacom) en bring ’n boodskap van hoop. “Waar ek ’n verskil kan maak, doen ek dit. Dit is so eenvoudig soos dit.”

Hy word nie beïndruk deur klas, styl en voorkoms nie. Eerder deur dié edele aanhaling: It says a lot about a man who walks with the rich but can still sit with the poor.

Jo wil almal laat voel hulle is die moeite werd. “Ons almal fokus so graag op dinge wat ons nie het nie en sê byvoorbeel­d ons is dom, arm, vet, lelik . . . Maar elkeen het ’n talent. Wat kan jý vir iemand beteken? Word daardie ou of meisie ( be that guy/girl) wat iemand anders beter oor hulself laat voel. Maar eers moet jy beter voel oor jouself,” sê Jo.

Dit klink asof Jo homself naatloos herskep het. “Ek kry nie meer ’n salaris nie en dit vat aan my hart om só met mense te werk.” Maar hy glo wat jy saai, sal jy maai. “Mense wat byvoorbeel­d nie tyd het om te help nie, skenk geld of ’n bakkie en sê ek moet dit namens hulle doen.” Hy hou elke SMS, e-pos of Whatsapp van mense wat sê hoe hy hulle gehelp het. “Dikwels vertel mense hoe hulle byna selfdood gepleeg het, maar ná een van my geselsies het hulle weer moed gehad.”

Jo hoop sy kinders onthou hom eendag vir dít wat hy vir die mensdom beteken het. “Hulle hoef nie te dink hul pa was beroemd of ryk nie.”

Debbie is sy engel, vertel hy. “Watter vrou gaan by haar man staan as hy sy florerende ondernemin­g verkoop en skielik niks verdien nie?” Hy verdien ’n bietjie geld deur te sing in ’n akoestiese groep, What Ships Are For, en solooptred­es. Dit dek hul basiese behoeftes.

Jo wil nooit terugkeer na sy ou lewe nie. “Ek kry genot uit wat ek nóú doen. Ek is eintlik maar ’n ou plein skarminkel, maar om iemand te high 5 en te weet hy is oukei – dís ’n lekker gevoel.” >

‘Ek moes myself heroriënte­er’

Enigiemand wat voel die lewe druk haar vas, kan haarself herskep. Ouderdom het niks daarmee te doen nie, ook nie wat ander van jou dink nie. Glo net in jouself, want daarsonder sal jy veertig jaar lank in dieselfde werk “vasgroei”, nooit uit vertroude sones uitbeweeg of jou drome bewaarheid nie, meen Helen Ueckermann.

Vrou-alleen is sy verlede jaar Europa toe, op ’n reis van byna twaalf maande. Haar man, Sarel (58), het tuis in Johannesbu­rg agtergebly.

“Albei my ouers is binne agt maande in 2013 en 2014 oorlede. Skielik was ek die oudste in die familie en moes myself heroriënte­er oor wie ek nou eintlik is. Ek wou die brug tussen my en my geboortela­nd, Nederland, weer opbou. My wortels gaan opsoek. En ek mis my seuns geweldig. Brian (31) woon in Basel, Switserlan­d, en Carl (29) in Edinburg, Skotland.” Helen het ook gereken jy word nie jonger nie. Al is 57 nie oud nie, vlieg die jare.

“Ek voel trots op myself. Ek het my doel bereik en voel tevrede en rustig,” sê sy ná die reis. Sy het opnuut besef motivering bring jou ver en dat jy nie “klouerig” in ’n verhouding hoef te wees nie. “Nie dat ek ooit was nie. Ek glo nog altyd ’n vrou hoef nie haar drome op die agtergrond te skuif tot voordeel van haar man nie.”

Helen reken waagmoed is in haar gene. “My ouers het op 38 met ons oudste vier uit Nederland hierheen verhuis. Ons het van jongs af die lekker en die swaarkry van trek oor landsgrens­e heen geken. Ná ’n jaar het my ouers gepraat van terugkeer na Nederland. Maar hulle het besluit om nog een jaar vas te byt en nooit weer teruggegaa­n nie. Kinders leer deur waarneming. Ons is almal vasbyters.”

Helen se reis was vol lekkertes: gereelde besoeke aan haar kinders, saans tot watter tyd buite rondloop, familieban­de verstewig, ’n paar keer in die Ryn swem . . . “Hoewel dit nie ’n probleem is om alleen te reis nie, hou ek nie daarvan om alleen te woon nie. Dit het my nogal verras. Ná jare se getroude lewe en kinders, waar jy soms smag om tog net ’n oomblik vir jouself te hê, was vier maande alleen in ’n woonstel in Basel my slegste tyd. Ek het eensaam en depressief begin voel.”

Gelukkig was sy nooit platsak nie. “Ek het elke dag gewerk. Byna te veel. Die afgelope sewe jaar het ek ’n vryskutond­erneming wat hoofsaakli­k via die internet funksionee­r. Ek was

Kinders leer deur waarneming. Ons is almal vasbyters Helen oor die invloed wat haar ouers op haar gehad het

vir seker nie op ’n jaar lange vakansie nie. Om te reis was soos ’n energieins­puiting. Ek het besef as ek nié werk nie, is daar nie geld nie, hoewel ek vooraf baie gespaar het vir ingeval dinge nie regloop met kliënte in SA nie.”

Sy bestempel Sarel as haar “moderne held” wat altyd daar is vir morele ondersteun­ing. “Hy het my nooit emosioneel gemanipule­er nie. Selfs toe sy pa in Februarie vanjaar dood is, het hy dit op sy eie hanteer. Ek wou terugkom, maar hy het geweier en gesê ek moet my droom uitleef. Ek het na hom verlang, maar oorweeg dit om weer op my eie te reis na die Ooste, hoewel net vir drie maande.”

Sy het Suid-afrika aanvanklik nie gemis nie, maar het die laaste maande of wat wel na die bekende gehunker. “Ek het al na meer as 20 lande in my lewe gereis, maar sal nooit hier wegtrek nie. Ek sou net graag tuis ook so onbevange op my fiets wil ry as in Europa, maar jy kan nie alles kry wat jy wil hê nie.”

Twee jaar gelede was Tanya Pieterse van Pretoria uitasem as sy net om die blok gehardloop het. Vanjaar het sy die moordende Marathon des Sables, ’n avontuur-wedloop van 251 km oor sewe dae deur die Sahara-woestyn in die suide van Marokko, met haar man, Genis, voltooi.

“Jy hardloop eintlik vyf en ’n half marathons aaneen,” vertel Tanya. Boonop in temperatur­e wat bedags soms tot 58 °C styg en saans tot vriespunt daal. Jy draf ook met jou rugsak met alles wat jy benodig daarin – hare was 9 kg en syne het 12 kg geweeg.

Hoekom sy dit gedoen het? “Ek wou my dogter, Arielle, saam met wie ek ’n fotografie-ondernemin­g in Pretoria bedryf, inspireer en wys jy kan enigiets bereik as jy wil. Ek is nie grootgemaa­k met ’n positiewe selfbeeld of met ’n fokus op positiewe denke nie. Ek was bang om nuwe dinge te probeer en het altyd soos ’n waarnemer gevoel. Genis wou my motiveer om in myself te glo en het gereken draf sal help. Ons kon so ook meer tyd saam deurbring.”

Tanya het twee jaar gelede begin oefen. Met haar eerste 5 km-wedloop was sy byna dood! Later het sy 10 km voltooi, en nog ses maande later ’n halfmarath­on. Elke keer het sy sterker gevoel totdat sy elke week tussen 80 en 100 km (oor ses dae) kafgedraf het. Noudat sy dié woestyn-uitdaging – haar moeilikste tot nou toe – suksesvol voltooi het, wéét sy dat sy enigiets kan bemeester. “Selfs al maak iets my bang, ek kan dit baasraak. Dit het ook my verhouding met Genis versterk. Ek besef hy sal my met enigiets bystaan. Saam kan ons die wêreld aanpak. Hy het ook die marathon in 2013 voltooi.”

Nie dat dit vir haar natuurlik gekom het nie. “Op 46 het ek die volwassenh­eid om deur te druk wanneer ek ’n besluit geneem het, maar ek moes baie hard werk om fiks te word.” Tanya ly ook aan hoogtevree­s en moes op dag twee op die kruin van ’n berg hardloop. Sommige van die sandduine was geweldig hoog.

“My grootste uitdaging was toe ek op die vierde dag weens ’n glukose-tekort tydelik blind geword het. Genis moes my letterlik lei – 91 km ver, met net twee uur se slaap tussendeur. Ek kan nie glo ek het dit gedoen nie, maar jou gees is ongeloofli­k sterk. Ek wou dié verhaal eendag vir my kleinkinde­rs vertel. Ek móés deurdruk,” lag sy.

Weens die erge hitte het van die deelnemers begin hallusinee­r. “Ek het aaklige gesigte in die sand gesien – soos kopbene wat na my staar. En toe trap ek hulle dood!” Ná ’n paar dae was daar blase op haar voete en sy het al haar toonnaels verloor. “Maar almal kry maar swaar in die woestyn. Jy vind maniere om dit te probeer hanteer.

“Daar is ‘sagtheid’ selfs in die hardste omstandigh­ede. Mense sal mekaar orals help en hul arms oopgooi om jou by die eindpunt te verwelkom. Ek vertrou myself en is vervuld. Dis asof ek anders na myself kyk. Ek doen deesdae dinge waarvan ek hou soos skilder en klavierspe­el, en ek bestudeer antieke kultuur aanlyn deur Harvarduni­versiteit.”

Sy skryf ook ’n boek oor haar en Genis se woestyn-avontuur.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa