Boekklub 2 het byna nie gebeur, bieg die skrywer
Hy is die meesterbrein agter een van die gewildste reekse op kyknet. Vir die tweede seisoen van sy ‘hartsprojek’, Die Boekklub 2, het skrywer en regisseur Louis Pretorius weer sy alles gegee
Sy koffie is reeds koud van die baie gesels, maar dit maak nie saak nie, hy hou daarvan so, sê Louis Pretorius, en vat ’n slukkie, onverstoord . . . Dis die eerste keer in maande dat hy die luukse van tyd het. ’n Oop oggend wat voor hom uitstrek.
Die mees intense fase van sy jongste Tv-reeks, Die Boekklub 2, lê nou agter hom: 68 dae op stel, waar hy en die filmspan van seweuur soggens tot seweuur saans gewerk het. Dis nou benewens verlede jaar se “totale eksistensiële krisis”, soos Louis daarna verwys. Toe hy vir twee maande geen woord kon skryf nie . . . verlam deur al die verwagtinge ná die oorweldigende sukses van die eerste reeks. (kyknet het ’n tweede reeks versoek nog voordat die eerste een klaar uitgesaai is.)
Gelukkig vir Boekklub- aanhangers het Louis hom uiteindelik uit die “writer’s block” los geskryf, sy selftwyfel agtergelaat. En toe hy eers op dreef is, het hy die draaiboeke binne drie maande voltooi. ’n Mens kan ook net so lank lê en Gilmore Girls kyk.
Wanneer die onderhoud verskyn, sal kykers reeds weer verdiep wees in die wel en wee van Tom Niemandt en die inwoners van die dorpie Merweville in die Karoo, maar in dié stadium “blok” Louis nog die eerste uitsendingsdatum uit sy kop.
“Ek is altyd kalm, tot net voor dit begin. Letterlik op 11 Julie om 20:00 sal ek myself afvra: ‘Gaan dit werk?’ Daarná sal ek elke krieseltjie reaksie op sosiale media probeer opspoor. Wat nie altyd ’n goeie ding is nie, maar nou ja . . . jy wil weet hoe reageer mense >
Ek dink so ’n storie gebeur net een keer in jou leeftyd . . . dit het eenvoudig ’n aar by mense raakgeboor Louis
< op dít wat jy geskep het.”
Louis het vir agt jaar tekste vir kyknet se Binnelanders geskryf, en was daarna ook medeskrywer van trefferreekse soos Vallei van Sluiers en Die Boland Moorde. Maar Die Boekklub is sy geesteskind, sy hartsprojek, die ene waarin hy sy hart en siel gestort het. Hy was skrywer en medevervaardiger van die eerste reeks, en met die tweede reeks het hy ook die regie gedoen.
Hy bly verwonderd dat dié reeks, waarvoor hy al ’n Safta en twee ATKVmediaveertjies ontvang het, tot soveel mense spreek. “Ek dink so ’n storie gebeur net een keer in jou leeftyd, the stars were aligned . . . dit het eenvoudig ’n aar by mense raakgeboor,” sê hy.
“Ons vertel heeldag stories, dis hoe ons sin maak van ons lewe. Dis uiteindelik ook waaroor Die Boekklub gaan . . . dis maar klein klein storietjies, dis nie die een of ander groot drama van die antagonis wat jou besigheid wil oorneem nie. Ek glo in elk geval nog altyd jou grootste vyand is jyself. So is dit ook met Tom of watter karakter ook al. Dalk kan kykers hulle daarmee vereenselwig. Dis daardie kombinasie van lig en donker in die karakters wat mense in hulself ook raaksien.”
Louis het dit geniet om weer met die span op Merweville te skiet – hy het ’n sagte plekkie vir die dorp, eintlik vir die hele Karoo.
“My oupa het ’n plaas naby Strydenburg gehad. Kleintydherinneringe is daai deurnag met die trein ry van Pretoria na die Karoo, slaap op die sleeper coach, die hanslammers op die plaas, die denneboomlaning langs die lusernlande, skaapvet en appelkooskonfyt, die winters. Dit was vir my ’n bonus dat my skoonouers op Merweville bly, die Karoo-konneksie is spesiaal.
“Oorspronklik sou Tom ’n boekwinkel erf op Stellenbosch, maar toe begin ek speel met die idee van die hipster uit die stad wat noodgedwonge op die Karoo-dorpie beland nadat hy sy ouma se gastehuis erf en by haar boekklub moet aansluit.”
Louis het nog altyd gehou van ’n buitestander-storie, dalk omdat hy self een was. Op hoërskool op Potgietersrus (nou Mokopane) was hy een van die enigste seuns wat Engelse toneel gedoen en aan kunswedstryde deelgeneem het. “Ek het aan sport deelgeneem en almal op skool geken, maar nooit werklik heeltemal by ’n groep ingepas nie. Maar dis die lewe. Dit vorm jou, maak jou wie jy is.”
Hy was “’n verskriklike pligsgetroue tiener en ’n totale nerd”, het altyd sy tuiswerk gedoen, homself gedryf en vir ses onderskeidings gemik. Hy wou gaan drama swot, maar sy ouers het hul bedenkinge gehad. En toe, in sy matriek-eindeksamen, skop sy rebelse kant in.
“Ek het net besluit: I am done. Ek gaan nie verder voorbeeldig wees nie. Ek besef vandag ek wou net wees. So, ek het nie my ses onderskeidings gekry wat almal van my verwag het nie. Ek en my beste vriendin het ná matriek oorsee gegaan. Die eerste keer in my lewe dat ek gevlieg het, was op agtien met Air Gabon Engeland toe. Dit was nogals crazy.”
Basies was sy tienerjare tussen 18 en 23, skerts hy. Hy was ’n kelner in ’n viersterhotel in Oxford, het Engelsklasse in Mexiko gegee en drie jaar later, terug in Pretoria, twee jaar as onder meer kantoorbestuurder gewerk. Maar drama het in sy agterkop gebly. Uiteindelik het Louis drama aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer en in sy derde jaar in skryf begin spesialiseer. Hy het ook ’n meestersgraad in teaterregie.
“Op universiteit het ek weer gefokus gewerk, soos op skool. Ek het geweet dis wat ek wil doen. Dis hoe ek steeds werk. Ek sal nie drieuur in die nag opstaan om ’n paragraaf te skryf nie. Ek huur ’n kantoor by dramaturg/skrywer Malan Steyn op Stellenbosch, en daar skryf ek geroetineerd, van agt tot vyf, elke dag.”
Hy weet nie eintlik waar sy skryfliefde vandaan kom nie, was wel nog altyd behendig met taal en mál oor lees. “Ek was tot in standerd een in ’n klein laerskooltjie op Levubu, op die Vendagrens. Ons was sowat sestig leerders. My graadeen-juffrou was wonderlik. Aan die einde van daardie jaar kon ek Engels en Afrikaans vlot lees. Ek het Asterix, Saartjie, Trompie, Nancy Drew, Fritz Deelman en later al die groot
klassieke Afrikaanse werke verslind. By die biblioteek was die groen kaartjies vir die kinders en die bloues vir die grootmense; ek onthou ek het baie gou my groenes vir bloues omgeruil.”
In sy laat tienerjare en vroeë twintigs het hy ’n bietjie probeer skryf, “verskriklike slegte” poësie. ’n Gewroeg. “Ook maar ’n hopeless romantic,” sê hy met ’n skewe glimlag.
Maar uiteindelik was sy groot leerskool die jare wat hy vir Binnelanders tekste geskryf het om die pot aan die kook te hou. “Ek het baie geleer van dissipline, hoe om tonele te struktureer, woordekonomie, en om nie precious te wees oor my skryfwerk nie.”
Sy vrou, Mareli, wat klasgee by die US se dramadepartement, is een van net drie mense wat sy tekste lees terwyl dit nog in wording is. Die ander twee is sy sakevennoot Albert Snyman en Malan. As hulle iets bevraagteken, weet hy iets kom kort.
Hy het Mareli in sy eerste jaar ontmoet toe hy een van haar studente was. “Sy is twee jaar ouer as ek en het vir my spraak en vertolking gegee. Ek onthou dit was die vorige aand eerstejaarskonsert en almal het baie gedrink. Die volgende oggend was ek die enigste een wat vir haar klas opgedaag het. Hoe anders? Toe sit ons buite en raak aan die gesels . . .”
Hulle is vanjaar al dertien jaar getroud, en hulle het ’n seuntjie, Lukas, wat in Augustus vier word, graag saam met sy pa treine speel en in beheer is van die TV se remote. En baie praat. “Ek is meer ingekeer, eerder ’n luisteraar – ten spyte van die afgelope uur en ’n half se aanhoudende gepraat,” sê hy.
Sy work wife, soos hy spottenderwys na Albert verwys, ken hy ook van sy studentedae. Albert is hoofteater- tegnikus by die dramadepartement. Hulle besit die afgelope ses jaar saam die produksiehuis Moebius Films.
“Ek dink mense beskou ons as ’n vreemde kombinasie. Albert kan abrasive voorkom, maar sy hartjie is klein. Hy het my geleer om te waag en groot te dink. Hy werk in ‘chaos-teorie’, hy kom vorendag met hierdie enorme, ekstreme idees en ek kom weer met meer logiese goed, en dan vind ons iewers in die middel ’n balans. Met Die Boland Moorde, wat sy breinkind was, sou ons dae om die tafel sit en later ons koppe teen die muur stamp, maar dan is ons skielik op ’n punt waar iets werk. Dan sal ek die goed distilleer tot tekste. Dit is ’n lekker sinergie.”
Dis dié dat jy ook vreemde titels soos Bloedson raak-google as jy Louis se naam intik. Hy lag lekker. “Ons moes albei vir die Silwerskermfees ’n kortfilm-voorstel instuur. Myne was tipies ek, the circle of life, syne was boereoorlog-zombieapokalips . . . Syne is aanvaar, myne nie. Ons het saam gewerk daaraan en mense was mal daaroor! Maar ons het besef dat ons nie sommer aksieflieks sal maak nie. Albert wil nog wetenskapfiksie doen, en ek het ’n idee vir ’n postapokaliptiese dramareeks, maar dis eendag as ons baie geld het vir iets wat nie hoofstroom is nie . . . dis beslis nie Boekklub nie.”
Een van die spesiale oomblikke vanjaar was toe sy pa die filmstel kom
Op universiteit het ek weer gefokus gewerk, soos op skool. Ek het geweet dis wat ek wil doen Louis
besoek het. “Dit was vir hom ’n eyeopener om vir die eerste keer te sien wat ek regtig doen. Hy is trots en ondersteunend, wat ek baie waardeer,” sê hy, sy blou oë ernstig agter sy brilraam.
Soms, erken hy, is dit vir hom ondenkbaar en “bietjie oorweldigend” om te dink dat soveel mense bereid was om met soveel toewyding betrokke te raak by iets wat in sy kop ontstaan het. “Dis ’n ervaring wat jou nederig hou, om die passie van die tegnici en akteurs te sien, die lang ure wat hulle insit vir jou storie . . . dis mál dat aktrises soos Jana Cilliers en Antoinette Kellermann sê hulle hou van my tekste.”
Maar by sy terapeut, wat hy elke week sien nadat sy eerste rondte as vervaardiger van Die Boland Moorde hom “byna geknak” het, het hy nou al geleer: Jy moet in jou eie mag instap. “Dís wat ek die afgelope jaar doen. Ek begin besef dat ek dalk nie so sleg is in wat ek doen nie. Ek het iets om te sê. Ek het beheer oor my vakmanskap.
“Ek was nog altyd ambisieus. Ek en Albert gaan Moebius uitbrei, verder kapitaliseer op dit wat ons het, meer skrywers betrek, nuwe uitdagings vir onsself vind. Ons werk tans aan ’n reeks oor ’n regsfirma, ’n familieonderneming.”
Verlede jaar, in daardie tyd toe hy “kreatief totaal uitgedroog was” en oor sy loopbaan begin twyfel het, is sy kop uiteindelik geswaai deur die onteenseglike wete waarna hy heeltyd teruggekeer het: “Ek kan myself niks anders sien doen nie.”
Ek begin besef dat ek dalk nie so sleg is in wat ek doen nie. Ek het iets om te sê. Ek het beheer oor my vakmanskap Louis