Sarie

Lag saam met Tobie Cronjé

Sy loopbaan voel groter, wyer as ooit, sê die geliefde komiese akteur Tobie Cronjé. Vanjaar sien ons hom in uiteenlope­nde rolle – sy ernstiger kant in die fliek Die rebellie van Lafras Verwey, en in die musiekblys­pel Heidi sing hy sowaar!

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE FOTO’S PHYLLIS GREEN STILERING FANIE CRONJÉ

Desember in die restaurant-saal van die Kaapstadse Internasio­nale Lughawe.

Ek wag op die akteur Tobie Cronjé, wat vir ’n heen-en-weertjie van Johannesbu­rg af Kaap toe kom. Hier, tussen die bont klank en kleur van ’n uitbundige klomp mense op pad na ’n vakansiebe­stemming, gaan ons gesels. Op plastiekst­oeltjies met ’n uitsig oor die rustelose gang van vliegtuie.

Dis net hier waar ek aan my koffie verstik. Ek hang snakkend na asem oor die tafeltjie, rooi in die gesig. Niemand knip ’n oog nie. Ek kan aan die man naaste aan my vat – hy kyk nie eens op nie.

Afsydighei­d maak in ’n oogwink plek vir warmte toe Tobie oorkant my neersak. Vriendelik­e gesigte draai na ons toe, skielik is ek almal se pêl.

Die Tobie-effek. Sy slungel-lyf en kenmerkend­e kakebeen is gemaak vir ’n spotprentk­unstenaar. Voeg sy nasale stem by en siedaar . . . gebore vir komedie, sy forte.

Maar dis sy labrador-oë wat jou bybly. Omring met láng, syerige wimpers waarvoor enige vrou sou smeek. ’n Sagte siel, nederig. Wat sy arms beskermend om hom vou terwyl hy sy sit op die harde wit stoeltjie probeer kry. Uit sy bont drasak (Pandora se boks?) tower hy soja-poeiermelk vir sy koffie op. Weens ’n allergie drink en eet hy al 23 jaar lank geen suiwel en gluten nie. Ook nie vleis nie. Vis, ja, maar net in restaurant­e.

Langs hom lê sy vliegtuig-leesstof: Sogyal Rinpoche se The Tibetan Book of Living and Dying. Genoeg om jou enige ligsinnige vrae te laat sluk.

Maar Tobie het ’n aardse humorsin wat ons gou soos ou vriende laat voel. Hy bied aan om die diktafoon in sy hand te hou – kompensasi­e vir ons jubelende omgewing. En sy sagte stem! “Ek werk mos met mikrofone.”

Net so. Seker lankal ophou tel in hoeveel flieks, TVen verhoogrol­le hy was. Hy is verskeie kere bekroon en is dekades al ons gunsteling- komiese akteur. Janice Honeyman-pantomimes, klugte ( My boetie se sussie se ou, My vrou se man se vrou) ...

Vir baie mense begin sy loopbaan by Willem in TV se

< jongdae. Voor sy rol as dié Mr Bean-agtige karakter was hy egter vier jaar by die destydse TRUK. Hy en Katinka Heyns was die komiese duo in einste Willem en flieks soos Die sersant en die Tiger Moth (1973) en Babbelkous (1974). Sy is nou beter bekend as rolprent/tv-regisseur en -vervaardig­er. Hulle is steeds vriende, sielsgenot­e. Soos Tobie sê: “Ons het inmekaar gegroei.”

Dis so half die voltooiing van ’n sirkel dat sy medevervaa­rdiger is van die tragikomie­se fliek Die rebellie van Lafras Verwey*, waarin hy die hoofrol speel. ’n Rol wat volgens hom net eenmalig na ’n akteur se kant toe kom. Daar was tonele waar hy vergeet hy speel toneel, hy iemand anders word, vertel hy. Hy en Lafras was dan één.

Dis ’n verwerking van die destydse radioverha­al en verhoogstu­k deur skrywer Chris Barnard, Katinka se man wat in Desember 2015 oorlede is. Hul seun, Simon, het saam met hom die draaiboek geskryf en is die regisseur. Tobie het in 1975 ’n toekenning gekry vir die naamrol in die verhoogstu­k.

Ons sien ’n ander kant van Tobie, in ’n rol wat hyself as “hartseer” beleef het. Lafras is ’n dromer met ander musiek in sy ore. Hy kan nie die werklikhei­d aanvaar nie. “Ek sê heeltyd vir Simon: ‘Lafras is so ’n arme sot, so verdwaal, die arme ou ding.’ Ek het hom jammer gekry.”

Sowat 40 jaar later trek jy weer Lafras se skoene aan. Jy is ouer en die draaiboek daarom aangepas . . .

Ek is bly jy sê ouer en nie oud nie! Die ouderdom is relatief, soms voel ek 80 en ander dae 18. Dis nogal lekker om ouer te word. Ek het baie meer berusting – ek voel gelukkig, wat ek nie noodwendig in my jongdae was nie. Jy het dan soveel passie, wil soveel uit die lewe hê . . .

Die draaiboek was Chris Barnard se laaste, hy is dood net ná die fliek geskiet is. Dis daarom seker vir jou ekstra spesiaal?

Baie mense was bang vir hom, hy kon stug voorkom en het baie gravitas gehad. Ek was te dom om dit te begryp, ek het net van hom gehou. Ek dink hy het daarom van my gehou, ek het hom nie geja-baas nie.

Hoe was dit om saam met Simon te werk, jy het hom sien grootword?

As regisseur het hy my geneem na ’n plek waar ek as akteur nog nie was nie. Ek het ’n nuwe deel van Tobie ontdek en ontgin. Hy was geduldig en het my duidelik laat verstaan hoe Lafras se kop werk. Dit sal wonderlik wees as hy my en Katinka op die verhoog kan regisseer. In die regte stuk. Voor ons te oud is.

Ouderdom is net ’n nommer, almal het ’n plek, hoor ons dikwels. Voel jy ooit jou werksplek raak kleiner?

Die teenoorges­telde, dit voel groter en wyer. As my energievla­kke tog maar net dienooreen­komstig gestyg het! Ek was verlede jaar in drie flieks, die meeste nog. Lafras Verwey, asook die komedies Chemo Club met Brümilda van Rensburg en Lillian Dube [wat later vanjaar te sien is] en Snaaks genoeg met Casper de Vries [reeds uitgereik]. Daarin speel ek ’n moordenaar! Dis almal sulke uiteenlope­nde karakters.

Jy is vir ’n Fiësta** benoem vir jou rol as Juffrou Rottenmeie­r in die musiekblys­pel Heidi. Sing jy die eerste keer? En kán jy?

Ek het in die laat sewentigs ’n toekenning gekry [beste vertolking in ’n musiekblys­pel] vir I Love My Wife, met oorlede Joan Brickhill [eerste dame van plaaslike musiekteat­er] en Louis Burke as regisseurs. Ek kan nie sing nie . . . ek kom weg met karakter-sang. Joan het my ook leer dans en Amerikaans praat!

Die kelnerin onderbreek ons. “Daardie twee vroue wil graag ’n foto saam met jou neem.” Tobie staan op en gaan gesels.

Wil jy aanhou speel tot jy omkap?

Werk hou jou aan die gang, maar as dit te veel is, stres jy. Ek wil bietjie stadiger, minder doen vanjaar. Ek sukkel om my woorde te leer. Dit was nog altyd so, maar raak bietjie erger.

Die zany panto-karakters waarvoor jy geliefd is, verg baie energie. Help tai chi, wat jy al jare doen, jou om by te hou?

Jy moet fiks wees vir panto, ja. Einde 2017 is ek Geppetto in Pinocchio, darem ’n kleiner rol. Tai chi hou jou soepel en leer jou om jou energie te kanaliseer. Dis soos ’n gechoreogr­afeerde dans, stadig, maar maak jou fiks, laat jou sweet. Dis ook maar in jou kop, moegheid.

Jy doen self jou grimering vir pantomimes – jou manier om in ’n rol te glip?

Dit vat lank, sowat twee uur. Omdat dit so stadig is, fokus dit jou. Dis ook kalmerend. En dan spring die karakter uit die spieël! En neem so half oor.

Mense sien jou as die ewige entertaine­r, maar jy is eintlik ’n introvert?

Drama behoort verpligten­d op skool te wees. Dit leer jou selfvertro­ue, ook om ander mense raak te sien, buite jouself te leef. Op universite­it het ons geleer om mense dop te hou, hul gewoontes, die manier hoe hul gesig werk, sodat jy dit kan namaak. As jy ’n teks ontleed, begin jy vra wat dit eintlik binne die groter geheel van die lewe beteken. Dis ook ’n uitlaatkle­p vir frustrasie­s. Jy speel die rol van ’n moordenaar en ontlaai só. Maar ná elke skoot kan jy daaroor lag.

Jy het sulke aggressiew­e impulse? Nooit!

My werk help daarmee. Dis terapie. [Laggie.] Ek het ook maar my probleme.

Jy het jare lank al ’n belangstel­ling in die Boeddhisti­ese filosofie. Help dit met krisisse in jou lewe, soos die dood van jou lewensmaat, William Pretorius, tien jaar gelede?

Dit bly pynlik, maar daar is ’n deel van jou wat sulke dinge verstaan. Sielkundig­es noem dit jou “ware self ”. Wat onbetrokke kyk na alles wat gebeur. En dan die “ego”, die

< deel wat huil, vloek en swets. As jy leer om meer te identifise­er met die eerste deel, voel jy rustiger, kalmer. Alles gebeur soos dit moet. Vanoggend op die vliegtuig sê ’n ou: “As dit net anders was.” En ek: “Jy hunker na ’n alternatie­we werklikhei­d wat nie bestaan nie. Sien eerder dinge soos dit is. Jy vind dan makliker oplossings vir die toekoms.” Dit gesê, dis soms goed om jou speelgoed uit die cot te gooi. Dan skrik mense.

Doen jy dit soms?

Ja, soms verkeerdel­ik. Mense dink ek is so wonderlik, maar ek is net ’n gewone ou. Maar hoe ouer ek word, hoe kalmer is ek. Dalk raak ek net stadig aan die slaap!

Stres jy soms?

Voor ’n toneelstuk se openingsaa­nd, baie. In flieks kan jy altyd ’n skoot oordoen . . . Vanoggend op pad lughawe toe het ek nogal gestres. Verlede jaar het ek ’n vlug verpas. Ek was dus vandag lekker vroeg daar.

Met jou voorkoms is jy uitgeknip vir komedie. Het jy ooit gevoel dis ’n nadeel, dat jy ernstiger goed sou wou doen?

Hamlet, ja, toe ek jonk was. Ek en Rina Nienaber het dit een tyd oorweeg, met haar as Ophelia. So ’n alternatie­we produksie, komies. Dit het nooit gebeur nie. Ek dink enige jong akteur hunker na drama, storm en drang en om die groot romantiese held te wees. [Lag.]

Om ’n goeie komediant te wees is tydsbereke­ning noodsaakli­k. Is dit iets wat jy kan aanleer?

Dalk met moeite en harde werk. Ek is geseën daarmee vandat ek jonk was, sonder dat ek dit eens besef het. Dalk is dit die tempo waarteen my brein werk, bietjie stadig! Die lewe is vandag so vinnig. Tv-programme is net so tjop-tjop-tjop. Ons verloor die eerlikheid, diepte van dinge. Te veel mense kyk deesdae oppervlakk­ig na goed. Dit bekommer my nogal.

Wat laat jou lag dat jy jou maag vashou?

Anderdag stuur iemand vir my ’n video-tekenprent­jie. Ek lag elke keer dat ek daarna kyk. Dis op ’n vliegtuig, die meisie nies aanmekaar en dan sidder sy so. “Jammer,” sê sy vir die man langsaan. Nee, sê hy, enigeen kan nies. “Maar daai siddering telkens is nogal vreemd?” Sy het ’n seldsame probleem, antwoord sy. Elke keer dat sy nies, kry sy ’n orgasme. Jy sien sy gesig, hoe hy reageer. “Wat gebruik jy daarvoor?” “Peper,” sê sy en niés. Dis so onverwags snaaks!

Moet jy dink ’n rol is snaaks om daarin te speel?

Om die snaaksheid te kan uitbring, ja. Ek kan andersins daarin speel, maar wat ek doen, gaan nie noodwendig snaaks wees nie. Ek moet verstaan waar die komedie lê. So nou en dan lag mense sonder dat ek weet ek is snaaks. Soos toe ek myself op Tuks in die dramaklas voorgestel het: “Hallo, ek is Tobie Cronjé en ek kom van Germiston.” En almal skaterlag. Gewoonlik voel ek dan ’n bietjie verleë.

Jy speel vreeslik mooi klavier . . .

Hoe weet jy? Dis dalk vreeslik lelik! My ouma was ’n musiek- onderwyser­es, my ma ’n uitstekend­e violis totdat sy haar pols gebreek het. Sy en my pa het albei vir die Johannesbu­rgse Simfonieor­kes viool gespeel, hy as amateur. Hulle het gereken ek gaan ’n pianis word, maar daar was ’n paar teleurstel­lings. Op 14 kon ek saam met ’n klein orkes van TRUK speel. Ek het hard geoefen en die stuk goed geken. Maar op D-dag maak ek ’n fout. En wéér. Dit het my geknou, ek was nog so jonk. Ná matriek wou ek Bmus swot, maar op die nippertjie skryf ek op die inskryfvor­m . . . drama. Spyt was ek nog nooit.

Wie sou jy graag wou ontmoet?

Wee’ jy, Donald Trump. Ek sou graag wou weet wat laat hom tiek. Is dit net ’n fasade, of is hy rêrig so? Ek sou hom tai chi wou leer. Hy kan my leer mure bou. [Lag.]

Met jou mooi pianis-hande?

In my twintigs het ek ’n braai gebou en dit staan nog! Toneelspee­l is moeilik om vas te vat, dis so ephemeral. Jy is op die verhoog en dan . . . geen bewys jy’t dit gedoen nie. Al glo ek nie baie in die konkrete wêreld nie, is dit al wat ons het, ’n geskenk. Daardie braai is iets wat ek gemaak het.

’n Man stop. “Ek wil net graag jou hand skud. Jy het my al soveel plesier verskaf.”

“Daai glimlag, dit kan om sy kop gaan,” glimlag Tobie agterna. “Mense kyk, maar het nie altyd die moed om te kom praat nie. Hulle maak hulself vir my oop. Ek is gelukkig.”

Drie woorde wat hy telkens uiter, in ’n gesprek wat wyd loop: Van Adam en Eva tot by die kwantumfis­ika. Want geluk, sê hy, is waaroor die lewe mos maar eintlik gaan.

Lees ook die kort onderhoud met Simon Barnard, regisseur van Die rebellie van Lafras Verwey, op bl. 54.

Foto’s geneem by Universite­it van Johannesbu­rgkunsgale­ry, tel. 011 559 2099

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa