Sarie

‘Die wêreld kan ons nie skei nie’

Charmaine Roets van Johannesbu­rg, wie se drie kinders ’n jaar gelede saam met hul pa en sy nuwe gesin in Amerika gaan woon het, moes ’n weg vind om nie ‘verswelg te word’ deur die afstand nie . . . Vandag wéét sy dat hulle steeds ‘naby haar’ is

- Bron: www.webmd.com, www.medicaldai­ly.com

Mystorie is nie ’n nuwe een nie, maar soms voel dit asof dít waardeur ek moet worstel een of ander kosmiese grap is. Dis onwerklik.

As gekwalifis­eerde maatskapli­ke werker is ek in 1998 opgelei in Imago-verhouding­sterapie, ’n spesialite­itsveld van verhouding­s. Ek het vir die grootste gedeelte van my profession­ele loopbaan ’n vervullend­e deeltydse praktyk van die huis af bedryf. Maar ma-wees was my hoogste roeping, en vir baie jare was dit eintlik my enigste identiteit. Iewers het my identiteit as ma met dié van menswees verstrenge­l geraak. Met die gevolg, toe ek myself in ’n ‘ leë nes’ bevind, het ek ’n diep emosionele krisis beleef.

As jou kinders die huis verlaat, is dit nie jou kinders op sigself wat jy verloor nie – jy verloor eintlik ’n baie spesifieke rol wat jy op ’n spesifieke tyd in hul lewe vervul.

As ek op die dag van my egskeiding agt jaar gelede in ’n kristalbal kon kyk en kon voorsien dat my oudste seun op 14 by sy pa sou gaan bly, my jongste seun ’n jaar daarna op 12 dieselfde sou doen, my dogter net voor haar matriekein­deksamen sou uittrek om nader aan haar boeties te wees, en dat hulle almal 18 maande daarna in Amerika sou gaan woon – dan ja, is dit onbetwisba­ar dat ek eerder my wankelrige huwelik sou kies. Ek sou die huwelik die voordeel van die twyfel gegee het, vir wat dit moontlik sou kon wees. Maar ons leef nie in tye van kristalbal­le en voorspelba­arheid nie. Bewustheid kom deur ’n vuurdoop.

My drie kinders, Carissa (19), Dewan (18) en Wium (15), is nou 13 maande in Amerika. Dit maak nie saak hoe mooi jy ’n gebeurteni­s probeer verwoord nie, of trauma gebruik as ’n groeiprose­s nie . . . dít wat hul trek na Amerika voorafgega­an het, was die donkerste, eensaamste nag van my bestaan. Een van die mees godverlate oomblikke was toe ek ’n onverwagse e-pos uit Amerika kry met daardie eerste briewe van my kinders. Ek het opgehou asem haal. Ek moes baklei daarteen om nie verpletter te voel nie. Maar ’n wyse vriendin se woorde het in ’n verbysterd­e oomblik groot hoop en waarheid in my gemoed gebring: ‘Onthou, die wêreld is nie groot genoeg om julle van mekaar te skei nie.’

Ek moes nou die lewe wat hier reg voor my is, aangryp en dit met mening aanpak. Ek moes skok op skok, hartseer en ‘ hoe dit is’ in die oë kyk.

My kennis oor die impak wat beskadigde grootmense op kinders het, het my hart as ma nie gespaar nie en my kinders nie gevrywaar van verwonding nie.

Dit het my gegooi. ’n Blinde oog of onkunde sou makliker gewees het. Maar ek moet glo dat my fyn aanvoeling vir mense in pyn nie net my kruis is nie, maar ook my gawe.

Daar is ’n godheid in elkeen van ons, of ons dit wil erken of nie. Dit is hierdie wete van die godheid in my kinders, of eerder dat hulle in God is, wat my in staat gestel het om hulle op ’n jong ouderdom onwrikbaar te vertrou met hul reise, al het hulle moeilike lewensdraa­iboeke gekies. Ek glo al vandat hulle baie jonk is in hul kapasiteit vir leef. Hulle is baie meer as wat met hulle gebeur, waar hulle bly, wie hulle teleurstel, kwaad maak of misverstaa­n.

God praat op baie ander maniere met my as deur die Bybel. Maar in die ‘ laat gaan’ van my kinders was daar geen verklaring wat my meer sou tref as die uitspraak van koning Salomo nie. Twee vroue kom na Salomo. Al twee beweer hulle is die ma van ’n baba. Salomo beveel toe dat die baba in die helfte gekap word, en elkeen ’n helfte kry. Die kind se ware ma het ingegryp en gevra dat die baba nie in die helfte gekap word nie. Salomo het haar as die ware ma onderskei omdat sy gewillig was om die kind te laat gaan pleks daarvan om te sien hoe die kind vernietig word. Sy uitspraak was dat sy die kind kry.

Ek het uit die regsgeding, wat ’n paar maande geduur het, onttrek. Geen uitspraak sou die regte een gewees het vir my kinders nie . . .

Om kinders te ‘ laat gaan’ is glad nie so maklik soos net los nie. ’n Jong psige kan dit onbewustel­ik interprete­er dat jou ma jou prysgee, verwerp, in die steek laat of dat sy eenvoudig nie omgee nie. Om ‘ vas te hou’, of net te koester, smoor hulle. In albei gevalle bou hulle woede op. My kinders het al gevoel ek gee nie om nie, en hulle het al gevoel ek gee te veel om en kyk te diep in hul siel in. My berusting kom meestal wanneer ek onthou dat ek in wese iemand is wat koester, wat nurture, en dis juis hoekom ek dit kon regkry om hulle te laat gaan, om hul vlerke te sprei.

By gebrek aan ’n meer veelsydige woord gaan dit goed met my kinders in Amerika; beslis nie omdat Amerika ’n beter plek is nie, maar omdat hulle is wie hulle is. Hulle mis SuidAfrika. Die gemis sal altyd ’n gat bly, in my en in hulle.

Ek het ná drie maande vir hulle ’n brief geskryf waarin ek eerlik met hulle was oor my intense hartseer, dat ek besef hulle gaan deur ’n groot aanpassing, en dat ek soms hul hartseer ook aanvoel. Ek het vir hulle gesê ek het geen idee hoe om ’n langafstan­d-ma te wees nie, dat Vrydae vir my die moeilikste is, en of hulle vir ’n kort tydjie op Vrydae vir my ’n selfie kan stuur, of selfs ’n foto van hoe die pap lyk wat hulle in die oggende eet! Terwyl ek op ’n keer met my jongste oor die foon geskerts het, sê ek vir hom: ‘Neem asseblief vir mamma een van jou voete af sodat ek kan sien hoe groot hulle is.’ Ek kan hom nie in my kop ‘ klein’ hou nie. Hulle oorspronkl­ikheid is soos hulle – enig in hul soort. Hy het ’n liniaal langs sy voet gesit en ’n foto gestuur. Hulle weet net hoe om vir my eindelose vreugde te verskaf. Hul afstand het ’n soort nabyheid geword.

Vir my is die wonderliks­te gevoel as daar drie- of vieruur in die oggend ’n boodskap op my foon deurkom. Dan weet ek dit is een van my kinders, gewoonlik my dogter . . . Dis laat in die nag by hulle en dan wil sy gesels.

Hulle verbly elke sel in my lyf met daardie onverwagse boodskappe – my dogter se nagrit op haar nuwe perd, my oudste seun se rugbykreet, tot Youtube-video’s van my jongste waarin hy of baie seer kry of baie snaaks is. Hierdie afstand kan nou maar net nie ons band versmoor nie, al is daar soms lang stiltes.

Ek moes ’n weg vind om nie verswelg te word deur hierdie afstand nie. Daar is een ding wat my sane hou, buiten geloof in die liefde, en dit is ’n baie diep oortuiging dat die lewe van ons vra om tussen die teenstrydi­ghede van pole te leef. Vergelyk dit met ’n dun rekkie wat jy met jou hande na weerskante toe trek. Daar waar die spanning die styfste is, daar binne, dit is waar ons ontwikkel. Dit is waar ons groter en meer word as ons omstandigh­ede, uitstyg bo selfbejamm­ering, depressie. Daar in die spanning is waar ons ’n dans kan uitwerk. Daar dans ek en my kinders.

Ek glo ons moet eerlik wees met ons pyn. Ja, die lewe staan nie vir ons stil wanneer ons trauma of verlies verwerk nie, maar binne-in jou kom alles tot stilstand. Dit is nie depressie nie, dit is nie onwillighe­id nie, dit is nie ongeloof nie. Soms vergeet mense dat dit nodig is om pyn te ervaar – die stroomvers­nellings van ’n rivier te beweeg – om uiteindeli­k uitgespoel te word by die kalm water.

T.S. Eliot skryf so treffend: In order to arrive at what you are not, you must go through the way in which you are not. Hiermee wil ek sê ons is nie net ons pyn of alles wat met ons gebeur nie. Die kuns van pyn is om nie te vergeet van vrede nie. Om nie te vergeet wie jy essensieel, onder jou pyn, is nie.

Die boodskap wat ek in my kinders se harte wil laat, is juis dit: ‘Julle is veel groter as wat in die verlede met julle gebeur het, of wat julle nou beleef. Julle is jul drome.’

Hulle is nie net my kinders nie, maar stergehalt­e-mense – ek het ’n diep bewonderin­g vir hulle. Hul toekoms gaan beautiful wees, waar hulle ook al is. En Suid-afrika knipoog vir hulle!

Charmaine kan gekontak word by radicalcon­versations@gmail.com

OP AANDAG!

Jy gaan sommer beter voel en lyk – maerder ook. Verbeel jou jy staan teen ’n muur om jou lengte te meet. Hou jou kop regop en laat jou ken effens sak. Jou ore moet iewers in die middel van jou skouers wees. Staan met jou skouers terug, bene reguit en maag ingetrek.

BASTA RONDE SKOUERS

Sit met jou rug teen die lessenaars­toel se leuning. Plaas ’n opgerolde handdoek agter jou lae rug om jou ruggraat se natuurlike kurwe te beskerm. Buig jou knieë in ’n reghoek (90 grade) en hou dit op dieselfde hoogte, of ’n bietjie hoër as jou heupe. Jou voete moet plat op die grond wees. Indien nie, sleep ’n voetstoel/ telefoongi­ds nader.

PASOP VIR ’N ‘TEKS-NEK’

As jy lank op ’n rekenaar se toetsbord werk, is jou skouers geneig om vorentoe en opwaarts te beweeg. Probeer dit elke tien minute agtertoe en afwaarts weg van jou ore af skuif. Heeldag besig met jou slimfoon? Buig jy jou kop om boodskappe te lees, plaas dit spanning op jou ruggraat. Tel liefs die foon op en beweeg jou oë, nie jou kop nie.

SLAAP SOET

Kies ’n ferm matras wat help dat jou ruggraat sy natuurlike kurwe behou. Slaap jy op jou rug, los die dik kopkussing en sit liefs een onder jou nek. Slaap jy op jou sy, kies ’n kopkussing dik genoeg dat jou kop nie kantel nie, ’n kleiner een onder jou middel sodat jou maag nie ’n afwaartse kurwe vorm nie en nog een tussen jou bene.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa