Sarie

LAASTE SÊ

-

Dit gebeur so dikwels. Jou lewe raak besig. Jou lewe gaan al hoe meer net oor jou eie werk, jou eie huis, eie kinders en vrou. Daar is geen kwadegevoe­lens tussen jou en jou broers en susters nie. Die lewe het maar net sy gang gegaan. Julle is dekades reeds nie meer kinders nie. Sien mekaar darem af en toe by ’n troue of ’n begrafnis. Belowe om te bel. Ons moet kuier. En dan gaan maande en jare weer verby.

Abel is suksesvol. En besig. Daar is so ’n effense ongemaklik­heid in sy binneste. Dis eintlik seker nie reg dat hy en sy broers so min praat nie. Maar wat kan hy nou eintlik daaraan doen? Sedert sy ouers se egskeiding is dit nou maar die situasie. Daar is nie meer ’n gemeenskap­like huis nie. Dis asof die boom sy penwortel verloor het. Hy aanvaar dit maar as ’n deel van die hartseer van die lewe waarvoor hy nie verantwoor­delik is nie en waaraan hy nie regtig iets kan doen nie. Ten minste praat hy dikwels met sy dierbare ou moeder en bly op hoogte van die belangriks­te familienuu­s.

Maar soms dink hy terug aan hoe dit was. Hul kinderdae lê ver terug. Die visvangdae. Die sokkerspee­l op die sypaadjie. Die baklei met mekaar, maar die onverbidde­like eenheid as enigiemand van buite dit durf waag om sy hande teen een van hulle te lig. Maar veral die visvang. Hoe sou dit wees as die boeties dit weer saam kon doen? Maar voor die hunkering hom te hartseer stem, gee hy eerder sy gedagtes aan dit wat sy lewe nou van hom vereis. Dit help tog nie om te probeer veg teen die realiteite van die lewe nie.

Drie jaar gelede het Abel die nuus gekry. Faan is siek. Hy was saam met sy ma hospitaal toe. In die hospitaal kom die hunkering weer. Hoe wens hy nie die lewe was anders nie. Maar meer as duisend kilometer skei hulle van mekaar. En ook meer as veertig jaar van hoe die lewe met hulle gemaak het. ’n Paar weke later kry hy die nuus. Die breingewas is nie kwaadaardi­g nie, maar dokters kan dit nie heeltemal verwyder nie. Die nuus is goed en sleg. Daar is nog tyd. Maar die gewas sal groei en die tyd wat daar nog is, is geleende tyd.

Terug in sy besige lewe vervaag die besluit dat hy moet werk maak en meer met Faan gesels. Dis asof die siekte dit nog moeiliker maak. Hy voel ongemaklik. Weet nie wat om met sy emosies te maak nie. Miskien ook skuldig oor die jare se stilte.

Maar dan begin Faan bel. Elke week. Sy spraak is effens anders, maar hy is nog steeds so spitsvondi­g soos voorheen. Maar sagter en ernstiger. Die geleende tyd doen iets aan Faan. Hy weet die broers het iets om in te haal. En tyd is min. Ná ’n paar weke is die vreemdheid iets van die verlede. Abel kan nie wag dat Faan bel nie. Faan spreek hom ernstig aan. Jy moet jou ander broers bel. Bloed is bloed. Hy maak die eerste tentatiewe oproepe. Soos ’n ware oudste broer vra Faan verslag.

Abel moet vir sake Vrystaat toe. Miskien moet hy twee dae langer bly en die paar honderd ekstra kilometers na Faan se dorpie toe ry. Sal Faan nog in staat wees om vis te vang? Hulle beplan en die weke kan net nie gou genoeg verbygaan nie.

En dan sien die broers mekaar. Hulle is weer waar hulle vroeër jare was. Dis midwinter en die yskoue plaasdam is plek-plek gevries. Maar Abel en Faan sit by ’n plaasdam. Die water is koud, maar hul harte is warm. Die vis byt nie, maar die vangs is baie groter as ’n net vol vis.

Abel ry die lang pad terug. Sy gedagtes is ’n warboel van hartseer en blydskap. Hy wonder hoekom hy so lank gewag het. Maar in die weke wat volg, is daar nie kans vir selfverwyt nie. Die tyd is te kort. Hy en Faan praat elke dag. As die geleende tyd tog net kan hou. Die somer kom. Die plaasdam wag. En skielik is duisend kilometer en ’n paar dekades geen verskoning nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa