Sarie

Bannelinge in ’n ongasvrye land ‘Daar was ’n rapport tussen ons . . .’

Monitor,

- Anita Visser, aanbieder op RSG

Iets aan die 13-jarige Ali se diepbruin oë het my geroer. “Jy het mooi oë,” het ek gesê. “Is jy my vriend?” kom die weervraag. Ek dink nie Ali kan mense meer vertrou nie.

Ná ’n bomaanval op sy tuisdorp Aleppo in Sirië twee jaar gelede, was hy drie dae lank in sy huis se badkamer vasgekeer. Dieselfde Aleppo wat nou weer onder chemiese bomme deurloop. Ali en sy pa het intussen die grens oorgesteek na Libanon se Bekaa-vallei. Hy is nou gestremd en kruip waar hy wil wees.

Ek was September in die Bekaa-vallei waar meer as ’n miljoen vlugteling­e hulle sedert die Siriese burgeroorl­og bevind. Ali en sy pa, ’n bouer, hoop hulle sal hulle binnekort by die res van die gesin in Duitsland kan aansluit. By sy ma, suster en broer. Hul aansoeke lê al maande lank by die Duitse ambassade in Beiroet.

Die Libanese ontvang beslis nie hul hawelose bure met ope arms nie. Sedert die vyftien jaar lange burgeroorl­og in Libanon (1975 – 1990) is die verhouding tussen hulle en die Siriërs stroef. Die Amerikaner­s het Sirië destyds gevra om beheer daar oor te neem en die orde te handhaaf. ’n Posisie wat hulle, volgens die Libanese, misbruik het. “Hulle het ons verkrag”, “mishandel”, “doodgeskie­t”, sê hulle.

“Die Libanese buit ons uit,” kla die Siriërs.

“Hulle kan dankbaar wees ons maak ons grense vir hulle oop,” mor die Libanese.

’n Middeljari­ge Libanese onderwyser­es vertel hoe haar oupa, wat in die vrugbare Bekaa-vallei geboer het, nie durf waag het om Siriese soldate te berispe wat sy vrugteboor­de stroop nie. Sy waarskuwin­g aan hulle was bondig en dringend: “Wees vriendelik of hulle maak ons dood.” ’n Libanese landgenoot, wat naamloos wil bly, som sy gevoel jeens die Siriese migrante só op: “Hulle moet sterf.”

Die vlugteling­e soek dus elders in die wêreld ’n uitkoms.

Anwar Korko, ’n wetenskapo­nderwyser, sy vrou en ses kinders wil Australië toe. Sy dogters is in 2013 byna in Al-hasakah, in die noordooste van Sirië, deur militante van Jabhat alNusra (Al Kaïda) ontvoer.

Die vlugteling­e woon tussen die Libanese burgers, huur ’n stukkie grond of woonstel. Soms ’n tent op die dak van ’n woonstelge­bou. Rida en sy vrou betaal maandeliks $330 (sowat R4 500) vir ’n woonstel in Zahlé, sowat 60 km uit Beiroet. Hy het Libanon toe gevlug nadat sy vingers in ’n Siriese tronk gebreek is. Sy misdaad? Sy Koerdiese bloed.

Die 36-jarige Ismail het buite die Siriese stad Al-raqqah met katoen en sojabone geboer. Die blote feit dat hy en sy gesin daarvandaa­n kom, laat die Libanese hul wenkbroue nog hoër lig. Dis immers die vesting van die gevreesde ISIS (oftewel DASH, soos die groep in die Midde-ooste bekend staan). Is hy nie dalk ’n lid nie?

Ek het langer as ’n uur by Ali gesit voordat ek met die onderhoud begin het – omdat hy so getraumati­seer is. Daar was ’n rapport tussen ons, al kon ons nie mekaar se taal praat nie. Ons het ook niks gemeen nie, behalwe dat ons mense is.

Maar dis nie my werk om emosioneel betrokke te raak nie. Ek kan maar net vertel wat daar gebeur.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa