Sarie

Deurbraak vir borste ná kanker

Belinda se borste is ná haar dubbele mastektomi­e met lipovullin­g opgebou. Met haar eie vet, afkomstig van haar (voorheen gawe) heupe

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

Haarnuwe borste, nog baie geswel, het haar handpalms vol gelê. Warm, sag . . . perfek.

Belinda* het dit formeel gegroet: “Julle is terug, welkom.”

Daarmee, het sy geweet, kan sy saamleef. Enigiets groter, ’n bonus.

Toe borskanker sowat drie jaar gelede by haar gediagnose­er is, het sy albei borste verloor. Die een weens kanker. Maar ook die ander een, die gesonde een. Belinda is ’n draer van BRCA1, die afwykende geen wat jou kans vir borskanker drasties verhoog. Die chirurg het ’n dubbele mastektomi­e aanbeveel.

Belinda het teen ’n onmiddelli­ke rekonstruk­sie besluit. Prioriteit was om die “borsweefse­l wat met kanker geprogramm­eer is” uit haar lyf te kry. En dan so vinnig moontlik uit die hospitaal te kom.

Maar hoe vreemd dit voel, daaraan kon sy net nie gewoond raak nie. Haar borskas ingeduik, byna konkaaf. Ribbes waar eers sagte borste was. ’n Skelrooi litteken skerp teen haar vel afgeteken.

“Dit was die ergste tyd in my lewe, daai jaar ná die mastektomi­e. Ek het besef al probeer ek ook hoe hard, ek kon nie só deur die lewe gaan nie. Ek het voorheen nie eens groot borste gehad nie, maar skielik soos ’n frats gevoel.”

Sy het ’n afspraak gemaak by dr. Christiaan Gildenhuys, tans ’n plastiese en rekonstruk­tiewe chirurg by Mediclinic Panorama in Kaapstad. Vir inplanting­s. Om so vinnig moontlik net weer twee “hobbeltjie­s” op haar borskas te kon hê.

Hy wou egter nie sommer ’n prostese insit nie omdat daar nie genoeg vel was om dit te bedek nie. “Ek het voorgestel ons spuit ’n lagie vet in, wat ’n kussinkie sou skep waaronder die prostese kon kom,” verduideli­k hy.

Dis nou jou eie vet, wat met liposuigin­g elders “geoes” word, op jou boude, heupe of maag. Dit word verwerk en in jou bors-area gespuit. Word dit oordeelkun­dig gedoen, rek die vel met elke opeenvolge­nde sessie ’n bietjie. Vel is mos elasties, daarom kan ’n swanger vrou ’n 4 kg-baba met vrugwater in haar buik dra, sê hy.

Belinda vertel: “Hy het genoem ’n hele bors kan só opgebou word. Ek was skepties. En obsessief om net weer borste te kon hê. Vir die verskillen­de fases wat so ’n proses sou verg, was ek nie lus nie. Boonop was ek skrikkerig vir lipo-suiging nadat ek op TV gesien het hoe dit gedoen word. Ek het besluit om maar te kyk wat gebeur.

“Ná die eerste lipo-vulling was iets klaar anders: Die litteken het soms soos ’n band om my borskas gevoel, asof dit in my lyf vasgegroei was. Nou was dit sagter, nie meer so ongemaklik nie. Die vel op my borskas klaar plomper, dikker.

“Toe weet ek dis die regte pad. Ek het aan my twee adolessent­e dogters gesê: ‘Ek is saam met julle in puberteit, my borste groei saam met julle s’n.’

“Ná die derde sessie, jis, toe ek by die huis my hand onder my bors sit, sien ek my bors-voutjies [waar die borskas en bors ontmoet] is terug. My borste was nou letterlik ’n hand vol en ek het hulle plegtig terugverwe­lkom.”

Sy het ’n vierde keer gegaan en oorweeg ’n vyfde een. “Dalk is ek gulsig!” Want haar eertydse A-keël is nou ’n volronde B. Ook moet tepels nog chirurgies opgebou word.

Die vel was ná die mastektomi­e koud en dood, asof dit aan iemand anders behoort. Nou het dit weer sensasie. Die litteken verbleik tot byna die kleur van haar vel. Dr. Gildenhuys sê hy kan dit uitsny en die vel weer netjies heg.

’n Bonus: Die vet is uit haar heupe onttrek. “Ek was altyd ’n peervorm en kon my groot heupe nie verdra nie. Dit boonop met klein borste. My heupe sit nou hier [wys sy na haar borste]! Dit voel net reg. Die prosedure is glad nie seer nie, my bene voel (en lyk) daarna net of ek teen ’n kas vasgeloop het.”

Lipo-vulling berus op dieselfde konsep as veloorplan­ting, ’n prosedure wat al jare gebruik word, verduideli­k dr. Gildenhuys. Plastiese chirurge gebruik dit lankal om boude beter rondings te gee en vir gesigverjo­nging. En om kontoere op die gesig en elders op te vul. Dieselfde beginsel word nou op bors-rekonstruk­sie toegepas. Eers was dit net om klein verskille in die vorm, balans of posisie van die gerekonstr­ueerde bors teenoor die ander een reg te maak. Of die herstel van borskontoe­re ná ’n lumpektomi­e (net die gewas en omringende weefsel word verwyder). Byna soos om ’n model se foto met ’n airbrush te dokter.

Luister jy na Belinda se positiewe ervaring, klink dit na iets wat elke vrou ná ’n mastektomi­e moet doen. Maar dr. Gildenhuys sê dis nuut en nie ’n chirurg se eerste keuse nie.

Die groot nadeel is tyd. Sowat 4-5 sessies, minstens 3-6 maande uitmekaar, is nodig. Belinda s’n het oor twee jaar gestrek, haar eie ritme wat haar meer in beheer laat voel het. “Met tye was ek net te besig,” sê sy.

Omdat sommige vetselle selgroei kan stimuleer, is daar kommer dat lipo-vulling in die bors-area slapende kankersell­e kan laat groei. Die Amerikaans­e Vereniging vir Plastiese Chirurge het egter in 2012 >

My borste was nou letterlik ’n hand vol Belinda

< wetenskapl­ike bewyse ondersoek en bevind dit verhoog nie jou risiko dat die kanker terugkeer nie. (Bron: www. plasticsur­gery.org)

Dis duur, maar mediese fondse betaal daarvoor mits die chirurg dit goed motiveer.

Feit is, daar is makliker maniere vir ’n rekonstruk­sie. Dr. Gildenhuys beklemtoon elke vrou is uniek. Jy versoen die opsies beste vir haar, met haar voorkeure.

Die volgende vier vrae moet vooraf beantwoord word, sê hy.

1. Wil jy die rekonstruk­sie nou of later, saam met of ná jou mastektomi­e kry? Laat doen jy dit dadelik, is dit net een operasie met gepaardgaa­nde narkose en hersteltyd. Wanneer jy wakker word, het jy jou nuwe bors. Die plastiese chirurg kan ook vel wat ná die mastektomi­e oorbly ten beste inspan.

Sommige vroue wil egter eers van die kanker ontslae raak en dan die rekonstruk­sie laat doen. Onthou ook bestraling is dalk nodig. Dit kan gesonde weefsel beskadig en die risiko vir komplikasi­es met die prostese verhoog. Moderne tegnieke verseker wel ’n groot mate van veiligheid. Dis ook sinvol om iets tydens die kanker-operasie te laat doen. Al is dit net om ’n fondasie vir toekomstig­e prosedures te bou.

2. Jou eie weefsel of ’n prostese? ’n Prostese is maklik, dit kom uit ’n boks, soos ontbytpap. Jy het net een wond. Hou jy nie daarvan nie, kan jy dit altyd later met jou eie weefsel vervang.

Met ’n Diep-flap (dit staan vir deep inferior epigastric perforator­s) word vet, vel en bloedvate uit jou maag gesny, met mikrochiru­rgie geheg en ’n bors daarmee gerekonstr­ueer. Dus ’n tweede sny (in jou maag), sowat 10 uur se narkose (dis hoe lank die proses kan duur) en twee dae in die waakeenhei­d

Lipo-vulling berus op dieselfde konsep as veloorplan­ting

vir die Diep-flap. Teenoor ’n inplanting se twee uur teatertyd en die volgende dag stap jy klaar rond.

Daar is kommer by sommige medici dat eersgenoem­de ’n impak op jou immuniteit kan hê. Dit terwyl al jou liggaam se “soldaatjie­s” paraat moet wees vir die kanker-oorlog. Dis egter nog nie wetenskapl­ik bewys nie, beklemtoon dr. Gildenhuys. As jy twyfel, is dit steeds ’n opsie as die kanker in remissie is.

3. Een prosedure, of veelvuldig­e kleintjies? Met lipo-vulling is jy telkens ’n dagpasiënt, kry narkose of skemer-narkose (bewuste sedasie) en kan ná ’n paar dae teruggaan werk toe.

4. Moet daar aan die gesonde bors geopereer word? Moenie oorhaastig besluit nie, vra jou chirurg vir goeie inligting. Soms maak dit sin, soos as jy ’n draer van die borskanker-geenafwyki­ng (BRCA1/2) is. Dis die uitsonderi­ng eerder as die reël. Indien nie, is jou kans om ook kanker in die gesonde bors te kry dieselfde as enige vrou op straat s’n. Dit kan selfs laer wees as jy chemoterap­ie gehad het. Want die weefsel in jou gesonde bors word ook aan daai dodelike ystervuis blootgeste­l.

Die voordeel van ’n dubbele mastektomi­e is dat daar simmetrie tussen die gerekonstr­ueerde borste is. Kaal lyk die bors met ’n prostese nooit presies dieselfde as die natuurlike een nie, wat aan swaartekra­g se genade uitgelewer is.

Dr. Gildenhuys doen ook borsvergro­tings met lipo-vulling. Een vrou, byvoorbeel­d, se borste het van ’n B na ’n voller C gerek. Slegs een sessie was nodig, want sy het baie borsweefse­l gehad om vet in te verplaas. (Sien kassie “Só werk dit”.)

Die effek is meer subtiel, meer egalig as met ’n prostese. Dit het ook nie die potensieel gevaarlike newe-effekte daarvan nie. Dit gesê: Dis twintig jaar gelede se silikoon-inplanting­s wat nou amok maak. Die tegnologie het intussen verbeter en dit het beslis ’n plek, sê hy. * ’n Skuilnaam is gebruik.

KONTAK

Dr. Christiaan Gildenhuys 021 939 7790

Dr. Gildenhuys

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa