Sarie

‘Ek kén die ware Thuli’

Skrywer Thandeka Gqubule en Thuli Madonsela, ons vorige openbare beskermer, ken mekaar al van hul jong dae as politieke aktiviste. In ’n nuwe boek* verklap Thandeka ’n ander sy van haar vriendin

- DEUR MARGUERITE VAN WYK

Thuli Madonsela het een missie gehad: om te werk vir Gogo Dlamini – isixhosa vir Jan en San Alleman.

In die sewe jaar dat sy Suid-afrika se openbare beskermer was, wou sy groter regverdigh­eid vir die gewone landsburge­r bring. Nou fokus sy in haar studie aan Harvard in Boston, Amerika, op die verminderi­ng van armoede en die bevorderin­g van regverdigh­eid. Sy is met ’n genootskap van die universite­it se program vir gevorderde leierskap vereer.

Thandeka, wat die storie oor Thuli se stryd in die spervuur van SuidAfrika se politiek vertel in haar boek No Longer Whispering to Power: The Story of Thuli Madonsela (die boek het in April verskyn), het intussen haar eie stryd gestry. As sakeredakt­eur van SAUK-TV-NUUS is sy as een van die sogenaamde SAUK-8 verlede jaar deur die korporasie afgedank. Dit was nadat hulle hul werkgewer gekritisee­r het toe besluit is om beeldsendi­ngs van gewelddadi­ge protesopto­gte te staak. Gesoute joernalist­e soos Foeta Krige, Suna Venter**, Krivani Pillay, Busisiwe Ntuli en Jacques Steenkamp was aan haar sy. Die agt is sedertdien heraangest­el.

Thandeka, geklee in ’n swart fluweelbro­ek en netjiese top, bonkige goue oorbelle en ’n elegante haarstyl wat sy in ’n bolla terugswiep, is as’t ware politieke bloubloed in Suid-afrika. Sy is getroud met die stroomop politieke kommentato­r Moeletsi Mbeki – wat haar ook die skoonsuste­r maak van oud-president Thabo Mbeki.

Omdat Thuli haar ou aktivis-vriendin vertrou, maar ook omdat sy baie besig was, het sy Thandeka carte blanche gegee met die skryf van die boek.

“Sy wou nie betrokke wees nie. Ek het ’n paar dinge met haar bespreek, maar ons het albei besluit dit werk goed so. Ek het sterk gesteun op bestaande, goed nagevorste berigte en videomater­iaal. Ek het ure en ure na videomater­iaal van Nkandla gekyk. Daarby het ek persoonlik­e herinnerin­ge ingewerk en die politieke gebeure van die tyd deurweef met die verhaal. Thuli was tevrede met die eindproduk.”

Thandeka was uiters bekwaam om die boek te skryf – nie net was sy in haar jeug self’ n apartheid s aktivis nie, sy het ook aan die Columbiaun­iversiteit in New York joernalist­iek studeer, omgewingsa­ke aan die London School of Economics, en sakeleiers­kap aan Oxford. Haar studies het aan die Universite­it van die Witwatersr­and afgeskop.

Sy glo onwrikbaar in die mag van die media (en God). Haar pa, Simon, was ’n teoloog, en haar ma, Miriam, ’n sielkundig­e. Albei was akademici wat hul kinders – en ander kinders – aangemoedi­g het om hulself te #bemagtig deur verder te studeer. Thandeka praat Engels, Xhosa en Frans.

“Ek werk nou vir my aftrede aan my graad in die regte aan Wits,” lag sy. Maar sy skryf aan nog ’n boek (die onderwerp is nog geheim) en veg steeds vir mediavryhe­id.

Jare gelede het sy en Thuli bevriend geraak toe albei as jong politieke aktiviste saam hul vonnis uitgedien het in Sun City, soos die Diepsloot-gevangenis in Johannesbu­rg bekend staan.

“Ek was begeesterd om oor Thuli te skryf omdat ek haar regtig ken – haar agtergrond as politieke stryder, hoe sy nog altyd opgestaan het vir die verontregt­es. Selfs in die tronk het sy nie geskroom om haar stem dik te maak toe ons nie genoeg komberse gegee is nie,” vertel Thandeka.

Interessan­t beteken Thuli se naam in isixhosa “die stil een”. Maar sal Suid-afrika ooit kan vergeet watter reuse-rol sy in ons geskiedeni­s gespeel het? Hoe sy Nkandla- gate en die voortslepe­nde staatskapi­ng deur die Gupta-familie oopgevlek het? “Sy is ’n inspirasie,” sê Thandeka.

Soos sy Thuli leer ken het, is sy “gereservee­rd, vroulik, waardig – iemand wat nie gekla het oor byvoorbeel­d ons omstandigh­ede in die tronk nie”. Al wat Thuli soms gemis het, was lekkerruik-seep, velroom en grimering. Sy is glo ook bekend daarvoor dat sy graag met verskillen­de haarstyle eksperimen­teer. En sy hou van mooi aantrek.

Tog het Thuli op skool – aan Swaziland se Evelyn Baring High School – getwyfel aan haarself. Thandeka skryf byvoorbeel­d oor die brief wat Thuli, toe sy 50 was, in 2012 op versoek van Oprah Winfrey se tydskrif O aan haar 16-jarige self geskryf het. Dit lui: “I know you are socially awkward, plagued by a nagging feeling >

Thuli is nederig en snaaks – ook ondeund Thandeka

< of being unloved and ugly. Perhaps this comes from being teased about your big head, and, more recently, two of your academical­ly inferior classmates have started taunting you, too . . . I’m writing to tell you to relax because you are a perfect expression of God’s magnificen­ce.” (Brief verkort.)

“Baie mense word geflous deur Thuli se sagte, vroulike uiterlike. Maar sy versteek ook ’n staalharde krag in ’n handskoen van fluweel. Doeltreffe­ndheid het níks met voorkoms te make nie,” sê Thandeka. Thuli het trouens as jong vrou teen haar patriargal­e pa, Bafana, se wil besluit om in die regte te studeer. Hy wou hê sy moes ’n verpleegku­ndige word. Thuli se ma, Nomasonto, was volgens Thandeka die verpersoon­liking van Gogo Dlamini – die gewone vrou vir wie Thuli geveg het.

Thandeka en Thuli het mekaar laas in Maart op die begrafnis van struggleve­teraan Ahmed Kathrada in die Westpark-begraafpla­as, Johannesbu­rg, gesien en lekker gesels.

“Sy is baie gelukkig by Harvard,” vertel sy. “Ek dink Thuli kyk met dankbaarhe­id terug na haar dae as openbare beskermer, sy het baie geleer. Sy lyk vreesloos, asof sy oor niks spyt is nie. Sy is vry . . .”

Nes Thandeka, is ook Thuli spiritueel. “Ons moes reeds in die tronk iets binne onsself vind, ’n innerlike krag, om sterk te bly. Thuli praat nooit juis oor haar drie maande in die tronk nie. Sy wil dit nie gebruik om simpatie te kry nie. Maar sy kon vasbyt en het die vermoë om altyd die positiewe in ’n situasie raak te sien, al is dit hoe sleg.”

Sy vertel ook graag van ’n ander sy van Thuli. “Sy maak dinge om haar mooi. Haar kantoor is versier met die mooiste ornamente. Omdat sy in ’n baie klein, klam huis, sonder elektrisit­eit of lopende water, grootgewor­d het, het sy nou nog nie veel trek vir piepklein huise nie. Die kinders het op die grond geslaap – en al was dit ook gesellig, was dit koud en nie gemaklik nie. Sy besit glo ’n lekker, gemaklike maar beskeie huis iewers in Pretoria. Maar ek was nog nie daar nie.”

Ook Thandeka, glo jy, moes in swaar tye die lig binne haarself vind. In haar jeug was sy ’n maand lank in eensame aanhouding. “Ek moes leer om na binne te keer. Aanvanklik was ek kwaad, ek het gewonder hoekom ek daar is, of ek ooit sou uitkom. Dan leer jy berus, jy onderhande­l met God, jy leer jouself goed ken.”

Sy is dol op veral een aanhaling van die Nigeriese skrywer Ben Okri, ’n Man Booker-pryswenner: “Cultivate the habit of silence, and an unwillingn­ess to interpret that which must be unseen in order to be seen.”

Thandeka lag baie en lekker. Nóg ’n raakpunt met Thuli. “Thuli is nederig en snaaks – ook ondeund. Toe sy op ’n keer haar pa by sy straatstal­letjie in Soweto gehelp het, het ’n bus vol jong seuns verbygery. Sy het glo ewe spelerig na die kant toe getree, en bloot gemaak asof sy haar pa nie ken nie.”

Maar wanneer Thuli vir goeie werk geprys is, het sy dikwels bloot geantwoord: “Ek dóén net my werk.” Dís wat mense so aantrek na haar, meen Thandeka. “Sy voer haar beloftes uit. Sy het ’n sterk waardestel­sel, praat altyd die waarheid. Sy glo aan gelykheid vir almal. Sy respekteer mense.” En Thuli die enkelma? “Sy het ’n baie goeie verhouding met haar dogter, Wenzi, en seun, Wantu [albei in hul twintigs]. Thuli het hulle altyd teen die wêreld beskerm, veral toe dinge nie so goed met haar gegaan het nie. Wenzi en Thuli is baie besorg oor die hoë klasgeld vir tersiêre onderrig en het ’n sukkelende student in die huis ingeneem en gehelp om verder te studeer. Deur Wits is hulle ook betrokke by die South African Student Solidarity Foundation for Education (SASSFE), wat landwyd studente bystaan wat swaarkry met klasgeld.”

Thandeka skenk self die opbrengs van haar boek aan die stigting. “Ek hét mos ’n vaste betrekking. Hierdie geld kan ander help.”

Ewe filosofies sê sy: “Die geskiedeni­s het ons so baie geleer. Niemand word kwytgeskel­d nie – nie pres. Jacob Zuma óf Thuli Madonsela nie. Daar sal baie JZ’S en baie Thuli’s wees. Daar sal altyd baie kritiek wees. Maar almal wat so krities oor Suid-afrika is, moet vra: Wat het ék gedoen om dit ’n beter plek te maak?”

Thandeka het geleer – “en ek is seker dit is ook soos Thuli dink” – demokrasie is ’n proses wat nooit ophou nie. “Almal moet goed wees vir mekaar, probeer om regverdig te leef.”

Soos Thuli gedoen het. “Sy was nooit bang nie. Sy het die regte ding gedoen. Onverskrok­ke. Sy wou nie noodwendig gewild wees nie. Sy gee om vir Gogo Dlamini. Regverdigh­eid en gelykheid vir almal.” * No Longer Whispering to Power (Jonathan Ball Publishers, R250) Suna Venter is op 29 Junie dood in haar woonstel aangetref. Sy het vermoedeli­k aan stres-kardiomiop­atie, oftewel gebrokehar­t-sindroom, gesterf.

Sy versteek ’n staalharde krag in ’n handskoen van fluweel Thandeka

 ??  ??
 ??  ?? Thandeka Gqubule
Thandeka Gqubule

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa