UIT PROVENCE
My liewe ma het my geleer jy moet altyd ’n partytjie verlaat voordat die ander gaste wens jy wil loop. Dis waarom ek nou, ná ’n dekade as SARIE se rubriekskrywer, besluit het om hierdie besonder lekker partytjie te verlaat. Boonop is die einde van die jaar mos ’n geskikte oomblik om terug te kyk, selfs ’n traan weg te pink, sonder dat mense dink jy’s ’n tjankbalie.
Toe ek vroeg in 2006 my maandelikse “brief uit Provence” begin skryf het, het ons in ’n kliphuis in Kerkstraat gewoon. Ek en my Fransman was die uitgeputte en oorwerkte ouers van ’n oulike sesjarige dogtertjie wat briefies vir feetjies onder die roosstruike in die tuin gelos het en bitter bang was vir die donker; twee slordige tienerseuns in ’n kamer wat pal gelyk het asof ’n bom pas daar ontplof het (en soms geruik het asof ’n dooie dier onder ’n bed lê en vrot), wat albei graag afgesakte hangstert-jeans gedra het sodat almal hulle ontwerpersonderbroeke kon bewonder; en ’n twintigjarige student met die langste hare op die dorp (onder die seuns én die meisies) wat kitaar gespeel het in ’n raserige rock-groep.
Tien jaar later woon ons in ’n plaashuis tussen die wingerde, en hoewel dit soms voel asof álles verander het – veral as ons na ons kinders kyk – is daar eintlik verstommend baie wat dieselfde gebly het. Die ouers is byvoorbeeld steeds uitgeput en oorwerk. Mia is pas sewentien en in haar laaste skooljaar, met planne om ontwerpkuns te studeer, maar sy is steeds bang vir die donker. Hugo kry hopelik volgende jaar ’n graad in handel-enkommunikasie, maar sy woonstel lyk steeds soos ’n oorlogsone. Daniel werk aan ’n meestersgraad in argitektuur, maar dra steeds jeans wat aanhoudend afsak oor sy boude. En die dertigjarige Thomas, met ’n doktorsgraad in filosofie, is sowaar besig om bles te word – maar speel steeds in ’n rock-groep. Darem minder raserig. (Ons het geleer om dankbaar te wees vir klein dingetjies.)
Die skrywer Tolstoi het gesê elke gelukkige gesin is op dieselfde manier gelukkig, maar elke ongelukkige gesin is op ’n unieke manier ongelukkig. Elke keer as ek daaraan dink, besef ek ons is eintlik ’n doodgewone (min of meer) gelukkige gesin, al praat ons elke dag drie tale, al is ons nie almal op dieselfde vasteland gebore nie, al sukkel ons steeds om die kulturele gapings tussen ons te oorbrug. Ons is gelukkig omdat ons dit reggekry het om bymekaar te bly, ondanks al die verskille en geskille. Ek en my Fransman is al twintig jaar lief vir mekaar, ons vier kinders is gesond en sosiaal goed aangepas en besig om die soort volwassenes te word saam met wie ons graag om ’n tafel sit en kuier.
Wat méér kan enige gesin wil hê? Roem en rykdom is nie náástenby so begeerlik soos gesondheid en goeie geselskap en liefde vir mekaar nie. Dis een van die vele lesse wat ek die afgelope tien jaar geleer het.
Dit was ’n voorreg om ons lewenslesse en ons lawwighede met SARIE se lesers te deel, om julle as’t ware te nooi om elke maand saam met ons aan tafel te kom sit, om julle te vermaak met ons katastrofes en ons krisisse. Dankie aan almal wat gereeld saam met ons gekuier het. Nou is dit tyd om nuwe avonture aan te pak.
Ons weet nie wat die toekoms vir ons gaan bring nie, maar ek wil graag soos Patel in die fliek The Best Exotic Marigold Hotel glo dat alles reg sal uitwerk aan die einde. “En as dit nie reg uitwerk nie, is dit nog nie die einde nie.” Of hoe?