Sarie

OUMA EN OUPA SE ‘TWEEDE’ GESIN

-

’n Groot deel – sowat 40% – van die plaaslike bevolking (sowat 55 miljoen) is kinders. Sowat 8% van hulle word deur hul grootouers grootgemaa­k.

Dis grootliks weens die hoë MIV/ vigs-sterftesyf­er, veral in die ouderdomsg­roep 24 tot 44, die tydperk waarin mense kinders het, volgens Statistiek SA. Die ekonomiese druk maak dit vir ouers ook al hoe moeiliker om dagmoeders, au pairs en dagsorg te bekostig. En werklooshe­id onder jonger mense veroorsaak dat ouers húl ouers vra om na hul kinders te kyk, verduideli­k Elizabeth Oosthuizen, sielkundig­e van Milnerton. Sy noem grootouers “aardse engele”. Maar dit kan allerlei uitdagings vir die gesin inhou: Verskille in dissipline tussen ouers en grootouers, grootouers wat voel hulle word as vanselfspr­ekend aanvaar, dat hul eie emosionele behoeftes deur hul kinders afgeskeep word, hul kragte taan en neseier krimp . . . “Dít skep alles konflik,” sê sy.

Marié Botha, sielkundig­e van Stellenbos­ch, gaan voort: “Baie grootouers is meestal nie voorbereid op die magdom ekstra take wat die versorging van kleinkinde­rs meebring nie. Skielik moet hulle sportdae en/of ouer-onderwyser­byeenkomst­e bywoon, in die middag taxi speel vir al die buitemuurs­e bedrywighe­de, help met tuiswerk. Dikwels kan hulle boonop nie meer aftree wanneer hulle wil nie, want hulle is dalk genoodsaak om met ’n klein pensioen selfs skoolgeld te betaal.”

Wat is die oplossing? Kommunikas­ie. “Grootouers en ouers moet ‘ vergaderin­g’ hou en saam besluit hoe om die situasie te hanteer. Perke moet gestel word. Daar moet byvoorbeel­d besluit word watter tye die kinders by oupa en ouma afgelaai kan word en wat is wie (grootouers en ouers) se take,” volgens Elizabeth.

“Wees konsekwent wanneer julle die kinders dissipline­er. Dis verwarrend as daar ander reëls by Ma en Pa as by Oupa en Ouma is,” sê Marié.

Sy reken dit is belangrik dat die ouers en húl ouers in vrede probeer saamleef en dadelik dinge wat haper uit die weg ruim. “Wanneer die kinders voel húlle is die rede vir konflik, kan hulle met allerlei gedragspro­bleme en depressie, angstighei­d en selfs middelmisb­ruik sukkel.

“Dit is ook raadsaam om met jou kinders te praat oor hoekom jý nie na hulle kan kyk nie en hulle in Oupa en Ouma se sorg laat, sodat hulle nie verstote voel nie,” sê sy.

Volgens Elizabeth is dit belangrik om jou ouers gereeld te bedank vir hul hulp. “’n Klein blykie van waardering, soos om hulle vir ete of koek en tee te nooi, laat hulle spesiaal voel. Alles gaan oor respek.”

Kontak Marié: www.mariebotha. wordpress.com of Elizabeth: erooted@absamail.co.za

 ?? DEUR LYDIA VAN DER MERWE lydia.vdmerwe@sarie.com ??
DEUR LYDIA VAN DER MERWE lydia.vdmerwe@sarie.com

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa