Elke Europa op'n fiets
Dit was ’n droom-avontuur waaroor Carel Roux en Elna Luwes van Hermanus nie uitgepraat kan raak nie. Dié paartjie het sowat 2 000 km per fiets van Boedapest tot in die suide van Frankryk afgelê
dag was anders en hulle was nooit verveeld nie . . .
“Alles was ’n hoogtepunt,” vertel Carel Roux, eienaar van ’n bou-onderneming op Hermanus, oor hul twee maande lange fietstoer deur nege lande, groot dele daarvan in Oos-europa.
Carel en sy lewensmaat, Elna Luwes, se toer het op 1 Junie verlede jaar afgeskop in Boedapest, Hongarye, en geëindig by hul vakansiehuis op ’n Middeleeuse dorpie naby Nice, in die suide van Frankryk, sowat 2 000 km verder. Hulle is deur Hongarye, Slowakye, Oostenryk, die Tsjeggiese Republiek, Oos-duitsland, Pole, Slowenië, Italië en Frankryk.
Elna, ’n fiksheidsinstrukteur, sê hulle glo jy moet jou drome waar maak. “Enigiemand kan doen wat ons gedoen het, ongeag jou ouderdom. Europa is vol jong gesinne, selfs met troeteldiere, en bejaardes van tagtig plus wat op hul eie fietsry en kampeer.” Carel is 70 en Elna 57.
Noudat hulle terugkyk, 2 000 foto’s later, voel dié gesoute reisigers trots dat hulle deurgedruk het. “Die Vader het ons elke dag beskerm en gelei,” sê Carel.
Hy het vooraf deeglike beplanning gedoen. “Jy kan nie net in die pad val en verwag jy gaan saans slaapplek en kos kry nie. Al die stadsfeeste trek hope stedelinge in die somermaande,” verduidelik hy.
< Hulle het besluit op Oos-europa omdat daar nog baie plekke en dinge is wat wag om ontdek te word, en die rand is daar meer werd as in die res van Europa.
“En so het ons reis in Boedapest afgeskop. Hoe lekker om ons Decathlon-fietse ’n entjie buite die dorp te kon gaan koop. Ons kon presies sê hoe die saalsakke, staanders vir parkering en roosters moes lyk. Groot opwinding,” vertel hulle. Vir Elna was dit asof sy ’n Rolls-royce ry toe sy eers op haar wit ysterperd sit.
Hul bagasie was karig: twee fietsrybroeke, ’n paar T-hemde, vier stelle onderklere, gereedskap, waterbottels en medikasie vir elkeen.
Soggens het hulle niks later as halftien begin trap nie. “Maar eers ná ’n stewige ontbyt vir krag. Gewoonlik witbrood rolletjies, kaas en kouevleis of’ n hardgekookte eier en sterk koffie,” vertel Carel. Hulle sou af en toe langs die pad stop vir ’n peuselhappie. Die afstand per dag het van 15 tot 75 kilometer gewissel.
“Ons hou nie van georganiseerde toere nie, want ons geniet ons vryheid. Ons het vooraf slegs in Boedapest vier dae se verblyf bespreek,” sê sy.
Van daar is hulle al langs die Donaurivier in Hongarye, met sy pragtige natuurskoon, na Slowakye, en toe na die kosmopolitiese Wene in Oostenryk. Daar het hulle allerlei besienswaardighede soos die Sint Kar els k erken die Sint Stefanus-katedraal besoek. “Soms het ons treingery, veral as die roete steil was,” sê hulle. Van Linz in Oostenryk is hulle noord na die Tsjeggiese Republiek.
“Wat ’n lekkerte om vier dae lank op die dorpie Český Krumlov ’n Middeleeuse fees te beleef en toe aan te beweeg na Praag, waar ons in die pragtige stadskern oorgebly het.
“Die volgende mikpunt was Dresden in Oos-duitsland, ’n sprokiesmooie stad wat tydens die Tweede Wêreldoorlog byna deur bomme verwoes is, maar nou weer in al sy glorie herbou is,” vertel hulle.
Vra jy Carel en Elna om die lekkertes uit te sonder, kyk hulle grootoog-vraend na mekaar. “Waar begin jy?”
Langs die pad was daar soveel interessante karakters soos die ou hospita van ’n baie ou gastehuis, met haar stokoud hond, maar waar alles darem skoon was. Kort voor hulle die grens na Slowakye oorgesteek het, was daar die herbergier na wie hulle as “Anty Vicky” verwys, wat in haar agtertuin gemediteer het. Of anders het sy poedelnakend sit en televisie kyk!
Die Oos-europeërs se groot harte het hulle ook bekoor. By hul eerste gastehuis in Visegrád, Hongarye, is hulle deur die gasvrou met die heerlikste kleinkoekies verwelkom. Albei reken Berlyn verdien ’n ereplek: ’n kultuurstad met die lieflikste argitektuur.
“Spesiale fietsroetes is veral opvallend in stede soos Berlyn, Boedapest en Praag. In baie Europese stede het fietsroetes selfs hul eie verkeersligte,” vertel Carel.
En die kos? “Oos-europa is nie soos die Franse bo-aan die lys vir eetplekke nie! Jy raak soms moeg vir pizza, gebakte kalfsvleis met slaptjips, die baie witbrood, vet en stysel,” lag hy.
Maar hulle vertel opgewonde van die Turke wat ’n “kosverrassing”, bekend as die doner kebab, na Oos-europa gebring het. Dis ’n soort dun broodpannekoek, gevul met vars kool, uie, tamatie, slaaiblare en fyn vleis, afgerond met jogurt. Dit word opgerol en jy eet dit soos ’n roomys! En kos slegs sowat R42 (3 euro). “Dit is gesond en goedkoop,” sê Elna.
Onderweg op hul roete het hulle minder as 5% van die tyd die pad met motors gedeel. “Fietsroetes is dikwels ook ver weg van motorpaaie en het uitstekende padaanwysings, so jy kan kwalik verdwaal,” vertel hulle.
“En kan jy glo, ons is nie een keer op die reis deur ’n pap wiel of herstelwerk aan ons fietse geteister nie,” borduur Carel voort.
Elna raak liries oor Slowenië. Die ouwêreldse, sjarmante hoofstad Ljubljana, was een van haar hoogtepunte. “Die turkoois water by die Bled-meer is sekerlik van die mooiste wat ons nog gesien het. Ek wil nie blasé klink nie, ons het al die groot mere in Italië beleef, maar niks kom daarby nie.”
Een van hul gunsteling-stede, Venesië, het gewag aan die einde van die amptelike fietstoer. “Van daar het ons ’n Fiat Panda-‘ bakkie’ gehuur en na ons vakansiehuis gery.”
Baie mense droom maar net van só ’n reis. Maar dit ís doenbaar, mits jou prioriteite reg is, glo hierdie twee. “Ons ry nie grênd motors nie en kampeer vakansietye met ons kinders.” Hulle het sewe kinders en twee kleinkinders tussen die twee van hulle.
“Ons het ons eie huis op Onrus gebou. En ek werk my alie af. Soggens kwart oor ses begin ek met mense konsulteer en saans kwart oor sewe sien ek my laaste kliënt,” laat Elna hoor.
“Omdat ons ouer is en meer van ons gerief hou, wil ons nie ‘ hard’ slaap nie, ons wil saans stort én lekker eet! Ons leer mense op straat ken en het lekker stories om agterna te vertel.”
Uitdagings was daar natuurlik ook. Elna is van nature fiks, maar oor die eerste paar dae moet jy jouself “inry”. “Jou nek en rug is styf. My boud se sitbeentjies was seer en ek was baie aande moeg.”
Gelukkig verstaan sy en Carel mekaar goed. Hulle is ’n span, en het al die hele wêreld platgereis. “Ons het ook al talle staproetes in Suid-afrika aangepak. Ons hou van ’n effense uitdaging. Dinge moet nie te maklik wees nie.”
Carel is die sosiale een. “Ek het meer ruimte nodig en sou saans dalk eerder ’n bietjie herlaai in my kamer wanneer hy lekker gesels. Só vul ons mekaar aan.”
Hulle sien nie die nut van baklei in nie. “Die lewe is te kort. Toe ons mekaar in 1999 ontmoet het, het ons albei reeds baie swaar gekry en het, onder meer, ons lewensmaats verloor. Ons besef hoe kosbaar ons tyd saam is.
“Toe ons eers by ons vakansiehuis aanland en ’n laaste week gerus het, het ons net weer besef: Daar is niks wat jou so goed laat voel soos fietsry nie. Al daai endorfiene wat jy afskei en jy kan kyk na die mooie wêreld om jou terwyl jy ry,” sê Carel.
In hul rustyd daar het hulle toe sommer ook ’n paar korter fietstoere afgelê – soos na Antibes (aan die Franse Riviera) en Provence.
Miskien is ’n fietsreis na Amerika volgende aan die beurt.
Hulle glo, hoe eenvoudiger ’n mens leef, hoe gelukkiger is jy. “Mense wat alles gewoond is, het soveel verwagtings. Dit skep baie spanning. Ons is gewone mense wat net lekker ervarings wil opdoen.”