Sarie

KLEURRYK EN IN DIE KOL

‘Kleur is my grootste inspirasie. Dis eintlik vir my ’n emosionele taal’

-

Nolene Bramley van Kokos Shoes, Harrismith

Nolene Bramley was nog altyd kreatief. Buiten die gastehuise wat sy op haar tuisdorp, Harrismith, bedryf, het sy al haar eie klerereeks­e ontwerp en verkoop, en ook syskermwer­k ( silk screening) gedoen.

Maar dit was toe sy pantoffels begin maak het dat sy haar groot passie ontdek het. “Ek het nog altyd ’n groot liefde vir kleur en tekstuur, en het besluit om dit te begin kombineer met iets waarvoor die meeste vroue lief is: skoene! Ek het pragtige materiaal gekry en gedink dit sal wonderlik wees as ek dit kon gebruik.

“Toe ek daardie eerste paar gemaak het, het ek gewéét; jy kry net so ’n gevoel in jou hart as iets reg is. Dit was pragtig, bekostigba­ar en oud én jonk sou dit kon waardeer.”

Min het sy besef dit sou só gewild wees dat sy binne een jaar nege werknemers sou aanstel. Deesdae maak haar handelsmer­k Kokos Shoes balletskoe­ne, tekkies, stewels en selfs hakskoene – in elke kleur en patroon.

“Aanvanklik was dit baie werk om die pantoffels se patrone te sny en te leer hoe om dit reg aanmekaar te sit. Ek het besef ek is goed daarmee om die patrone uit te werk en die ontwerp en kleur te kies, maar vervaardig­ing is nie my sterk punt nie.

“Nou het ek kontrakteu­rs in Qwaqwa wat die tekkies maak, terwyl die ander style in Johannesbu­rg en Kaapstad gemaak word. Ons werk baie nou saam om seker te maak die eindproduk is van hoë gehalte. Voor die reeks beskikbaar gemaak word, dra ons elke ontwerp self om te kyk of dit werk en of dit gemaklik is.”

Haar beginpunt is egter altyd die materiaal. “Eers soek ek mooi materiaal wat met my praat en besluit dan wat ek daarmee wil maak. Ek gebruik meestal Design Team se kontemporê­re, eg Suid-afrikaanse lap. Daar is soveel keuses, dis soos ’n biblioteek. En dis vir my belangrik om ’n plaaslike produk te maak wat help om werk te skep.

“Selfs die naam is eie aan ons land. Ons het kleintyd altyd ons skoene ‘ kokos’ genoem, en baie kinders noem vandag nog hul skoene so.”

’n Mens sou nie sê Kokos Shoes is nou maar ’n jaar oud nie, want Nolene verskaf haar produkte aan boetieks so ver soos Engeland. By die Kamers/makersmark­te verkoop dit soos soetkoek.

“Ek kan dit byna nie glo nie! In 2015 was dit nog maar net ’n droom en nou is daar 12 style, in groottes 3 tot 9, en ons vervaardig so 50 paar per dag. Dis wonderlik om dit te sien ontvou.”

Kokos se nuutste reekse is van leer en hulle vervaardig ook nou op bestelling. “Mense is gek daarna, want ons maak net een só ’n paar, dis uniek. Dis soos ’n kunswerk wat jy elke dag kan dra en geniet.”

 ??  ?? Elke paar skoene van Kokos Shoes is uniek.
Elke paar skoene van Kokos Shoes is uniek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa