Sarie

Redakteurs­brief

-

Dertig jaar en hy gaan gróót!

Hoe dan anders, want as daar één ding is wat Nataniël verstaan, is dit ’n sense of occasion. Goed in die lewe, groot en klein, wat gevier moet word. Moeite-werd-dinge wat met oorgawe omhels moet word. Jy weet al, as jy iets van Nataniël gaan kyk, luister of lees, sal jy meegevoer word na ’n wêreld van die vreemde, die wilde en die volslae wonderlike.

Sy drie dekades in die bedryf, sê Nataniël in ons onderhoud met die kunsjoerna­lis Diane de Beer op bladsy 20, sal dié jaar ’n heeljaar-feesvierin­g wees met ’n nuwe CD, ’n nuwe boek en ’n nuwe show. Dit sal oordadig wees. En ja, ons gló hom!

Nooit sal ek die keer vergeet toe ek Nataniël gebel het om te vra of hy dalk sou belangstel om ’n rubriek vir SARIE te skryf nie. Dit was 16 jaar gelede. Ek was skaars ’n handvol maande in die stoel as nuwe redakteur: onseker en oorweldig. SARIE het ’n nuwe stem nodig gehad – iemand met eie denke, iemand wat sou kon raaksê en begrip sou hê vir die nuwe, moderne aanslag van die tydskrif in ’n nuwe Suid-afrika.

Nataniël se naam het onverwags tydens ’n beplanning­svergaderi­ng opgekom. Daardie enkele naam, sinoniem met verbeeldin­g en fantasie, maar net so bekend vir koelkop, onversetli­ke profession­aliteit. Die voorstel was opwindend-senutergen­d. Ek sou daardie oproep moes maak. Nataniël en SARIE – sou dit kon werk?

Vroegaand en alleen op kantoor het ek die telefoon opgetel, en êrens het ’n deeltjie van my seker gehoop dat hy nié daardie foon optel nie. Maar die stem aan die ander kant was duidelik en herkenbaar Nataniël s’n.

Wat gevolg het, was ’n kort gesprek, maar pure magic. Ja, hy sou graag vir SARIE skryf, wou nog altyd ’n rubriek gehad het, maar net vir ’n jaar, want hy’s ’n besige man. Dit sou ’n leefstylru­briek wees met die naam Kaalkop, en hy sou onmiddelli­k begin. In Junie 2001 het die eerste Kaalkop in SARIE verskyn.

Vandag, 16 jaar later, is SARIE sinoniem met Nataniël en hy met die tydskrif. Sy rubriek het lesers toegelaat om verby die drama van hoë hakke en verhooggri­mering te kyk en een van ons land se mees fenomenale kunstenaar­s te leer ken. Want dis ’n gestroopte omgee-nataniël wat maandeliks sy stem in SARIE laat hoor: sy omgee vir ons planeet, vir kinders, vriende, familie, vir goeie maniere, ’n mooi gedekte tafel, gesond leef, vir gehalte in alles wat ons dink en doen.

Self sê hy sy Kaalkop-rubriek is terapeutie­s en persoonlik, want hy skryf oor die dinge wat hy ken en ervaar. “Dit het baie mense laat besef ek’s ’n doodgewone mens met familiewaa­rdes . . . al is my kop wild op die verhoog.”

Wild, wilder, wonderlik, sê ons. Want hoe arm sou ons, SARIE en Suid-afrika nie gewees het sonder Nataniël nie? Van sy fabelagtig­e kostuums en aweregse stories wat jou laat huil soos jy lag, en lag soos jy huil, tot elk van sy Kaalkop-rubrieke wat ons herinner dat daar áltyd tyd en plek is vir styl en omgee.

Op nóg 30 jaar, Nataniël!

Tot ons volgende uitgawe vanaf 24 April op straat is. Dan praat ons winter en alles wat sê dis ons mooiste seisoen.

 ??  ?? #jol Sien inhoudsbla­aie oor ons Afrikaanse Woord van die Maand
#jol Sien inhoudsbla­aie oor ons Afrikaanse Woord van die Maand
 ??  ?? Gaan ook na
Gaan ook na

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa