‘VROUE KÁN ALS HÊ - NET NIE OP DIESELFDE TYD’
Dis die één ding wat sy kan doen – toneelspeel. Só sê Jana Kruger wat weer in September in die jongste reeks van Erfsondes te sien is. En ja, daar was ook haar rol in Die Boekklub, maar tyd het anders besluit . . .
2017
het met groot planne vir aktrise Jana Kruger afgeskop. Nog ’n reeks van Erfsondes, waarin sy die hoofrol vertolk, was om die draai. En sy was opgewonde oor haar nuwe rol in die tweede reeks van Die Boekklub, wat verlede jaar een van SA se gewildste reekse op kyknet was. Toe die nuus: sy’s swanger, onverwags. Sonder dat sy dit beplan het, het die natuur haar vir eers op ’n ander pad gedwing.
Maar Jana het nog altyd geglo dinge gebeur soos dit moet. En elke kind kom op die regte tyd, ook die baba wat sy nou verwag. “Ons het hulle nie beplan nie, maar kinders is ’n geskenk en ‘gebeur’ op spesifieke tye en om bepaalde redes,” sê sy, rustig en onverstoord met haar koppie kruietee en ’n stuk sjokoladekoek in ’n seegroen gebreide rok, grys band om die kop en ’n gesonde blos op die wange – 23 weke swanger ten tyde van die onderhoud. Die baba word einde September verwag.
Jana is nie spyt dat sy ’n rol in Die Boekklub 2 moes verbeur nie. Selfs al sou dit vir haar ’n eerste in dié reeks wees. “Ek sal weer ’n geleentheid kry. Om daaroor te tob is beslis nie hoe ek verkies om my energie te vermors nie.”
Maar oor haar rol as Kate Ferreira, in die sesde seisoen van die Sabc2-reeks Erfsondes, uit die pen van Henriëtta Gryffenberg, is sy baie dankbaar. “Dit was ’n goeie reis. Ek en Kate – en Henriëtta – kom al so ’n lang pad. Dit is ongelooflik om saam met haar te werk. Sy is so talentvol en kreatief. Haar intriges werk net. En wat ’n gemaklike mens! Dit is ook ’n heerlike span. Van hulle werk al sedert die
eerste seisoen daarop. Die nuwe reeks het ook baie om die lyf. Onthou, die kinders [in die reeks] is nou al groot . . . daar is allerlei dinge soos leënessindroom, kinders wat studeer . . . Ek kon nie glo dat Henriëtta nog nuwe goed kon uitdink nie.”
Dit was nietemin nie ’n maklike tyd vir haar nie. Van einde Februarie tot begin April, in die eerste trimester van haar swangerskap, het sy vier dae per week opgevlieg om te gaan skiet in Johannesburg, sodat sy naweke by haar gesin kon wees. “Ohan (7) en Luka (5) is nog klein en het my baie nodig.” En sy glo dit is belangrik om haar man, Hannes, ’n sakeman en sielkundige, te onderskraag met hul kinders se opvoeding. “Ek was naar tydens die verfilming van die reeks. Soms dalk ’n monster. Dit was partykeer vir my moeilik om vrolik te wees as ek so ellendig gevoel het,” lag sy nou.
Vanjaar, vir die eerste keer in vyftien jaar, het sy ook op die verhoog verskyn, in Vrou uit die see, ’n klassieke vertaalde stuk van die Noorweegse dramaturg Henrik Ibsen. “Henry Milne is ’n passievolle regisseur. Gesoute akteurs soos Neels van Jaarsveld, Amalia Uys, Eric Holm, Theodore Jantjies, Kaz Mcfadden en Natasha Dryden het dit ’n baie lekker
ondervinding gemaak. Hopelik kan ek in die toekoms meer op die verhoog werk.”
Maar nou is haar fokus eers op haar gesin. “En as dit só moet wees vir die volgende tien jaar, is dit ook goed. Die tyd wat jou kinders klein is, is kort. As ek heeldag kla omdat ek nie nou kan werk nie, is ek besig om myself én hulle ’n onreg aan te doen. Ek gebruik eerder ons tyd om hulle te leer om die uitdagings van die lewe – eendag – so goed as moontlik te hanteer. Want ons almal weet daar is oorgenoeg: teleurstelling, verwerping, mislukking.”
Sy het ook besluit om van nou af as aktrise haar getroude van te gebruik, nadat Ohan gevra het hoekom haar van (Strydom) nie dieselfde as hulle s’n is nie.
Sy is trots daarop om ’n vrou te wees. “Ons het nie noodwendig ’n moeiliker taak as mans nie. Ek hou nie van vergelykings nie. Maar ons lyf is die vaartuie waardeur ons ons kinders se siel in die driedimensionele wêreld instuur. En dit is ’n groot verantwoordelikheid.
“Danksy my kinders het ek ’n reuse-metamorfose ondergaan. Ek is nie so selfsugtig soos wat ek vroeër was nie.” >
< Sy en Hannes leer hul kinders om bewustelik te leef. “Ons probeer ’n voorbeeld stel, sorteer dadelik probleme uit. Dit is nie altyd maklik nie, maar as jy nie bereid is om te werk aan jou verhoudings nie, gaan dinge nie gebeur nie.”
Sy leer haar kinders ook die brein is ’n rekenaar, maar dat iets baie mooi – die siel, wat hemel toe gaan – agter die brein lê. “Ons vel is net ’n ‘ lyfpak’. My kinders besef omdat hul lyf jonger as myne is, is hul siel nie noodwendig jonger nie. Dit #bemagtig hulle, want ons leer oor en weer by mekaar.”
Sy glo haar interaksie met haar kinders gee haar ook baie materiaal om uit te put vir wanneer sy eendag weer voltyds gaan toneelspeel.
Oor hul gesin se verhuising twee jaar gelede Kaap toe vir ’n rustiger leefstyl is sy nog nie ’n oomblik spyt nie. “Dit is asof ons in die Kaap meer kan fokus op die dinge wat vir ons belangrik is, kan asemhaal.” Hulle gaan stap met die Franse bulhonde, Dusty Rose en Zazu (“As ek nog vyf kon kry, het ek!”), en in die somer speel die kinders op die strand. Hulle asem vars seelug in soggens as hulle die vensters oopmaak en uitkyk op die see.
Sy het vroegoggend al weggespring om betyds te wees vir ons ontbyt in die Tuine tussen die eekhorings en duiwe, maar sy lyk komkommerkoel, ontspanne. “Ek weet nie of almal sal sê ek is altyd so kalm nie, maar ek hanteer krisisse nogal goed.” Miskien help gereelde joga, ’n goeie dieet en goeie slaappatrone ook, meen sy. Ook die terapeutiese waarde van kos- en tuinmaak. “Die reuk van kruie, om te peuter in die grond, maak my rustig.”
Glo sy vroue kan álles hê? “Ja, net nie alles op dieselfde tyd nie,” lag sy. “En ook net as jy bereid is om baie hard te werk.”
Hannes is ’n stabiliserende invloed in haar lewe. “My rots, my stille krag, my twin flame. Dit is soos een stel vlamme in aparte liggame – maar ons is mekaar se spieëlbeeld.”
Op die oomblik speel sy gereeld in advertensies – ’n dag lank teen baie goeie betaling – en dit hou haar beursie gebult. “Hope buitelandse advertensies word in die Kaap gemaak.” Onder meer advertensies vir ’n teemaatskappy in Kanada, mediese versekeraars in Denemarke, ’n supermarkketting in Turkye en lemoensap in Frankryk. “Die royalties van die oorsese maatskappye is puik. Die tjekkie beland eenvoudig net in die pos, sonder dat jy rekenings moet uitstuur om hulle daaraan te herinner.” Plaaslik is daar die selfoonreus Samsung.
“Dit het niks met skoonheid te doen nie. Jou gesig moet pas by die beeld en gevoel wat die kliënt wil hê. Maar dit is glad nie glam nie. Jy is net nóg ’n model wat voor die kamera paradeer,” lag sy.
Haar langtermyndoelwit? Om aan te hou werk. “En om, wat ook al my kant toe kom, so goed as moontlik te doen. Elke rol bring groei en ‘strek’ my.”
Sy sal graag in die toekoms ook agter die skerms wil werk as regisseur, en wie weet, dalk iets wil publiseer.
“Ek is trots daarop om Afrikaans te wees. Ons het ’n baie spesifieke kultuur met bepaalde waardes. Afrikaners is soliede mense, hardwerkend, lojaal, gasvry, trots.” Hoe mooi beskrywend is ons taal nie, meen sy. “Soos die woord ‘spookasem’, dit beskryf mos perfek wat jy eet.”
Jana hoop die kunstefeeste bly nog lank voortbestaan om vir akteurs en sangers ’n platform te gee vir hul produksies. “Selfs al is dit net om mense bewus te maak van wat aangaan. Op die ou einde help elke bietjie.”
Sy en Hannes beskou hulself as wêreldburgers, hoewel hulle lief is vir Suid-afrika. “Die volgende tien jaar sal ons nie sommer verplant na ’n ander land nie, die kinders is nog te klein.” Maar Hannes oorweeg dit om twee jaar lank ’n doktorsgraad in Amerika of Nederland te doen. “En dit kan mos ’n avontuur vir die hele gesin wees om saam met hom oorsee te woon. Ek is oop vir enigiets.”
As kind het sy immers gereeld van dorp tot dorp gereis. Haar pa, Gerrie, wat reeds oorlede is, was ’n entrepreneur, en hul gesin, met ma, Pikkie, en haar jonger suster, Anju (Strydom), het op plekke soos Schweizer-reneke, Klerksdorp, Witbank en Pretoria gebly. Sy het uiteindelik aan die Hoërskool Voortrekkerhoogte in Pretoria gematrikuleer. Ná twee gap- jare in Europa ’n Btech-dramagraad cum laude aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria verwerf.
“My ouers het my aanpasbaarheid, pligsgetrouheid, ambisie en vasbyt geleer. Die uitdagings en lesse van grootword openbaar die teenstrydighede in die lewe, die goed en sleg daarin. Ware volwassenheid vra eintlik dat jy aan al jou eie behoeftes voldoen.”
Die bewustheid van hierdie teenstrydighede in Jana se rol as ma is baie belangrik vir haar en Hannes. “Dit probeer ek ook aan my kinders oordra. Die lewe is nie net lekker nie. Ek kom van ’n generasie waar die grootmense jou dikwels geleer het om nie negatiewe gevoelens te ervaar nie. Ek glo jy moet dit juis voel, want hoe kan jy die een sonder die ander verstaan? My kinders moet besef hulle moet eerlik wees met ander, maar veral met hulself en hulself onvoorwaardelik aanvaar en liefhê, iets waaraan ek deurlopend werk. ’n Mens kan jouself so maklik flous. Maar jou siel weet as jy nie eerlik is met jouself nie.”
En miskien, reken sy, is dit ook een van die redes hoekom sy suksesvol voor die kamera (en op die verhoog) is. “Mense sien as jy nie binne jou waarheid leef nie.”
Sy glo die geheim van goeie toneelspel is om “elke keer as jy optree na jou woorde te luister asof jy dit vir die eerste keer hoor. Slegs dan kan jy emosies eerlik uitbeeld. Goeie akteurs werk konstant met hul brein.”
En dit is hoekom sy mal is oor haar beroep. “Dit is die een ding wat ek goed kan doen. Dit is kreatief, #bemagtigend, dit gee my ’n gevoel van ‘ behoort’, net soos ma-wees.”
Tonedsped is krealief, bemagtigend, dit gee my 'n gevrel van 'beoirt Jana