‘Dit is soos ’n gestrooptheid tot op die been’
Wanneer sy lees van ’n brand en hoe dit mens en dier raak, is daar ’n oomblik van onthou en saamrou.
Sy en Sarel het 23 jaar gelede by ’n verjaardagete, ’n blok van hul huis af, gehoor: “Jul huis brand af.” Hulle het nie geweet waar die kinders in daardie stadium was nie. Dit was ’n geskiedkundige woning in die Paarl met sy pragtige neoklassieke historiese gewel.
Shany, ’n kunstenaar, wat deesdae in die historiese kern van Stellenbosch woon, vertel hoe sy onlangs weer gevries het toe sy ’n toneel sien waar ’n huis afbrand in die Oscar-bekroonde rolprent
Manchester by the Sea. “Maar ek het besef ek moet net laat gaan en dink aan al die mense in trauma-situasies soos oorloë. Ons kies elke dag hoe ons na ons ervarings kyk.
“En tóg, die trauma van die apokaliptiese werklikheid wat jou as familie die dag ná die brand in die gesig staar – dit is soos ’n gestrooptheid tot op die been. Jy voel twee kante van die lewe: Die dankbaarheid dat jou kinders leef en die liefde van familie en vriende . . . Maar die totale verwoesting van jou lewe . . . dis iets wat jy vir niemand kan vertel nie. Wat dit is om die oggend daarna met niks te begin nie. Om na jou tandeborsel, ’n kind se teddiebeer of ’n paar geliefde kledingstukke te soek en te begin onthou wát jy als soek.”
Sy het ná die brand gesukkel met posttraumatiese stres, gekenmerk deur depressie, angsaanvalle, vrees, skuldgevoelens en slapeloosheid. Dit was ’n proses om daardeur te werk. En dit het týd geneem.
Deesdae bestuur sy haar emosies beter. Joga help veral. “Wanneer ek emosies rondom die gebeure herleef en paniekbevange raak, kan ek iewers ’n gelukkiger herinnering opdiep en deur my laat spoel, wat my weer rustig laat asemhaal.” Sy glo ook dit is belangrik om jare ná die tyd nog oor dinge wat seermaak te kommunikeer.
“Een van die dae is ons kleinkinders, Leah (6), Rede (4) en Elisa (2), byna so oud soos mý kinders, Theo (36), Roche (34), Izanne (32) en Sarlee (30), was toe die huis afgebrand het. Ek hoop so ons sal óns storie altyd vir mekaar bly vertel . . . In die oorvertel is baie genesing, ook die lekker onthoustories van die goeie en liefdevolle tye: kinderkonserte in die solderdak en samekomste van familie en vriende onder die rietdak, kosmaak in die vuurherd . . . daar is nooit ’n wegkom van so ’n gebeurtenis nie. Dit maak van ons wie ons vandag is en elke belewenis in jou lewe dien as bousteen van jou menswees.”