‘Ek wou afskeid neem, soos van ’n geliefde’
“Ek word dikwels oorval deur ’n vlaag van intense rou, maar ek het dit dadelik aanvaar. Die krag van die natuur is aangrypend.” Tobea en haar broer Jean was albei doodstil, verbyster, toe hulle die eerste keer die vernietiging van die brand op hul plaas tussen Riversdal en Stilbaai sien. Haar huis en dié van Jean is in die brand vernietig. “Dit was skokkend en surrealisties.” Sy het dadelik aan ’n Siriese vriendin gedink wat daagliks soortgelyke vernietigende tonele sien.
Ironies genoeg was dit Tobea se oorlede ma se grootste vrees dat die rietdakhuis, wat Jean later geërf het, eendag sou afbrand.
In haar geestesoog sien Tobea nog verekomberse, die muurklok, stapskoene, haar oorlede ouma se kierie, ’n kis wat saam met hul Hugenotevoorsate na die Kaap gekom het, gunsteling-boeke, die hond se bed.
“Dis nie vir ons geldelik moontlik om die huis weer op te bou nie. ’n Lewensfase is afgesluit. Ek het een van my dogters, Hestia, daarna nog een keer genooi om langs ons murasie te gaan slaap, en ’n vriendin van my en dié se dogter is ook saam. Ek wou afskeid neem. Ons het sjampanje gedrink uit bekers wat ons in die rommel opgetel het, saam na die sterre gekyk. ’n Brand kan nie ’n einde maak aan wat daardie stuk grond vir ons beteken nie.”
Tobea is dankbaar oor die herinneringe. “Dít help om die skok en verlies te verwerk. Sê nou iemand het gebel en gesê een van my kinders is dood! Dit plaas alles in perspektief. Baie mense in die omgewing moes hul landerye en woonhuise sien afbrand, diere sien ly. Vir ons was dit ’n vakansiehuis.”
Gelukkig was hul diere ongedeerd. “Die skape het in ’n bondel gestaan, seker maar in die rondte gemaal van angs. Bure het die hekke vir die beeste oopgemaak om te vlug. Van die boere moes hul diere keelafsny omdat hulle verbrand het.”
’n Paar weke later het hulle op dooie skilpaaie, ’n bosbok met seergebrande pote, ’n dooie slang en duikertjie afgekom, vertel sy. “Daar’s ook baie roofvoëls en die klein velddiertjies het nie veel skuiling teen hulle nie. Op die eerste dag ná die brand het ons ’n eensame dassie op ’n krans gesien, sonder ’n sprietjie om te eet. Hy sou ver moes loop na groenigheid, deur dik, warm as waarin ek tot by my enkels gesak het, om kos te kry.”
Maar onlangs het dit weer gereën, daar is tekens van groei. “Die diere sal mettertyd weer terugkom.”
Tog glo sy dit kan tot ’n dekade duur voor die veld weer heeltemal sal herstel.