As die vlamme kom . . . Slagoffers vertel roerend
Ontstellende tonele van vlamme wat berge, plase en huise bedreig en afbrand, verskyn gereeld in die nuus. Die afgelope maande was van die ergste in die Wes-kaap. Die uitwerking van hierdie verwoesting is ingrypend – op die slagoffers en dié wat hulp verle
Aand ná aand is ons vroeër vanjaar geteister deur tonele van brande op die Tv-nuus . . . geel-oranje vuurtonge wat elke boom, blommetjie, skilpad of wildsbokkie wat nie vinnig genoeg wegskarrel nie, insluk. En dreigend nader aan huise kom.
Die brandseisoen in die Wes-kaap is tradisioneel van Desember tot April, maar in hierdie jongste seisoen was daar veel meer brande as die vorige sewe jaar, volgens Werk met Vuur ( WOF), ’n werkverskaffingsprojek van die regering wat fokus op geïntegreerde brandbestuur. Sowat 99% word deur menslike agterlosigheid veroorsaak, en die baie droë toestande en tierende suidoosterwind vererger dit. Die enigste hoop is brandspanne, wat bloed sweet om die vuur in bedwang te bring en te blus.
Mens en dier – asook plantegroei – staan hulpeloos voor die mag van onbeheerste vlamme. Dit maak jou angstig. Vroeg in Januarie moes party inwoners van Vredehoek en Oranjezicht teenaan Tafelberg laataand inderhaas vlug na veiligheid toe die vlamme hul huise bedreig het. ’n Orangoetang, vier bobbejane en 38 apies is inderhaas deur ’n versorger by die primate-toevlugsoord Pat Cavendish O’neill Animal Sanctuary op Somerset-wes uit hul hokke losgelaat omdat hy bang was ’n brand verswelg hulle, volgens die Dierebeskermingsvereniging (DBVSA). Diereliefhebbers het ook saamgespan om perde naby Sir Lowryspas na omliggende plase te bring toe brande gewoed en rook hulle bedreig het.
Vir ander het die brande hul wêreld vir altyd verander. Tussen Riversdal en Stilbaai het ’n familieplaas, Windsor, afgebrand nadat die vlamme oor die Goukourivier gespring en verwoesting >
< gesaai het. Windsor is die erfenis van Tobea Brink, skrywer van Franschhoek, en haar broer Jean du Preez, voormalige redakteur van Landbouweekblad. Toe Tobea die eerste Whatsapp-foto’s van die brand gekry het, het dit vir haar gevoel “asof ek die huis – ons vakansiehuis – met ons gesin se vakansieherinneringe wou opraap en na veiligheid dra. Maar dit was toe reeds tot ’n murasie verbrand.”
Jean se opstal, die huis waarin hul vier kinders (hy, Tobea, hul broer Jacques en sus Mariette) grootgeword het, het ook afgebrand, en sy dogter wil nou ’n koffieboek saamstel om iets oor die verlede te laat voortleef. “Lizanda se behoefte om herinnerings bymekaar te maak laat jou besef hoe diep so ’n tragedie in ’n familie sny,” sê Jean.
Ook Shany van den Berg, ’n kunstenaar van Stellenbosch, kan hieroor getuig. Sy onthou steeds 23 jaar later elke oomblik van die brand wat hul historiese huis in die Paarl vernietig het. Sy het die gevolge van die tragedie wel leer bestuur, maar die rook wat jy inasem, die chaos om jou, ín jou, bly vir ewig deel van jou, sê sy.
Maar brande bring ook heldedade na vore. Twee Suid-afrikaanse broers het ver van hier, op die Franse skidorpie Val Cenis Lanslevillard in die Alpe, sowat 64 gaste help red toe vuurwerk op Oujaarsaand ’n brand in ’n hotel laat ontstaan het. Die bekroonde rolprentvervaardiger Niel van Deventer en sy broer Marinus het op hierdie nag iets ervaar van wat soveel brandbestryders dag ná dag op groot skaal tydens die brandseisoen beleef.
Tobea reken ons behoort ’n nasionale dag vir brandbestryders te hê. “Almal wat teen vuur veg, verdien respek en bewondering. Jy kan dit nie na waarde ag voordat dit met jou gebeur nie.”
In Februarie is juis eer betoon aan Wes-kaapse brandbestryders by ’n eendagkrieketstryd tussen die Proteas en Sri Lanka op Nuweland. Haroon Lorgat, hoof van Krieket SA, het toe gesê: “Ons brandbestryders bied ’n waardevolle diens aan die publiek en het ongelooflike werk die laaste paar maande gedoen om ons lewe, eiendom en omgewing te beskerm, gewoonlik terwyl hul eie lewe in gevaar is.”