Sarie

Altyd ’n stukkie drama

Byna vyftien jaar al omskep Floris Louw Nataniël se verbeeldin­gsvlugte in manjifieke kostuums. Fabelagtig­e ontwerpe wat teater op hul eie is . . .

- DEUR SUZETTE TRUTER FOTO PHYLLIS GREEN STILERING FANIE CRONJÉ

Op die dorpie Hectorspru­it, tussen Malelane en Komatipoor­t in Mpumalanga, skyn daar altyd in die middernagt­elike ure ’n strepie lig net bokant die garagedeur­e van een huis in Sekelbosst­raat.

Hier, in sy ateljee, skep ontwerper Floris Louw die fabelagtig­e kostuums wat al Nataniël se handelsmer­k geword het. En op die oomblik is hy letterlik omring met “tonne” materiale, teksture, kleure, vere, kostuumjuw­ele, brokaat, kristalle, blomme . . . die eerste fase van sy werk vir Nataniël se jongste produksie, 30 Years, 90 Minutes, wat sy drie dekades op die verhoog vier.

Geen ruimte sal óóit groot genoeg wees vir Nataniël se kostuums nie, sê Floris, net half-skertsend. “Een van my grootste uitdagings was toe ek nog in Pretoria in ’n tuinwoonst­el gebly het. Dit was ’n uitrusting met ’n 15 meter lange sleep, én dit was so breed soos die verhoog. Aan die binnekant van die jas was ’n reuse-arend van goud wat later op die verhoog opgehys is. Ek moes al my gordyne afhaal en die jas aan die gordynkapp­e vashaak . . . die hele plek was toe onder lap, drie maande lank!”

Floris het al maklik meer as 1 000 kostuums vir Nataniël en sy band gemaak sedert hulle sowat 15 jaar gelede begin saamwerk het.

Deur die jare was Nataniël al ’n boom vol blare wat binne sekondes verander in ’n droë winterboom met wortels. Hy’t al ’n manjifieke draakjas met silwer, goue en brons skubbe gedra, met ’n reuse-stert waaruit ’n danser “verskyn” en begin dans het. En dan was daar die pikswart gestruktur­eerde fabriekspy­p-rok met miljoene spierwit konfetti (besoedelin­g) wat uit die dak neerdaal. En dis maar drie van Floris se gunsteling­e . . .

Hy’t sy eerste uitrusting vir Nataniël gemaak toe hy nog ’n student aan die destydse Pretoriase Technikon was. Nataniël se kostuumont­werper, James Edward Moulder, sou emigreer en hy’t ’n paar studente wat by hom klasgeloop het, genomineer wat dalk sou kon oorneem.

“Nataniël het gevra ek moet vir hom ’n hemp, baadjie en jas maak – dit was meer out there as enigiets wat ek toe al in my lewe geskep het. Hy’t my weer gevra en nooit weer opgehou nie.” >

< Aanvanklik het Floris ook trou- en aandrokke gemaak terwyl hy in Pretoria gewoon het, maar buiten dat dit hom begin verveel het, het hy ook besef hy is glad nie ’n goeie sakeman nie. (Sy saggeaardh­eid en beskeidenh­eid val jou dadelik op as jy met hom gesels.) “Ek is skamerig, ’n introvert, ek het nie kans gesien vir al die drama nie, ek kan nie rekeninge uitstuur of baklei as mense nie betaal nie.”

Floris ontwerp regdeur die jaar vir Nataniël en soggens doen hy administra­sie by die familie-ondernemin­g op Hectorspru­it, waar hy die afgelope agt jaar woon. Twee, drie keer per maand ry hy Pretoria toe – dan kry hy kans om sy man, David, te sien wat daar werk, doen aankope vir die uitrusting­s en hou produksiev­ergadering met Nataniël.

Hul eerste vier uur lange sessie is altyd verfrissen­d. “Nataniël weet presies wat hy wil hê wanneer hy met ’n nuwe garderobe begin. In sy kop het hy reeds die konsep. Maar hy sal nie sê ‘Maak ’n wit blokkiesja­s met ’n 4 x 4 cm-kraag’ nie. Hy sal eerder iets sê soos ‘Dink aan Nicole Kidman in Chanel, of aan die Riviera’. Dan maak ek my eerste sketse, hy gee riglyne . . . Ek e-pos daarna konstant vir hom my vordering om seker te maak ek is op die regte koers.”

Floris doen álles self – materiale soek, aankope, patrone optrek, knip, kralewerk, stikwerk, konstruksi­e. En dan is daar die uitrusting­s wat skroewe, boute en kabels verg . . . “Ek sal myself nou nie as ’n handyman beskryf nie, maar met my beperkte vaardighed­e maak ek kreatiewe planne. En swaar goed optel, skuif en boor is nie vir my so ’n groot probleem as wat ek baie keer wens ek het tien ekstra paar hande gehad om vir my goed te kon vashou nie!” As dit regtig druk, spring sy familie in om te help.

Hy is “geseënd met ’n fantasties­e familie”. Hulle ondersteun hom ten volle. “My ouers, Manie en Ansie, albei oud-onderwyser­s, het ons drie kinders grootgemaa­k met liefde en totale aanvaardin­g. Ons is so uiteenlope­nd. My oudste broer, Danie, is sportief, sosiaal, mal oor die natuur – hy vang slange. My suster, Ankie, is ’n ouditeur, elke syfer en ding op sy plek. En ek is kreatief, lief vir lap, die dromer wat smiddae sit en teken het of in die tuin rondgeloop en flieks uitdink het.”

Floris het van kleins af geweet hy wil klere maak. Sy ma vertel hoe die Sondagskoo­ljuffrou voorgestel het hy moet eendag ’n ontwerper word – hy was so gefassinee­r met die materiaal van haar rok.

Toe hy 15 was, het hy Ankie se matriekafs­keidrok ontwerp. Sy was mal daaroor – dit was ’n wye swart rok met kartels onder, ’n hele paar rompe, en ’n swart fluweelkor­set bo. En ’n baadjie met lang goue moue. “My groot ding was dat sy weer die stukke apart moes kon dra – en sy het. Dit was ook nogal baie Gothic, noudat ek daaraan dink!”

Hy reken hy sou 100% geaard het in die 1800’s en 1900’s, met al die detail, valle en tekstuur. “Jy weet daardie frase – as jy klaar is, haal vyf goed af, dan is jy daar? Ek wil net nóg bysit. Ek hou van oordaad.

“As ek in standerd ses moes sê wat ek wil doen, is dit om die tipe goed te kan maak wat ek vir Nataniël skep. Ek doen iets wat ek in my wildste drome nie gedink het sou gebeur nie . . .”

Dis harde werk, lang deurnag-ure en soms wil sy rug afbreek, maar dan kom die groot hoogtepunt wanneer die kostuum klaar is. Dis baie bevredigen­d. “Dit gaan vir my oor hoe mense die eindproduk ervaar, die genot, dis ’n passie wat ek met hulle wil deel. Dis nie iets waarmee jy geld maak nie.”

In die produksie After Animals het hy trane in sy oë gekry toe die gehoor spontaan begin hande klap in ’n toneel waar twee konings aansit vir ete op hul “trone”, maar wanneer hulle opstaan en afstap, verander hul trone in jasse. “Ek kan nie vir jou sê hoe ek met daardie jasse gespook het nie, dit het my byna gebreek. Ek het vyf trone gemaak voordat ek ’n werkbare plan gehad het. Dit was letterlik net ’n paar sekondes op die verhoog, maar uiteindeli­k was dit die moeite werd.”

Floris het al vier Naledi-benoemings vir kostuumont­werp gekry, en drie keer gewen. Ironies genoeg was die plan dat hy sou ophou ontwerp vir Nataniël toe hy na Hectorspru­it verhuis het om by die familie-ondernemin­g betrokke te raak, maar net toe wen hy ’n Naledi vir Combat. En daarna een vir Rainbow at Midnight. En die jaar daarna vir After Animals. “Ons het dit net maak werk, al is ek ver.”

Elke nuwe show saam met Nataniël is ’n uitdaging en nooit vervelig nie, “want hy doen nooit dieselfde ding nie, daar is altyd iets nuuts en meer kompleks, en dit raak al hoe meer ingewikkel­d . . . Tans ondersoek hy ’n meer moderne styl, ek moet Chinese en Japanse ontwerp bestudeer. Dis nie my sterk punt nie, maar ek leer!”

Hy het groot agting en bewonderin­g vir Nataniël as mens en kunstenaar, en dis altyd lekker as hy kan sien hy het aan sy verwagting­e voldoen. Baie keer verras Nataniël hom deur versot te wees op iets wat hy glad nie verwag het nie. “Ek het eenkeer vir hom so ’n kort jassie gemaak met wit blommetjie­s wat uitgesteek het. Dit was byna outyds, so ’n bietjie spookstori­e-rig. Hy was so mal daaroor, hy’t gesê hy wil daarin begrawe word!”

Floris het ook ál die illustrasi­es vir Nataniël se boeke gedoen, en sou graag eendag sy eie keramiekbo­rde wou illustreer. En as hy regtig groot mag droom, wil hy die kostuumont­werp vir ’n grootskaal­se internasio­nale vertoning doen – met ’n wêreldbero­emde kunstenaar soos Madonna of Cher. “En dit sal lekker wees om een keer vir Nataniël aan te trek net wat ék wil . . .” Foto geneem by Pierneef’s Kraal, tel. 083 276 3960, www.pierneefsk­raal.co.za

Ek wil net nóg bysit. Ek hou van oordaad Floris

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa