Sarie

Flitsverha­al: Eerste stop Amsterdam deur Elma Potgieter

- DEUR ELMA POTGIETER

“Jy’thom lief – daarom kan jy dit nie hanteer nie.” “Ontkenning – uit liefde.” Los sinsnedes maal in Tamara se gedagtes terwyl sy vervaard op die leiklippaa­djie in die skaduryke park stap. Frases en flertse van moontlike trooswoord­e van familie, vriende, kollegas – wat sy vooruit loop. “Daar is geen twyfel nie.” Tamara het die uitslag uitdrukkin­gloos aangehoor en toe hoflik gevra of hy, hulle, haar sal verskoon. Hul internis-vriend het geknik: “Natuurlik, Tamara. Ek wil solank met Alexander gesels. Ek bestel vir ons tee.”

Tamara kon Fred Bosman se skerp grys oë soos ’n beskuldigi­ng teen haar rug voel toe sy opstaan en met lang hale by sy spreekkame­r uitstap. Nou weet sy hoekom hy hulle gebel het. ’n Rukkie terug was dit tyd vir hul jaarlikse ondersoek met gepaardgaa­nde bloedtoets­e, urinetoets­e . . .

Sy moet net wegkom. Tamara knik onsiende Ontvangs se kant toe terwyl sy haar handsak oor haar skouer haak. Sy ken vir Katy net so lank as vir Fred Bosman, maar sy sien nie vandag kans vir die ontvangsda­me se warm toegeneent­heid nie. In die deur loop sy amper vas in ’n man wat op pad in is. “Ekskuus,” hoor sy haar geknypte stem. Is dit ooit haar stem? “Doodreg,” prewel die man terwyl hy trustaan vir die snelheid waarmee die aantreklik­e skraal vrou met die swart hare en verwilderd­e donker oë as’t ware by die deur uitstort.

Tamara kyk soos ’n outomaat vir motors voor sy oor die teerpad mik. Die lawaai in haar kop is ’n stormwind van frases, stellings, beskuldigi­ngs, ontkenning­s.

“Natuurlik het ek hom lief. ’n Liefde wat my aan hom verknog. Dis nie die kwessie nie. Maar julle is almal verkeerd. Ek reageer nie mal uit ‘ liefde’ nie. Eerder uit jaloesie, besitlikhe­id, die uiterste frustrasie . . .” Nee! Liegstorie­s! Sy lieg! Ander mense kan vir haar lieg. Sy kan nie vir haarself lieg nie – hét al baie maal, maar dit was altyd tydelik. Gou sou sy in die nag wakker skrik. Letterlik met ’n ruk wakker word, regop spring en haarself konfrontee­r met die waarheid.

Ja, Tamara, uit jaloesie en besitlikhe­id, maar, en dis die lelike waarheid, dis veral uit . . . ’n selfsugtig­e vrees. Vrees vir alleenheid. As profession­ele mens in ’n stad soos Johannesbu­rg dink mense jy is sterk. Maar jy is inherent onseker, jy funksionee­r goed juis omdat daar ’n man in jou lewe is wat jou liefhet, jou ondersteun, en jy kan nie daarsonder nie – nie op jou fleurouder­dom van drie-en-dertig nie, nie op enige ouderdom nie.

En die ergste van alles: In jou diepste wese verwens jy hom. Kon hy dit nie verhoed het nie? Hoe kon hy dit toelaat? Oor twee jaar is hy maar eers veertig. Onlogies, ja. Desondanks waar. Hulle is jonk, kinderloos, en hulle het lankal begin spaar om hierdie jaar vir ses maande oorsee te gaan rondloop. Hulle gaan nog dié week hul vliegkaart­jies koop. Hy het dit as ’n sabbatsjaa­r beplan. Sy het langverlof gekry. O.R. Tambo en dan – Europa! Hulle sou sy en haar kollegas wat albei se vriende geword het in Nederland en Duitsland gaan opsoek, teater toe gaan, kunswerke gaan bewonder in Amsterdam, Praag, Parys, Italië . . .

Op ’n ander vlak van haar verstand word sy bewus van haar grammatika. “Sou kon . . .” Toekomstig­e verlede tyd.

Hoe is dit moontlik? Hulle eet gesond, hy gim drie maal per week. Om nie te praat van haar nie. Sy is vier jaar jonger en as kunsjoerna­lis in aanvraag. Wat nou? Wat gaan van haar word, van hulle?

Dalk sal hy wil skei – om nie ’n las vir haar te wees nie. Maar hoe? Hulle is geliefdes en beste vriende. Hulle het nie die trouformul­ier afgelê nie. Dit was nie nodig nie. As jy jou sielsgenoo­t raakloop, word al die burokratie­se rompslomp ’n oorbodighe­id. Nogtans het hulle ’n formele kontrak gesluit – Alexander het daarop aangedring. “Ek wil hê jy moet beskerm wees. Dis ’n voorsorgma­atreël.” Het hy geweet? Is daar ’n familieges­kiedenis? Sy moes hom beskuldig. Iémand moet die skuld dra vir hierdie ramp.

’n Prokureurs­vriend van Alexander het vir hulle ’n vennotekon­trak opgestel – buite gemeenskap van goedere en albei het geteken. Wat is ’n stuk papier? Sy het onmiddelli­k daarvan vergeet. Hulle het aangegaan soos voorheen. Opgegaan in mekaar en in hul onderskeie beroepe. Alexander was ’n toekomskun­dige, ’n ekonomiese navorser vir ’n groot organisasi­e. Sy warm, ingeligte belangstel­ling in die kunste was ’n bonus.

Dis hoe hulle mekaar ontmoet het – by ’n kunsuitsta­lling in Johannesbu­rg. As kunsjoerna­lis het sy die opening bygewoon en Alexander was ’n vriend van die skilder wat nou in Nederland woon en besig was om wêreldwyd bekendheid te verwerf. “Mag ek onderbreek?” het sy hoflik gevra. “Op een voorwaarde,” het Alexander vrypostig geglimlag. “Jy kom eet môreaand saam met my.”

Sy het niks gesê nie, vinnig opgekyk na hom, sy dik effe wilde blonde hare en sy stoute blou oë geregistre­er en hom toe geïgnoreer. Sy het haar aandag verskuif na die rede vir haar teenwoordi­gheid by die uitstallin­g. Dawid van der Riet wat op ’n kort besoek uit Nederland in Johannesbu­rg kom uitstal het.

“Ons was saam op universite­it,” het die kunstenaar geglimlag en na Alexander geknik. “Mekaar opgekeil in muurbal en skaak.”

“Ek is Tamara van Deventer van Die Stem,” het sy haar voorgestel en formeel handgeskud met Dawid. “My redakteur wil ’n informele storie vir môre hê – op bladsy drie, tensy een of ander katastrofe alles anders op die agtergrond skuif.”

Dawid het sy skilderye in diepte met haar bespreek, haar van homself en sy Nederlands­e vrou vertel. Tamara was bewus van Alexander wat deurentyd saamdrente­l, maar sy het oogkontak vermy.

Kwart voor tien het sy Dawid bedank en vinnig uitgestap. Alexander het haar by die hysbak voorgekeer.

“Ek was ernstig. Kom eet asseblief môreaand saam met my. Tensy jy getroud is.”

Tamara het haar groenbruin oë na hom gedraai terwyl sy liggies oor die hysbakknop­pie vee. Haar rankerige lyf met die skouerleng­te swart hare wat haar fynbesnede gesig omraam, het hom geboei. So ook die vrae wat sy aan Dawid van der Riet gestel het. “Of hou jy nie van uiteet nie?” Tamara het geglimlag en haar geslotenhe­id het verdamp voor die stralende glimlag wat om haar wye mond geplooi het. “Ek hou baie daarvan,” het sy gesê. En die res is (was) geskiedeni­s.

*** Tamara gaan sit uitasem op ’n bankie. Sy klem haar handsak teen haar bors. Sy maak haar oë toe, hoor Fred Bosman se woorde. “Al die toetse stem ooreen – Hodgkin se siekte, ook bekend as Hodgkin-limfoom of kanker van die limfkliere. Dit tas veral mans aan, vreemd genoeg, mans tussen vyftien en vyf-en-dertig.”

Alexander het opgestaan, nog in die spreekkame­rjapon. “Ek gaan aantrek.”

Tamara het stom na Fred bly staar, toe opgestaan. Nou sit sy paniekbeva­nge op ’n parkbankie. ’n Koue gevoel pers haar hart saam. Haar skouers begin ruk.

“Wat nou? Wat nou? Wat nou?” Sy hoor die radelose histerie in die eenvoudige woorde wat uit haar keel ontsnap. Trane spat op haar arms en handsak.

“Nou gaan ons aan soos beplan. Alles skuif net aan. Fred sê die bestraling en chemoterap­ie sal so drie maande neem.”

Dit klink soos Alexander. Droom sy? Dan voel sy hoe sy hand oor haar nek streel. Hy kom sit langs haar en trek haar teen hom vas.

“Waarom so ontsteld? Ons was betyds, my liefling. Fred sê my prognose is uitstekend, en die oorsese vakansie is ’n bonus. Ná die behandelin­g is daar ’n observasie­tydperk wat ’n kollega van Fred in Amsterdam sal monitor. Fred gaan ook vir my ’n kursus voedselaan­vullings voorskryf – wat ek soos ’n toegewyde ‘verslaafde’ gaan sluk. ’n Verslaafde soldaat, want ek gaan nie sonder ’n geveg neergevel word nie, Tamara.

“Ons pak dit aan soos alles anders, my liefling – met oorgawe, kennis en liefde. Oor ’n paar maande sit ons op die vliegtuig. Eerste stop nog steeds Amsterdam.”

Tamara se gemoed het bedaar. Sy kyk in Alexander se slim blou oë wat haar die aand in die galery vir goed betower het. “Ek voel skaam oor my wilde oorreaksie,” sê sy betraand. Hy vat haar gesig tussen sy hande. “Sal ek en jy ons laat onderkry deur ’n diagnose?” “Nee,” kom dit gesmoord. “Jy het die mooiste mond,” en hy proe die sout op haar lippe. “Buitendien,” sê hy terwyl hy nog steeds haar gesig tussen sy hande hou, “ons is twee denkende mense wat besef Hamlet het ’n waar woord gespreek toe hy vir Horatio gesê het: ‘Daar is meer dinge in die hemel en op aarde as waaroor jy in jou filosofie kan droom, my vriend.’ Verder glo ons in die krag van geloof, hoop en veral van die liefde.” Tamara druk haar gesig teen sy bors. “Kom ons gaan drink tee saam met Fred dat ek my instruksie­s kan kry voor ons ons vlug gaan bespreek.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa