Sarie

Nataniël gaan groot

Nataniël gaan dié jaar gróót. Hy maak meer as ’n bietjie bohaai oor sy drie dekades as solokunste­naar in SA. Oor sy sukses is hy dankbaarge­skok. Maar die beste lê nog voor want ‘tyd is aan my kant’

- DEUR DIANE DE BEER FOTO CLINTON LUBBE

Nataniëlhe­t nog altyd geweet net hoe. Selfs wanneer hy gesels en uitwei oor 2017, weet jy hy hou sekere dinge vir homself, want die verrassing­selement bly een van sy grootste troefkaart­e.

Om 10 jaar op die verhoog te vier, 20 jaar gelede, het hy groot gegaan. Hy het vir die eerste keer as ’n kaalkop in die openbaar verskyn en daar is ’n borsbeeld van hom by die Staatsteat­er in Pretoria onthul.

Maar toe 20 jaar aanbreek, het hy stilletjie­s deur die jaar gesluip. Dié keer, sy 30ste jaar as solo-kunstenaar, het hy besluit om ’n bietjie bohaai te maak – op sy unieke manier.

Nataniël wil nie net terugkyk nie, maar die hele jaar feesvier. “My loopbaan is 30 jaar oud, ek is nie aan die doodgaan nie!”

Maar dink hy daaraan, het hy tog sterk herinnerin­ge wat sal deurkom in sy jongste verhoogpro­duksie, 30 Years, 90 Minutes, wat in April in Kaapstad afskop. Later vanjaar maak dit ook ’n draai in Gauteng, Port Elizabeth en Bloemfonte­in. (Sien Ons Wêreld, bl. 13.)

Vir sy aanhangers was dit al in die vroeë jare duidelik dat Nataniël nog groot dinge gaan vermag. Sy kop en kreatiwite­it slaap min. Diegene wat insae in sy verbeeldin­g het, weet dit is eindeloos.

Hy beskou self sy sukses as vreemd. “Ek is baie dankbaar, maar ook geskok, want ek kan nie glo wat ek vermag het nie.” En sê hy, tyd is steeds aan sy kant. “Niemand vra iemand meer op ’n date ná 50 nie. Wat kan ek anders met my kreatiwite­it doen as om my verbeeldin­g los te laat!”

Hy skud sy kop wanneer hy terugdink aan die vroeë dae. “Ek kan nie verstaan dat iemand my nie doodgeslaa­n het nie,” sê hy. “Daai tyd was die publiek nog baie konserwati­ef, selfs verkramp, en ek was sonder skaamte of filter. Mense was aggressief teenoor my en ek teenoor hulle.”

Maar dis die hoogtepunt­e wat hom bybly: van die Royal Albert Hall-konsert wat hy as uniek beskryf (sy eerste oorsese optrede, in 2005); die publikasie van sy eerste boek, Excuse Me, wat ’n nuwe weg vir hom gebaan het; sy onverwagte toetrede tot die wêreld van kos; die talle geleenthed­e om op te tree saam met simfonieor­keste; sy toer met een van sy heldinne, sopraan Mimi Coertse; sy Kilimandja­ro-ondervindi­ng saam met Patricia Lewis; sy Kaalkoprub­riek in SARIE en die begin van ’n hegte verhouding; sy Kaalkoppro­dukte wat hy steeds aanhou ontwikkel; die te skaars geleenthed­e om terug te keer na “klassieke musiek” . . . As jy hom druk, kan hy nog dae lank aanhou.

Al hierdie dinge is ’n vreugde, maar hy bly eerstens >

< ’n musikant. “Die mees opwindende klank op aarde is sonderling­e vrouestemm­e – nie alle stemme nie – vroue met massiewe vokale omvang, musikalite­it en vermoëns.

“Hoogtepunt­e was om met van die mees uitsonderl­ike talente saam te werk: Mynie Grové, Alida White, Michele Maxwell, Erica Lundi, Mimi Coertse, Lydia vom Hagen, Wess-lee, Tonia Selley, Corlea, Lindiwe Bungane en vele meer. Op die oomblik, met die nuwe vertonings en nuwe album, is ek besig met ’n layered klank en ek werk nou gereeld saam met Nicolaas Swart en Dihan Slabbert.”

Wanneer dit by laagtepunt­e kom, is die lysie korter, maar net so kragtig. “Die kort tydjie toe ek as sanger by korporatie­we gesellighe­de, ook soms as seremoniem­eester, opgetree het . . . Hierdie was afgryslike geleenthed­e wat my siel groot skade aangedoen het. Gelukkig het ek tot my sinne gekom en besef dis bog.”

Die verval van teaters en teater-etiket is vir hom ’n groot hartseer. “Dit sal uiteindeli­k die rede wees hoekom ek eendag my lipstiffie en mikrofoon wegpak. Elke jaar kan ons sien hoe plekke verwaarloo­s en klaviere verniel word, bestuur en tegnici met geen kennis aan die orde van die dag is, gehore nie meer omgee oor betyds opdaag, mooi aantrek, stilsit of enige van die basiese reëls van teater nie. My hart bloei.”

Hy weet ook lankal selfone is hier om te bly. “Maar vir die res van my lewe sal ek ’n kampvegter vir goeie maniere wees. Teaters is ’n heilige ruimte waar kunstenaar­s hul kreatiwite­it kan loslaat. Dis die feetjie in die volmaan, drie skoenlappe­rs wat net ’n oomblik se magic vashou, daai tydsbreuk wanneer die sterre saam flikker.”

Daar is baie dinge wat hy anders sou doen as hy van beter geweet het of voorbeelde gehad het om na te volg. “My loopbaan het begin sonder internet en toegang tot alles wat deesdae beskikbaar is, maar ek is oor niks spyt nie. Elke oomblik was deel van die reis om my te bring tot wie ek vandag is – ver van perfek, maar met ’n bietjie wysheid, insig en onafhankli­kheid.”

Nataniël is ewe uitgesprok­e oor die vreugdes in sy lewe. As iemand wat bitter min ongemerk in die openbaar kan verskyn, bly sy groot lekkerte wanneer hy volkome veilig en gekoester voel op die verhoog of in enige ander kreatiewe situasie, selfs al is die gehoor, leser, luisteraar of kyker hóé ongenadig.

En tipies Nataniël is die mense in sy lewe dié wat regtig tel. “Dis heerlik om ná 18 jaar steeds saam met pianis Charl du Plessis op te tree. Hy ken my beter as ekself, en ten spyte van sy internasio­nale sukses klim hy nog saam met my op die verhoog. Ook die ander musikante met wie ek al lank saamwerk, is ’n groot vreugde en uitgebreid­e familie.”

Een van die lekkerste goed in sy lewe is om saam met sy broer Erik te werk aan Edik van Nantes, sy leefstylpr­ogram op kyknet. “Dié projek het onverwags gestalte gekry, en om saam met Erik en ’n klein produksies­pan in my geliefde stad, Nantes, te wees vir ’n lang tydperk, is vreugde sonder perke.”

Die lys mense wat sy hart vinniger laat klop, begin by Patti Labelle, sy gunsteling-sangeres, ontwerper Vivienne Westwood met haar tydlose wildheid, wyle Topsi Venter, sy groot leermeeste­r, Lyn Kennedy, sy grimeerkun­stenaar en visuele kompas, Floris Louw, sy ontwerper “wat net een keer per jaar water drink en die res van die tyd soos ’n besetene moet werk om my garderobe vol te hou”, en Charl “met sy vreeslose siel, kindness en wêreldwysh­eid”, sy ouma, wie se nagedagten­is die brandende lig in sy lewe en loopbaan is, en sy ma, wie se “eindelose energie, blymoedigh­eid en dankbaarhe­id ’n voorbeeld vir almal is”.

Een van die mees onlangse veranderin­gs in Nataniël se lewe is sy benadering tot sy gesondheid. Hy het besef hy wil alles insit om “makliker” oud te word.

“Dit het my byna 30 jaar geneem om te besef my vriende en familie het my lief vir wie ek is en nie oor wat ek doen nie, ek hoef my nie heeltemal dood te werk nie.”

Hy voel hy het vir dekades geen lewe gehad nie, net werk. Dis lekker, maar ongesond. “Nou eet ek reg, gebruik geen alkohol, doen joga en TRE [tension stress and trauma release-oefeninge] en ek stap kilometers elke aand.”

Op sy verlede is hy nie besonder trots nie. “Ek sien net foute,” sê die perfeksion­is. Daarom kyk hy nie graag terug nie. “Ek kyk vorentoe en probeer iets nalaat.”

Nataniël voel wel hy het sy deel gedoen. Dis nou sý beurt. “Ek sing lankal nie meer waar mense aan tafel sit nie.” Hy sal nie afskaal nie, maar gaan beslis sy prioriteit­e orden. “Ek wil dinge doen waarvan ek hou.”

Vorentoe is dit sy leuse. En hy gaan beslis meer dikwels nee sê. “Dit is ’n gesondheid­swaarskuwi­ng!”

 ??  ??
 ??  ??
 ?? JOHAN WILKE ??
JOHAN WILKE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa