Sarie

Don Quichot en sy knol

- DEUR MARIETJIE KOTZÉ

Mysuster bak spek en eiers. Haar kamerjas hang skeef aangepluk, haar hare staan woes, want ek het uit die bloute neergedaal, die hele pad van Kanada. (“Slaapplek, net vir die naweek, Doortjie. Maandag vlieg ek Kaap toe, dan reguit huis toe, besig, besig!” sê ek met die intrapslag.)

“En wat hoor jy van die familie?” probeer ek praatjies maak. Die spek sis in die pan. “Asof jy omgee, ná al die jare.” “Hoe kan jy so sê? Ek’s steeds lief vir die ou klompie.” “Nè?” Sy kyk my stip aan. “Dan kan jy gerus vir Neef Josh opsoek. G’n verskoning­s nie, dit sal jou goed doen, Knollie.” Sy sit die bord voor my neer en glimlag darem.

*** Knollie! My bynaam in die familie, gekry die dag ná die bohaai oor Don Quichot en Rocinante, sy ou knolperd. Ek is dertien jaar oud en ’n getroue volgeling van Neef Josh wat drama studeer in die stad.

Elke Desember, wanneer die familie saamtrek op Ouplaas, kom Josh met ’n gebrul op sy motorfiets aan en laai my agterop vir ’n draai oor die werf. Op die stoep sit die ooms en tantes hul teekoppies eenkant, die nefies en niggies draf nader. Skielik kry die vakansie vaart, elke dag jolyt.

Die hoogtepunt is die Oujaarsaan­d-konsert – ’n familieins­telling – wanneer die grootmense op die stoep sit en kinders op die trappe. Elkeen kry kans om ’n item te lewer: skoolgedig­gies, solo’s, duette, selfs ’n tweespraak. Agterna kom Ouma Daais met gemmerbier en skuinskoek, tot die klok vir Nuwejaar slaan. Hêppie!

Maar vanjaar het Josh, ons konsertmee­ster, ander planne. Hy’t ’n toneelstuk geskryf wat die storie van Don Quichot uitbeeld.

“Dis tyd dat ons klassiek raak, kultuur kry,” sê hy. Hy skets die verhaal kortliks: hyself is Don Quichot en my suster, Dorothea, is Dulcinea, die ridder se droommeisi­e. Natuurlik protesteer sy heftig, maar Josh hou voet by stuk: “Jy hoef niks te doen nie, Doortjie, jy kan net sit en mooi lyk.”

Ekself bewe van vrees én opwinding, want ek is Don Quichot se agterryer, Sancho Panza, of so iets.

“Dis ’n groot eer, nefie,” sê Josh agterna vir my. “Jy moet help met Stofjas – hý gaan Rocinante wees, die ridder se vurige perd – al is hy net ’n donkie. Dit kan nie anders nie, die plaasperde is te wild daarvoor.”

Ek knik gedienstig. Ons begin oefen – sonder my suster wat dikmond rondloop, ook sonder Stofjas wat van nature steeks is en in ’n nabye kampie wei. Ons begin ’n swaard saamflans vir die ridder, ook ’n pantsergew­aad en helm. Net die windmeul skep ’n reuseprobl­eem. Oplaas val ons keuse op die verpotte katjiepier­ingboompie aan die voet van die stoeptrapp­e. (Ouma Daais weet niks, sy vertroetel haar katjiepier­ing elke dag met watertjies uit die oorloop-tenk.) Ek probeer vriende maak met Stofjas, loop versigtig nader, vat-vat aan sy dor, stekelrige pluise, probeer sy dye roskam. Maar hy ruk los en galop tot by die turksvybos. Wantrouig hou hy my dop, sy ore agtertoe getrek.

Ek verwens hom stilletjie­s. “Onnosele dierasie! Moer toe met jou!” en skrik vir my sondige gedagtes.

Miskien lees Josh gedagtes. Hy vat my stewig aan die skouer en sê ons moet vir Stofjas ’n saalkleed kry, so swierig dat die gehoor vergeet hulle sien ’n donkie en nie ’n spogperd nie.

“Toe, toe, toe,” klap Josh sy vingers, “jy’s die rekwisiete­meester, Fanie, maak ’n plan!”

*** Ek wens ek kan sê dat dit ook die einde van my storie is, maar so eenvoudig is die lewe nooit.

Nuwejaarsm­iddag kom Oupa se voorman vertel dat Stofjas deur ’n swerm bye gepak is, net daar by die turksvybos, hy lê stokstyf. Dadelik bars daar op die stoep wéér ’n bohaai los, erger as dié van gister. Almal gaan kyk, ek agterna. Toe ons daar kom, is Josh reeds daar. Hy sit op sy hurke by Stofjas, ek dink hy huil.

Eers staan ek eenkant, maar nuuskierig­heid trek my nader. Stofjas lyk anders, klein en ingekrimp, net sy pens is opgeswel. Sy lippe is weggetrek sodat sy tande wys, amper asof hy lag, of dalk balk hy van pyn, al is hy dood. Die brommers loop oor sy gesig. Ek ril.

“Ons sal vandag nog moet gat grawe, hy kan nie hier bly lê nie,” sê Oupa vir die voorman.

Só word Stofjas op Nuwejaarsd­ag begrawe. Toe die werkers hom na die gat sleep, kalk strooi, begin toegooi, pak ’n koorsighei­d my, ek begin bewe. Ek wil ’n graaf gryp en help toegooi, maar Josh spring vorentoe, pluk die graaf uit my hande.

“Gee pad!” snou hy. “Jy’s nie ’n donkie se gat werd nie!” en voordat ek kan keer, bestook hy my met kluite totdat Oupa hom keer en my huis toe vat.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa