ALLEEN, maar vervuld
Ek hoef net aan myself verantwoording te doen
Ditis die einde van die jaar – somer, vakansie, ’n tyd van samesyn. Gesinne kom onder die Kersboom bymekaar, kinders baljaar in bondels deurmekaar, paartjies maak tyd vir mekaar en stap saam langs die strand. Geliefdes bond. Maar hoe gemaak as jy ’n alleenloper is?
In die feestyd, met reënweer op ’n Sondag, of as sy siek is – ja, dan is sy eensaam, erken Hanri Wondergem (29), radiojoernalis van RSG se aktualiteitsprogramme Monitor en Spektrum. Of wanneer sy ’n pap wiel alleen moet omruil en swaar meubels in haar woonstel moet skuif.
Tog weet sy ’n vrou wat enkellopend is, kan vervuld wees – want sy beleef dit self. “Ek dans gereeld die nag om, het al op die ingewing van die oomblik vir ’n duiknaweek na Ponta do Ouro in Mosambiek gegaan. In 2013 het ek Thailand op ’n Kontikitoer besoek en die wonderlikste nuwe mense van alle uithoeke van die aarde ontmoet. Ek het al twee keer gaan rekspring van die Bloukransbrug by Stormsrivier, geskermsweef by Wildernis aan die Tuinroete en ’n vlotvaart op die Vaalrivier aangedurf . . . Ek hoef net aan myself verantwoording te doen.”
Sy wil “die horries kry as mense daai sêding kwytraak van ‘twee halwe sirkels maak een volle sirkel’. As jy ’n lewensmaat nodig het om goed te voel, is dit tyd vir selfondersoek,” reken sy. Jy kán gelukkig wees, dit is oukei om op jou eie aan te gaan, skryf Hanri dan ook op haar blog grootmensspeletjies. wordpress.com – ’n kreatiewe uitlaatklep waar sy haar frustrasies as enkelloper weergee “sonder enige vernis, oopkop vir mense in hul laat twintigs en dertigs”.
Feministies, warm om die kraag, beaam Alayne Reesberg, eienaar van die bestuurskonsultasiemaatskappy Reesberg Partners op Stellenbosch, dat geluk op jou eie beslis moontlik is. Sou ’n mens ooit sulke tipe vrae (soos oor geluk en enkellopendes) vra as jy ’n storie oor bachelors doen, is haar teenvraag. “Of die tannies sê soms, ‘haai siestog, sy het toe nooit kinders gehad nie’. Ek bespeur soveel veroordeling in dié soort onderwerp. My beste vriende en vriendinne is enkellopend. Ons lewens is ryk en interessant. En
sonder die verloopte romanse en alom bitterheid wat ek sien tussen mense wat ‘ter wille van die kinders’ besluit om in dooie verhoudings te bly.
“Ek is dikwels alleen, maar selde eensaam. Op 59 is my eerste verantwoordelikheid om die beste lewe te lei en nie te konformeer ter wille van wat ’n groep mense dink die ‘regte’ ding is nie.”
Kay Karriem (42), redakteur van die tydskrif Kuier, droom nog oor Meneer Reg – maar sy sit nie tuis en wag desperaat op hom nie. “Hy sit dalk iewers op die aarde met sy 7 miljard inwoners, maar ons pad het nog net nie gekruis nie – dit is ook oukei, ek wag rustig. En as dit nooit gebeur nie, dan is ek steeds gelukkig . . .”
Chris Reid, analis van die Internasionale Trend-instituut (ITI) in Durban, sê enkellopers is ’n wêreldwye verskynsel wat toeneem. Plaaslike syfers is nie beskikbaar nie, maar volgens Eric Klinenberg, ’n professor in sosiologie aan die New York Universiteit en skrywer van Going Solo: The Extraordinary Rise and Surprising Appeal of Living Alone, was sowat 124,6 miljoen volwasse Amerikaners in 2014 enkellopend. Dit is 50% teenoor 22% in 1950. “Alleenlopers neem die wêreld oor,” het hy bevind. Daar is verskeie redes hiervoor. Chris reken millenniërs (gebore tussen 1980 en 2000) is baie egosentries. “Hulle is, anders as vorige generasies, glad nie oortuig dat hulle eers ‘ voltooid’ is wanneer hulle ’n lewensmaat ontmoet nie. Generasie Z (gebore ná 2000) is trouens dikwels selfs aseksueel, met geen behoefte aan ’n lewensmaat nie,” sê hy. Hy reken ook afspraak-apps soos Tinder veroorsaak dat jongmense verhoudings dikwels as iets vervlietends bejeën. Hulle het kitsromanses, volgens die behoefte van die oomblik. “Hulle het nie die behoefte om op die lang termyn betrokke te raak nie.”
Hy meen die ekonomie speel ook ’n rol. “Jongmense trou al hoe later. Hulle bly langer in hul ouerhuis omdat hulle sukkel om werk te kry en ook nie kan bekostig om op hul eie te woon nie.
“Al hoe meer vroue is deesdae loslopers. In die verlede is ouer enkellopende vroue getipeer as oujongnooiens – daai aaklige woord – terwyl hul manlike eweknieë as vrygeselle bestempel is. Deesdae bestaan die onderskeid byna nie meer nie,” sê hy.
Maar alleenlopende vroue kry tog baie kritiek, of loop deur onder geniepsigheid, reken Kay. “Sommige vroue meen as jy nie getroud is of kinders het nie, is hulle meer ‘suksesvol’ as jy. Ek steur my nie daaraan nie en probeer hoegenaamd nie met hulle meeding nie. Ek het iedergeval hope respek vir ma’s en dink dit is kinderagtig van hulle indien hulle
< so ’n mening huldig. En ek hoor gereeld ‘Ag shame, is jy dan nooit getroud nie?’ ” Dit terwyl sy as jong meisie nooit juis daarvan gedroom het om in ’n wit trourok in die paadjie na die kansel te loop nie.
Maar moenie die fout maak om te dink dié vroue is mannehaters nie.
Volgens Alayne, wat onder meer jare lank die regterhand was van Microsoftbaas Bill Gates, het sy twee keer van werk en kontinent verander om by ’n man se loopbaan in te pas. “Dit was ’n ramp vir my eie loopbaan en het my bowenal baie geld en geleenthede gekos. So miskien is hierdie pot te krom vir ’n deksel. Bygesê, as daar ooit ’n man oor my pad kom wat my lewe ryker maak as wat dit nou is, sal ek dit oorweeg. Tot dusver moes ek telkens kies tussen ’n man se lewe en my eie,” vertel Alayne.
Hanri kom uit ’n gesin met huwelike wat werk en het al met menige man ’n verhouding aangeknoop. “Ek gee graag vir hulle die voordeel van die twyfel,” sê sy.
Sy het nog nooit ’n doelbewuste besluit geneem om enkellopend te wees nie. “Verhoudings het verbrokkel, my hart is gebreek, ek het harte gebreek. Ek is nie bitter nie, bloot realisties. Daar bestaan nie iets soos Hollywood-eindes nie. Ek het nog nie iemand ontmoet met wie ek ‘vir ewig’ wil aanpak nie. En ek weier om ’n verhouding aan te knoop net ter wille van iemand aan my sy. Ek is mal oor mans, hul reuk, die are op hul arms, maar ek glo nie iemand kan my honderd persent bevredig nie. Ek moet nog vrede daarmee maak. Mense sê ek is te kieskeurig – miskien is ek.”
Dit wil nie sê dat dit nie vir haar lekker sal wees om die oujaar uit te sien met ’n minnaar se kus en die nuwejaar te begin met iemand aan haar sy nie. “Elke tweede Kersfees gaan ek na my familie, maar vanjaar moet ek werk oor die feestyd. Dit keer my beslis nie om ’n feestelike boom op te maak nie. Kersdag is ek af. Die vorige keer het ek ’n paar afvlerk- werkende hoenders bymekaargemaak. Elkeen neem iets uit hul huis wat hulle nie meer gebruik nie – ’n boek, DVD, ou bak – draai dit toe en bring dit saam. Ons lê almal om die swembad en help kosmaak en só raak dit heel jolig.”
Hanri sê pront as sy al die voordele moet opnoem van enkellopend wees, “gaan ons ’n paar dae en ’n paar bladsye” nodig hê. “Ek hoef nooit verantwoording te doen oor wat ek bestee nie. My toilet se sitplek is altyd
afgeslaan en daar is geen baardstoppels in my wasbak nie. Ek kan kies wat ek op televisie wil kyk en soos ’n seester op my kooi uitspan. Niemand snork in my ore nie,” skerts sy.
Die heel lekkerste as enkellopende is haar vryheid. “Ek sal dit nie sommer prysgee nie. Ek kan praat met interessante mense, altyd net myself wees, dit is opwindend . . .”
Die vryheid om te reis staan weer vir Kay uit as die groot pluspunt. Hierdie feestyd is haar bestemming óf Kuba óf Kraaifontein, skerts sy. (As haar planne vir Kuba nie reg uitwerk nie, gaan sy “groot eet” saam met die familie in Kraaifontein.) “Daai vryheid is veral wonderlik in vakansietye, want niks briek my nie. Die enigste ding is, wanneer ek besluit om met ’n vriendin te gaan, moet hulle gewoonlik eers by die mans hoor of hulle kans sien om na die kinders te kyk. Maar ek het al ongelooflike reise op my eie aangepak, great mense ontmoet, is uit my gemaksone gedruk. Iets wat ek nie noodwendig sou doen as ek saam met ’n man was nie.”
Toegegee, dit is nie altyd lekker nie. Hanri vertel: “Dit is veragtelik as jy ’n metgesel moet saamsleep na troues en jy moet kopkrap oor wie sal inpas. Ek slaan sommer in ’n koue sweet uit by die gedagte. En ’n groot nadeel is as jou vriende jou aan enkellopende mans probeer afsmeer. Ek wil naar word as ek blind date hoor.”
Dit kry Kay weer soms onder dat bouers, elektrisiëns, loodgieters en motorwerktuigkundiges haar probeer inloop omdat sy ’n vrou is. En dit sal darem lekker wees as sy iemand tuis het wat vir haar die stram bottels oopdraai, die gloeilampies omruil en help betaal aan die peperduur mediesefondspaaiemente. “Maar op ’n dieper vlak wil jy darem die intimiteite van gedeelde grappies en iemand wat jou lewe deel ook beleef. Dit sal besonders wees.”
En kinders? Vir Kay is dit eenvoudig: gebeur dit, dan gebeur dit; indien nie, maak dit nie saak nie. Hanri erken weer sy wil graag kinders hê, maar haar leefstyl laat dit nie nou toe nie. “Ek het nie noodwendig ’n lewensmaat daarvoor nodig nie, hoewel ek ’n pa vir my kinders sal verkies, maar partykeer loop die lewe draaie. ’n Kronkelpad is ook soms opwindend. Ek oorweeg dit om ’n baba op my eie te hê, dalk oor vyf jaar. As daar ’n man in my lewe is, wonderlik, as daar nie een is nie, ook reg.”
Dié vroue stem heelhartig saam met wat die sangeres Katy Perry laat val het voor haar romanse met die Britse akteur Orlando Bloom begin het: “Ek het geleer ek speel in ’n moderne sprokie, maar ek besef ook ek het nie die sjarmante prins nodig vir ’n gelukkige einde nie. Ek kan dit self skep.”