ANGS die ‘derde’ party in jul verhouding
As jou lewensmaat met angs sukkel, kan dit baie stremming op jul verhouding sit. Want dit kan al die lekker uit die lewe boelie – ook joune
Asjy met angs moet saamleef, het dit ’n uitwerking oral in jou lewe. Werk, vriende. En natuurlik romantiese verhoudings.
Callie Theodore van Maine, Amerika, verstaan dit maar te goed. Sy deel op Facebook hoe haar angs haar verhouding met Chris Briggs, haar vriend, beïnvloed.
“Dis moeilik om vir ’n angslyer lief te wees. Jy is oorsensitief, maak scenario’s in jou kop op wat ’n rusie veroorsaak en soek aanmekaar weer versekering.”
Want, sê sy, jy is geneig om te dink almal gaan uiteindelik die pad vat. “Jy weet dis moeilik en wil hulle nie met jou irrasionele gedagtes en bekommernisse belas nie. Dus stoot jy hulle weg voor hulle dalk self loop.”
Gelukkig verstaan Chris haar toestand. Hy gee haar die versekering wat sy nodig het, wanneer sy dit nodig het. Sy deel ’n skermgreep van ’n onlangse gesprek om haar punt te staaf. “Is ons oukei?” vra sy. En hy antwoord: “Baie beslis, liefie.”
Sy hoop almal wat met angs sukkel, kry dieselfde ondersteuning. “Soek iemand wat jou nie laat voel dis werk om vir jou lief te wees nie. Iemand wat jou nie laat voel jy oorreageer nie. Wat jou sus as jy ’n angsaanval het. En nie loop nie – hoe hard jy hom ook al probeer wegstoot.”
Chris het ook ’n geestesiekte en hulle kan op mekaar staatmaak vir ondersteuning. Haar skrywe is intussen sowat 145 000 keer gedeel – ander kan duidelik met haar ervaring identifiseer.
Alle verhoudings het uitdagings. Maar as een van julle ’n angsversteuring het, kan dit dié probleme vererger, volgens die Anxiety and Depression Association of America (www.adaa. org). Vermyding is nou gekoppel aan angs – die “derde party” in ’n verhouding, noem dr. Colinda Linde, sielkundige van Johannesburg wat op depressie en angs fokus, dit selfs. Dit kan spesifiek wees, soos ’n fobie, of chronies, soos ’n algemene angsstoornis ( general anxiety disorder of GAD). Jy is dan gereeld, minstens ses maande lank, intens angstig en bekommerd oor ’n wye verskeidenheid dinge.
Jy vermy situasies, plekke en aktiwiteite wat potensieel ’n sneller vir die angs kan wees. Dit kan byvoorbeeld beïnvloed wat jy in jou vrye tyd doen. (As jy ’n fobie het vir spinnekoppe, gaan jy die buitelewe vermy.) Volgens dr. Linde is die algemeenste voorbeelde wat sy al gesien het:
Jy kan nie bestuur as jy op jou eentjie is nie. Jy is bang om alleen te wees ingeval jy ’n paniekaanval kry en daar is niemand naby om te help nie. Dít ondanks die feit dat jy dalk maande laas een gehad het.
Klein snellers kan tot ’n oormatige reaksie in die vorm van katastrofiese denke lei. Jou maat is byvoorbeeld ’n bietjie stiller as gewoonlik en jou onmiddellike gevolgtrekking is dat hy ’n affair het of jou gaan los.
Geen wonder nie dat mense met GAD beduidend minder geneig is om hul verhouding met hul lewensmaat as “gesond en ondersteunend” te beskou, volgens ’n Adaa-studie. Probleme wat geïdentifiseer is, is onder meer gereelde rusies en ’n gebrek aan kommunikasie en seksuele intimiteit. (Sien kassie op bl. 116 vir statistieke.)
AS JOU MAAT ANGSTIG IS ’n Angsversteuring gaan gewoonlik gepaard met baie persoonlike pyn. Maar dit kan vir ’n lewensmaat net so moeilik wees.
Want jy, as die maat van iemand met angs, dra dikwels meer as die normale vrag verantwoordelikhede, sê Karlien Erasmus, sielkundige van Pretoria. Verhoudings word grotendeels beïnvloed omdat die angslyer homself dikwels isoleer, sosiale geleenthede vermy en verantwoordelikheid aan jou oorlaat. Die angs neem eenvoudig “oor” en hy sien “net nie kans” om die situasie te hanteer nie.
ADAA som op:
Huishoudelike roetine word dikwels omvergewerp en spesiale planne/toegewings vir jou maat gemaak. Jy moet dalk al die gesinsverantwoordelikhede oorneem soos rekeninge betaal, inkopies doen en die kinders karwei.
Dalk maak die angsversteuring dit moeilik om werk te kry, of dit te behou. Jy is dus by tye die enigste broodwinner.
Jou geliefde kan dikwels roetinesosiale bedrywighede vermy. Jou sosiale lewe ly ook daaronder en julle kan albei geïsoleerd voel.
Jy kan hartseer, depressief of bang wees. Of kwaad, bitter en gegrief teenoor jou wederhelf. En dan skuldgevoelens hê omdat jy so voel.
Die uitdagings kan soos ’n berg lyk. Weet egter iemand met ’n angsversteuring kan met behandeling ’n produktiewe lewe lei, ’n suksesvolle loopbaan en besige sosiale lewe hê, sê ADAA. Dit verg wel harde werk van die een met die versteuring; en geduld van sy familie en geliefde.
Karlien beveel aan dat jy vir psigoterapie gaan as jy aan ’n angsversteuring ly en dat jy doelbewus aan die onderliggende oorsaak werk. Dis soms nodig om medikasie te gebruik om die angssimptome onder beheer te kry sodat jy ten minste jou dagtake kan verrig.
En as dit jou geliefde is wat die probleem het? Weet jou maat kies nie om vol kommer te wees nie, en vrees nie die ekstreme simptome van ’n paniekaanval sonder rede nie, sê dr. Linde. Dis die probleem: Hy ly aan ’n toestand wat, anders as ’n gebreekte been of veluitslag, nie sigbaar is nie. Maar nietemin ’n sterk impak op jul lewe en verhouding het. Jou eie gedrag kan wissel van om óm die toestand te probeer werk, tot om dit heeltemal te vermy. Maar jy kan ontmagtig voel omdat niks oënskynlik help nie. Met uiteindelik hope frustrasie. ONDERSTEUN JOU MAAT
Leer meer oor die spesifieke angsversteuring en moedig jou maat aan om behandeling te kry. Bly onbevooroordeeld, soos of jy vir of teen medikasie of terapie is. Hoor wat die psigiater sê. Gedragsterapie, wat fokus op die verandering van gedagtes en gedrag om só ’n positiewe uitwerking op jou emosies te hê, werk veral goed vir angsversteurings.
Besef dis buite sy beheer, dis nie “aansit” nie. Vermy dus etikette soos neuroties, pateties, simpel of mal.
Besluit saam oor kleiner, realistiese doelwitte en take sodat hy versigtig die grense waarmee hy gemaklik is, kan uitskuif. Skryf dit neer en sit dit waar julle dit albei kan sien. Dit sal help om emosioneel meer in beheer te voel. #Bemagtig jou geliefde deur hom by besluite, afsprake en die afmerk van afgehandelde take te betrek.
Moenie al die verantwoordelikheid namens jou lewensmaat oorneem nie. ’n Belangrike deel van die herstelproses is dat hy self verantwoordelikheid moet aanvaar vir dinge wat hom angstig maak.
Gee positiewe terugvoer vir tye/ situasies wat hy minder angstig was, of gekies het om anders op angssnellers te reageer.
Moenie net aanvaar jy weet wat jou maat nodig het nie. Vra hoe jy kan help. Luister fyn na die antwoord.
Erken dat jy nie weet hoe dit voel om ’n paniekaanval of enige ander vorm van irrasionele angs te hê nie.
Besef dis moeilik om te weet wanneer jy geduld moet hê en wanneer jy druk moet uitoefen. Vir balans moet jy dikwels probeer en leer uit jou foute. HELP JOUSELF
Dis belangrik, en nie selfsugtig nie, dat jy ook na jou eie behoeftes moet omsien.
Moet dus nie jou eie lewe en belangstellings opgee nie. Dit help om asem te skep van die daaglikse stres. Jy sal dan meer energiek, gelukkiger, gesonder en beter voorberei op uitdagings voel. Moenie dat jou lewensmaat se angsversteuring jou ook insluk nie.
Bou ’n goeie ondersteuningstelsel op. Vriende en familie by wie jy jou hart kan uitstort. En jou ondersteun op maniere wat jou maat nie kan nie – emosioneel, geldelik, ens.
Stel grense. Besluit waar joune lê en lig jou wederhelf in. Dit kan emosioneel, geldelik of fisiek wees. Hy werk byvoorbeeld nie, maar gaan nie vir behandeling of doen iets om beter te voel nie. Bespreek jou verwagtinge en wat jy dink nodig is om die situasie te verbeter. Huweliksterapie kan dalk ook help.
Gaan self vir professionele hulp. Jou welsyn is net so belangrik soos jou geliefde s’n. As jy ’n behoefte het om met iemand te praat, of jy dink jy het simptome van angs en depressie, besoek jou dokter, of ’n sielkundige.