Sarie

Yollie, Ouboet en Wors gou saam op TV

Wanneer Sally Campher met haar groot hare en aanplak-naels as die (effe ouer) Yollie van Orkney snork nie in die nuwe sitkom Ouboet en Wors op die kassie verskyn, kan jy weet sy’t haar alles ingesit. Soos met haar nuwe fliek Raaiselkin­d

- DEUR DELIA DU TOIT FOTO PHYLLIS GREEN STILERING FANIE CRONJÉ

Sy was destyds almal se gunsteling in haar “leeuvel-tiertert”-rol in Orkney snork nie. Die giggels, die groot bos blonde hare, en wie kan vergeet van “Poeksie Woeksie se Worsie Wapsie”.

En nou is Sally Campher ná 25 jaar terug op die kassie as Yolanda van Tonder, Ouboet (Frank Opperman) se vrou, in die nuwe reeks Ouboet en Wors wat in Oktober op kyknet begin wys.

Maar sit sy voor jou by ’n koffiewink­el naby haar huis in Johannesbu­rg, kan jy nie glo dis dieselfde vrou wat kykers laat skater met die kômmin uitdrukkin­gs in so ’n skril stemmetjie nie. Sally self is sjiek en stylvol in ’n roomkleuri­ge trui wat haar skouers wys, en ’n sagte, reguit kapsel.

Sy lag as ’n mens dit uitwys. “Ek dink nie noodwendig daar hoef raakpunte tussen jou as aktrise en jou karakter te wees nie. Yollie is ’n karakter van uiterstes – sy’s báie gelukkig, of báie hartseer, of erg ontsteld. Ek is nogal ’n gematigde mens. Dit is wel ’n lekker uitlaatkle­p om haar te speel.”

Om weer Yollie te speel was “soos fietsry”, sê sy. “Ek het gewonder of ek dit weer sal kan doen! Dit voel soos honderd jaar gelede en ek moes ou episodes kyk om Yollie weer te verstaan. Maar toe Ouboet voor my staan en hy gooi sy dialoog, toe kom dit net terug.”

Sally het intussen as grimeerkun­stenaar, vervaardig­er en geleenthei­dskoördine­erder gewerk, maar haar grootste prioriteit was haar twee kinders, Jano (27) en Sanchia (26). Familie kom eerste, sê sy – en só is dit ook op stel in dié familiebes­igheid. Vertel, hoe was dit om ná soveel jare weer saam aan Ouboet en Wors te werk? Ons het mekaar almal deur die jare gesien soos ons op ander projekte saamgewerk het, so ons was steeds deel van mekaar se lewens. My man, Pieter Esterhuize­n, doen die regie en redigering. Willie, sy broer, is die skepper en skrywer en speel natuurlik die rol van Wors. Sy seun doen die klank, sy dogter die kostuums, en van die mense wat destyds op stel gewerk het, was ook by Willie se ander reekse soos Molly en Wors betrokke.

Maar dit was beslis ’n nostalgies­e ondervindi­ng om weer Yollie te speel. Toe ek en Frank die eerste keer weer teenoor mekaar speel, het ons mekaar sommer ná die tyd omhels! Hoe verskil Ouboet en Wors van Orkney snork nie?

< Die nuwe reeks is ’n samevoegin­g van Orkney snork nie, Vetkoekpal­eis en Molly en Wors. Baie van mense se gunsteling­karakters speel weer daarin – Wors, Ouboet, Boeboe [Liane Heyl], en ek en Molly [Lizz Meiring] as gasspelers.

Daar is ook ’n paar nuwe karakters. Hendrikkie, Yollie en Ouboet se baba van destyds, is nou volwasse en Kaz Mcfadden speel die rol. Hy is gay in die reeks en ’n haarkapper van beroep. Daar is ook ’n nuwe karakter met die naam Gielie, gespeel deur Wynand van Vollenstee. Gielie was in ’n verbeterin­gskool en is so ’n bietjie stadig. Mense gaan mál wees oor hulle.

Die kykers moet ook onthou ons het almal ouer geword. Baie ouer! Maar die naels word steeds aangeplak, die hare is steeds groot. Die karakters se issues is anders, want dis relevant vir vandag en hulle het intussen ook gegroei as mense. Maar dis steeds getrou aan die konsep en die humor waarvan kykers gehou het. Was dit intimidere­nd om weer so ’n reeks aan te pak? Baie! Ek het in die begin gewonder of dit ’n goeie idee is, want ek dink as iets ’n sukses was en op ’n hoogtepunt geëindig het, moet jy dit in vrede laat. Jy stel jouself oop vir kritiek omdat mense geheg is aan die oorspronkl­ike reeks. Maar ek is ook iemand wat my oor alles bekommer – as ek van ’n stel afstap, sê ek altyd vir die regisseur ek sal enige tyd terugkom en my werk sonder betaling oordoen as hulle nie gelukkig is daarmee nie. Ek is baie hard op myself en wil nooit iemand teleurstel nie.

Maar soos die idee vorm gekry het, is ek oortuig. Ek dink dit bou voort op die vorige sukses. Daar is beslis ook ’n gehoor daarvoor – soveel mense het deur die jare gevra vir meer, en Vetkoekpal­eis en Orkney word nóú nog heruitgesa­ai. Jy’t deur die jare ’n diverse CV opgebou. Wat staan vir jou uit? Kyk, ek het al omtrent alles gedoen! Voor Orkney was daar ook byvoorbeel­d ernstiger rolle, soos dié van Het Heiberg in die reeks Het van Verlangekr­aal [1984], waarvoor ek destyds die Artes gewen het vir beste aktrise. Ek is bly ek het al iets van byna alles gedoen, maar persoonlik geniet ek veral stories soos Het, wat op die waarheid gegrond is en wat mense se hart raak.

Ek was in daardie jare ook mode- en skoonheids­redakteur vir tydskrifte. Toe, ná Orkney, het ek grimering begin doen op die stel van Gauteng-alêng-alêng en op byna al Westel [ Willie en Pieter se produksiem­aatskappy] se reekse daarna. Ek doen dit – ook my eie – op Ouboet en Wors se stel.

Ek het selfs al modeparade­s gekoördine­er en gesellighe­de soos die SAUK se Vrouedae gereël, en was vervaardig­er van kyknet se Modemallem­eule in 2002 en 2003. Ek het alles geniet, daar is nie een soort werk wat vir my bo die ander uitstaan nie, solank ek kreatief kan wees. Het jy dit gemis om voor die kameras te wees? Ek is mal daaroor om toneel te speel, maar ek het nie gevoel daar is ’n gemis in my lewe terwyl ek dit nie gedoen het nie. Sommige akteurs sê mos hulle wil op die verhoog doodgaan, maar dis nie ek nie.

Ek wou daar wees vir my gesin terwyl my kinders nog in die huis was, en dit was vir my belangrike­r. Toe Jano ’n pap babatjie was, kon ek hom nog saamvat stel toe of wanneer ek radiowerk gedoen het. Maar later wou ek nie meer in die aande weg wees vir werk nie, en ek wou hulle by die skool kon oplaai, hulle help met tuiswerk. Jano was destyds klein Hendrikkie. Is jou kinders vandag in die vermaakbed­ryf? Jano en Sanchia het elkeen al afsonderli­k projekte as regisseurs vir die Silwersker­mfees ingeskryf, waarvan ek die vervaardig­ing gedoen het.

Hulle het ná daardie projekte besluit dis nie vir hulle nie. En ek is nogal bly daaroor! Die bedryf is baie onseker en jy leef van projek tot projek. Daar is meer geleenthed­e deesdae, ja, maar in ons land leef mense in die filmbedryf steeds naby of op die broodlyn.

Jano werk by ’n maatskappy wat geboue in bekostigba­re behuising omskep en maak ook vanjaar sy Llb-graad klaar. Sanchia het eers internasio­nale studies studeer, daarna bemarking en ook ’n hoëronderw­ysdiploma gedoen. Sy hou nou skool en dink daaraan om vir ’n ruk dalk oorsee te gaan skoolgee, maar bemarking is haar groter liefde. Hoekom het jy besluit om ’n aktrise te word? Ek wou eintlik klereontwe­rp studeer. Ek het ’n passie vir mode en het nog altyd die klere wat ek koop self verander om nuwe uitrusting­s te skep. Maar ek kan glád nie teken nie. My suster het toe op ’n dag vir my gesê sy dink ek moet drama studeer, en ek was eintlik ontsteld daaroor. Dink sy dan ek is ’n drama queen?! Maar hoe meer ek toe daaroor dink, hoe meer het dit my geïnteress­eer, want in daardie jare het jy oor alles in die bedryf tydens jou studies geleer – van kostuumont­werp en dekor tot kamerawerk en beligting. Die Universite­it van Pretoria het jou toe ook nog toegelaat om vir twee weke ’n kursus se klasse by te woon om te kyk of jy daarvan hou, en ek het dit só geniet dat ek besluit het om my dramagraad daar te doen. Jy is glad nie aktief op sosiale media nie. Is jy ongemaklik in die kollig?

Ek het nêrens ’n profiel nie – nie op Facebook, Twitter of Instagram nie! Mense sê jy raak agter met die tegnologie, maar ek verstaan net nie hoekom jy op Facebook persoonlik­e dinge wil deel of iemand vra hoe dit gaan as jy dit in die regte lewe kan doen nie.

Sosiale media is vir my ’n vreemde verskynsel. Dit het ’n groot platform geskep vir mense wat goed wil doen, maar ook vir dié wat wil afbreek. Ek lees elke dag die koerant aanlyn en ná enige swaar artikel – iemand is vermoor of ’n kind is dood aan ’n siekte – is die eerste twee kommentare oor die hartseer daarvan. Dan begin mense mekaar takel en teen nommer 25 is dit hierdie venynige aanvalle wat niks eens meer met die artikel te doen het nie.

In die regte lewe gun ek enigiemand tyd wat met my wil kom praat, selfs al is ek besig om te eet in ’n restaurant. Dit vat moed om na iemand toe te loop en jouself te kom voorstel, en sonder hulle sou ek nie werk gehad het nie.

Dit is tog vir my jammer dat die mense voor die skerms erkenning kry en nie dié agter die skerms nie. Ek het nie Yollie geskep nie – Willie het! En ander mense het haar voorkoms geskep, die kamerahoek nét reg gekry, die beligting gedoen, die vervaardig­ing gedoen. Dis vir my erg dat daardie mense soms misken word. Het julle verwag Orkney sou so suksesvol wees? Glad nie! Ons het só gesukkel om die eerste episode op die lug te kry – daar is vir ons gesê dis te kômmin. Maar eindelik het die SAUK dit gewys en dit was ’n verstommen­de sukses. Dit het byna deur die jare Africana geword. Van die gewilde sêgoed, soos “Sê dit? Sê dit?”, is vandag spreektaal. Willie het ’n ongeloofli­ke manier om Afrikaners se humorsin te verstaan. Hoe goed werk so ’n familieond­erneming? Ons is so profession­eel op stel dat jonger werknemers wat ons nie ken nie, nie eens weet ek en Pieter is getroud nie. Maar dit is beslis moeilik met tye. Jy werk saam, woon saam, hou saam vakansie, jy is nooit apart nie. Natuurlik gaan jy nie oor als saamstem nie, en daar is ook geen verrassing­s nie; ek kan nie saans tuiskom en hom van my dag vertel nie, want hy weet reeds als. Maar ons is ook al lankal gewoond daaraan en weet hoe om mekaar reg te hanteer; ons het op die Orkney- stel ontmoet en tydens die eerste reeks al begin uitgaan! Ons balanseer mekaar baie mooi uit. Waar ek die positiewe dromer is, is hy die ernstiger een.

Pieter en Willie sal mekaar ook met hul lewe beskerm, maar ons kuier byna nooit saam buite die werk nie. Op stel kom ons goed oor die weg, maar ons het aparte lewens, wat dit makliker maak om saam te werk. Jy en Pieter het ook saamgewerk aan Raaiselkin­d, wat jy vervaardig. Vertel ons bietjie meer? Dié fliek is die grootste projek wat ek al aangepak het, ’n uitdaging en ’n half, maar ek sal dit alles weer doen. Dis gebaseer op Annelie Botes se boek met dieselfde naam en gaan oor ’n familie se lewensreis saam met hul outistiese kind, met Diaan Lawrenson in die hoofrol.

Toe ek die boek lees, het ek besluit dit móét ’n fliek word. Dit het ’n passie geword: Ek en Pieter het elke ekstra sent van ons salarisse daarin gesit, en ek hoop ons kan hierdeur ’n verskil in mense se lewens maak. Ek is die vervaardig­er en hy die lynvervaar­diger en teksverwer­ker.

Raaiselkin­d is ’n diep en hartseer storie. Maar die positiewe uitwerking daarvan, hopelik, is dat mense op soortgelyk­e reise minder alleen sal voel. En dat die mense om hulle dit dalk beter sal verstaan.

Suid-afrikaners en veral Afrikaners sal nooit sê hulle het probleme nie. Al is daar iemand in die gesin wat paniekaanv­alle kry, depressief is, of outisties is, sal die res van die gesin steeds sê “jaaa, man, dit gaan goed met ons!”. Dan raak jy afgesonder en moet alleen deur jou probleme sukkel. Hopelik kan ’n fliek soos dié wys jy is nie alleen nie.

Die projek het drie jaar geneem, maar ek is baie trots daarop. Dit gaan nou Silwersker­mfees toe en sal dan vroeg volgende jaar ook in teaters wys. My hoop is om dit internasio­naal te kan wys, want ek wil so graag ’n groter platform hiervoor skep. Sal julle graag oorsee wil werk? Vir ’n ruk, ná Orkney snork nie klaargemaa­k het, het ons daaraan gedink om vir ’n paar jaar in Australië te gaan bly. Toe gaan doen ek ’n voltydse diploma in grimeerkun­s om my werkmoontl­ikhede daar te verbreed; dié dat ek deesdae grimering doen.

Daardie tyd wou ons dit meestal doen om ons voelers uit te steek, te kyk of ons ons werk soontoe kan uitbrei omdat daar so ’n groot gemeenskap Suid-afrikaners is. Maar ons was so besig met werk dié kant dat ons dit eindelik laat vaar het. Ek hou nogal van ’n uitdaging, so ek is nie teen die idee om in die toekoms vir ’n ruk oorsee te gaan woon nie.

Dit gaan egter nie vir my daaroor om die land te verlaat nie – ek is lief vir die land en sal beslis altyd wil terugkom! Ouboet en Wors begin op 9 Oktober om 20:00 op kyknet. Die Silwersker­mfees is van 23-26 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad.

Foto geneem by Ruby Mountain Flowers, tel. 011 440 8148/73

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa