Simon Barnard: ‘Die gelukkigste jaar van my lewe’
Stories vertel is in sy bloed. Hoe anders as enigste kind van regisseur Katinka Heyns en skrywer Chris Barnard. Maar Simon Barnard kies sy eie koers. Sy eerste vollengte rolprent as regisseur, Die Rebellie van Lafras Verwey*, is pas bekend gestel
Dis ’n verhaal waaraan jy en jou pa vir oulaas kon saamwerk – hy is oorlede voor hy die eindproduk kon sien. Was dit moeilik om die fliek te voltooi?
Dit was moeiliker as wat ek kan beskryf. Om konstant met sy werk gekonfronteer te word direk ná sy dood was pynlik.
Julle het saam aan dié draaiboek geskryf. Watter herinnering (hieraan) sal jy veral koester?
Die tyd wat ons saam spandeer het tydens die verwerking, was kosbaarder as enige ander aspek. Heel moontlik die gelukkigste jaar van my volwasse lewe. Ek kan nie een oomblik uitsonder nie. Miskien die oomblik toe ek besef het hy hou van my verwerking van sy radiodrama van 1971. Veral oor hy aanvanklik skepties was oor my idee om sy oorspronklike storie te moderniseer.
Hoekom het die hoofkarakter Lafras Verwey jou van kleins af so gefassineer?
Ek kan nie onthou wat presies my geprikkel het nie. Nes Lafras was ek, as sesjarige, baie geïnteresseerd in soldate en oorlog. Verder is die karakter ’n loner wat moet staatmaak op sy eie verbeelding. Ek kon ook daarmee identifiseer. Ek onthou my juffrou Elsabé Kok sou gereeld vir my ouers sê: “Hierdie kind hoor ander musiek in sy ore.” En met Lafras is dit letterlik die geval.
Jy’t voor Tobie Cronjé grootgeword. Hoe was dit om vir hom opdragte te gee en saam met hom te werk?
Tobie het dit vir my maklik gemaak. Ek kon nie vra vir ’n beter hoofakteur nie. Ons het onder geweldige druk gewerk en hy was ’n bron van hoop. Nie net vir my nie, maar vir ander ook.
Watter regisseurs en storievertellers inspireer jou?
Natuurlik my ouers. Dan die Mexikaanse regisseur Alejandro González Iñárritu van Birdman en The Revenant, en die Amerikaanse Damien Chazelle bekend vir Whiplash en nou La La Land. Albei kry dit reg om outentieke werk te lewer wat hul kykers affekteer. Ook om die skeiding tussen kuns en kommersialiteit te oorbrug. Dis iets wat min mense regkry.
Watter plek in die wêreld wil jy veral sien?
Ek sou graag weer Italië wil besoek, veral Venesië, Assisi en Portofino. Dis drie van die mees magiese plekke waar ek al was.
En toe word Donald Trump Amerika se 45ste Amerikaanse president. Jou opinie?
’n Vriendin van my het dit goed gestel: “He’s a clear indication that stupidity is winning.”
Die Springbokke het verlede jaar ’n slegte seisoen beleef. As jy afrigter was, wat sou jy anders doen?
Ek sou bedank het as afrigter en my aan jukskei toegewy het.
Watter ander talente en stokperdjies het jy?
Ek was nog altyd goed met illustreer en het as kind ’n paar pryse gewen. Op universiteit ook. Jare gelede was ek baie lief vir boks, maar moes weens mediese redes ophou. Dis maar beter so . . . Ek was beslis nie die volgende Roberto Durán nie. Ek moet meer teken . . . En minder tyd spandeer op my foon.
Na wie se musiek kan jy oor en oor luister?
Dis ’n moeilike een. Ek hou van ’n hele paar musikante. Trent Reznor is een van my groot helde . . . Veral sy vroeër werk. “The Downward Spiral”, “Pretty Hate Machine” en “The Fragile”. Maar vir oor en oor luister . . . Ek gaan sê Eminem. Hy’s ’n ongelooflike storieverteller. Ek het hom sien optree in Kaapstad in 2014 en my mond het tydens “Rap God” oopgehang. Sy rap- vermoë is byna bonatuurlik. Hy’s ’n ware kunstenaar. Ek’s egter nou op ’n plek waar ek weet ek moet fokus op lig eerder as op donker. As ek kon teruggaan, sou ek meer Classic FM luister soos my ouers altyd het. Dis meer gebalanseerd en maak ’n mens rustig. Tans speel ek Beethoven se “Egmont”-overture oor en oor.
As regisseur van ’n Lewe met . . . op kyknet wou jy wys daar is hoop vir mense wat aan sekere siektes ly – ook dat geestesiektes nie ’n tronkstraf is nie.
Ek dink daar is vandag meer begrip vir die effek van angs op mense. Miskien omdat soveel van ons dit ál meer eerstehands ervaar. Ek wil mense wat indirek geraak word, aanmoedig om by hul geliefdes en familielede te staan. Ek weet nie waar ek vandag sou wees indien ek nie betyds hulp en ondersteuning ontvang het nie. Waarskynlik dood. Mense wat direk geraak word, wil ek aanmoedig om inligting te kry oor hul psigiatriese toestand. En hulle aanraai om versigtig te wees vir homeopatie en geloofsgenesing as primêre oplossing. Om lewensgevaarlike biologiese siektes te dokter met antieke dogma is onwys.
Saam met watter vier mense sou jy op ’n eiland gestrand wou wees?
Larry David, die Amerikaanse skrywer en komediant, net omdat ek hom baie amusant vind. As akteur is hy ook briljant met improvisasie. Die Britse skrywer en komediant Ricky Gervais is waarskynlik een van die mees intelligente en oorspronklike komediante. Die avonturier Bear Grylls om vuur te maak en vis te vang. En die Britse aktrise Felicity Jones vir vroulike geselskap. Ek vind haar baie aantreklik.
Wat is jou gunstelingwoord in Afrikaans?
Liewenheersbesie en toktokkie. Lees ook Praat met Tobie Cronjé op bl. 34.
Foto geneem by Idwala-gastehuis, tel. 011 888 1437, www.idwala.com