Flitsverhaal: Beskermengel deur Elma Potgieter
“Hy’s’n rokjagter, Kara. Sjarmant, ja. Vernietigend aantreklik, ja. Maar hy bly ’n rokjagter. Jy kon hom mos gegoogle het.” Kara glimlag skeef waar sy in die donker oggendure by die inweegtoonbank op Kaapstad se lughawe staan en dink aan Lizette se waarskuwing.
Waarom het sy nie ag geslaan op haar vriendin se goed bedoelde raad nie?
Want sy het sy CV uit haar kop geken voor sy by die firma in Johannesburg aangestel is. Erich Verster se gesig en stem is so bekend soos ’n akteur of sanger s’n, al is hy ’n ekonoom en finansiële ontleder. Hy was kort-kort in die nuus, elke keer met ’n nuwe skoonheid aan sy sy. En aan elkeen het hy blykbaar “ewige trou” beloof.
Nogtans was dit nie ’n sterk genoeg waarskuwing teen die man se sjarme nie.
“Noem hom die blonde Mr Big van Sex and the City,” het Lizette afgesluit. Kara herleef haar eerste ontmoeting met “Mr Big”. “Ek is Erich Verster en jy moet Kara Conradie wees.” Sy diep stem strelend. “Ek het die lofsange oor jou gelees, maar g’n foto laat reg geskied aan hoe mooi jy is nie,” het hy reguit bygevoeg. “Seker Ierse voorouers met daardie blou oë, swart hare en porseleinvel.”
Hy het in haar turkooisblou oë geglimlag en hoflik gevra of hy vir haar ook kan koffie bestel.
“Kom ons gaan sit by daardie tafeltjie.” Hy het vooruit geloop met die koffie en vir haar ’n stoel uitgetrek.
In die koffiewinkel op die grondverdieping van hulle gebou het hy oor werk begin gesels – hoe die beleggingsfirma in die groter prentjie van die ekonomie inpas. Toe het hy haar indringend uitgevra oor haar siening van Suid-afrika se ekonomie en onlangse politieke gebeure en met onverdeelde aandag geluister na haar antwoorde.
Erken dit, Kara. Jy het pylreguit in sy strik beland. En tog? Die sagtheid in sy blou oë waarmee hy na haar gekyk het ná hulle eerste aand uit?
“Ek is verlief op jou, Kara.” Sy hande was om haar gesig ná hy haar goeienag gesoen het by haar voordeur.
Kara het in ’n dwaal die deur gesluit. Noodwendig het hulle saam op gesellighede beland, maar sy het hom vermy en eerder gedagtes uitgeruil met die wye spektrum van mense in die sakewêreld en media – alles deel van haar werkbeskrywing. Nogtans het hulle telkens in dieselfde groep beland.
Wie het dit georkestreer? wonder sy skielik. Was dit toevallig? Of het hy dit doelbewus beplan?
Dít weet sy egter: Ná die derde afspraak, ’n naweek weg saam met hom, was sy onherroeplik verlief op Erich Verster. Maar
die stormwind-romanse het presies ses maande geduur voor ’n merkbare terugkrabbeling van sy kant af. Hy was skielik afsydig.
Kara sug. Nou ja. ’n Mens is nooit te gesofistikeerd om te leer nie. Maar sy mis ’n man in haar lewe. ’n Man voel anders, klink anders, dink anders, ruik anders . . . Net nie nog ’n Erich Verster nie!
Fokus, Kara, sê sy vir haarself, haak haar werksak oor haar skouer en mik vertreksaal toe. Sy swenk uit toe sy amper in ’n man vasloop met sy arm beskermend om die skouers van ’n mooi vrou. Hy glimlag vir Kara en sy glimlag terug. “Ai, die liefde is wonderlik,” dink sy. In die vliegtuig lig sy haar hand in ’n groet vir ’n paar kennisse. Terwyl sy tweeweekliks vlieg tussen die Johannesburgse en Kaapse kantoor van die firma waarvoor sy nou werk, het sy agtergekom daar is ander mense wat dit ook gereeld doen.
“Ek verbeel my ek het jou al êrens gesien,” sê die frisgeboude man met ligte ongetemde hare toe hy in die paadjiesitplek langs haar kom sit. “Leo Peyper,” stel hy homself spontaan voor. “Ingenieur.” “Kara Conradie,” sê sy. “Heel waarskynlik op ’n vroegoggendvlug,” antwoord sy.
“Dis hoekom jy bekend lyk. Ek het gewonder of jy dalk ’n Tv-aktrise is.” Kara lag. “Ek vlieg vir werk – finansiële bedryf.” “Nou ja, Kara. Vergewe my. Ek sou jou graag beter wou leer ken, maar ek het ’n magdom berekenings wat ek moet doen voor ons O.R. Tambo tref.” Hy knip sy sitplekgordel vas en maak sy aktetas oop.
Kara voel ietwat teleurgesteld. Die man is spontaan en baie aantreklik en . . . hy laat haar veilig voel. Sy loer onderlangs na sy linkerhand. Leeg. Maar dit sê ook niks. Sy voel hoe sy bloos oor ’n man wat sy van geen kant af ken nie.
Sy druk haar vingers teen haar warm wange en haal ’n finansiële tydskrif uit haar sak. Sy raak verdiep in die artikel “Beleggings in ’n onstuimige politieke milieu” en kyk op haar horlosie toe die interkom aankom. Tee en koffie is baie laat, dink sy. Dan hoor sy die gespanne stem van die lugwaardin. “Ladies and gentlemen, we have a . . .” en dan ’n hyggeluid. Kara registreer ’n skielike doodse stilte onder die passasiers. “Nothing to worry about, ladies and gentlemen. This is your captain speaking. We have an unexpected situation that we will be able to resolve as soon as we get to O.R. Tambo. In the mean time I want you to keep calm. Everything is under control.”
Leo Peyper wat skielik regop sit, trek haar aandag. Hy lyk oorgehaal, sy oë soos ’n roofdier gerig op die deur van die stuurkajuit.
Hy flitskyk na Kara, fluister dringend: “Wanneer ek opstaan, buig vooroor met jou kop op jou skoot. Ek sê nie iets gaan gebeur nie, wees net gereed.”
Toe die stuurkajuit se deur oopgaan, verskyn die lugwaardin skuinsregop teen ’n lang man met sy linkerarm voor om haar skouers terwyl sy regterhand, bedek met ’n tjalie, iets in haar sy druk. ’n Wapen? ’n Paar vroue gil gedemp. Kara hyg hard na asem. Leo Peyper kyk vinnig na haar. “Stil!” beveel sy oë.
“Quiet!” Die metaalklank knal in ’n aksent wat Kara nie kan plaas nie.
“I hold everybody hostage. I want my wife to stay in this country with me. She with captain in cockpit. They talk to Pretoria.” Agter hulle begin ’n vrou skielik histeries huil-skree. “Stil!” ontplof dit uit Leo Peyper se mond terwyl hy omswaai. Die vrou hou onmiddellik op asof iemand ’n prop in haar mond gedruk het.
Op haar beurt wip Kara van die skrik. Sy kyk na die lang man, dieselfde een wat vir haar in die vertreksaal geglimlag het. Sy probeer om nie oogkontak te maak nie.
Hoe lank is hulle al in die lug? Kara het tred verloor met die tyd. Sal sy by die kantoor uitkom? Sê nou dinge ruk handuit en hulle stort neer?
Dan gebeur dinge baie vinnig. Die lugwaardin word oënskynlik flou, want sy gly willoos teen die man se lyf af. Sy konsentrasie verslap ’n oomblik toe hy afkyk. Leo Peyper skiet vorentoe. Hy stamp die man in die wind met sy regterelmboog terwyl hy met sy linkerhand die wapen onder die tjalie wegklap en vorentoe skop. Kara kyk gehipnotiseerd. Vergeet van vooroor buk. Sy sit versteen.
Leo Peyper smyt die man op sy maag in die gangetjie terwyl hy sy hande op sy rug vaspen.
“Help hier!” skreeu hy. ’n Gryskopman storm van agter af. Hy skeur ’n pakkie oop. “Sal pantyhose werk?”
“Perfek.” Kara kyk verbyster hoe Leo die man ’n hou agter die nek gee. Nog twee mans storm nader.
“Maak hom vas,” beveel hy en gaan tel die wapen op. In beheer. Hy verdwyn in die stuurkajuit.
Kara voel asof sy haar asem nog heeltyd ophou. Sy kyk gefassineerd hoe die gryskop die bewustelose man met ’n broekiekous vasbind. Asof afgespreek, is die passasiers doodstil. Kara ruk van die skrik toe die interkom kraak. “Ladies and gentlemen, this is your captain. Please fasten your seatbelts. We are about to land at O.R. Tambo Airport. I wish you a safe stay in our city.”
Is hulle sowaar al in Johannesburg? Onwerklik. Was dit nie dalk ’n rolprent nie? Sy kyk na Leo Peyper se aktetas. Dalk moet hy in die stuurkajuit agterbly tot ná die landing. Sy sal die tas vat en dit by ’n kantoor gaan ingee.
“Ek moet wag vir die passasier wat langs my gesit het,” verduidelik Kara vir ’n beampte by kliëntediens. “Leo Peyper,” sê sy en spel dit op versoek: “L-E-O Peyper . . .” “Het ek my naam gehoor?” hoor Kara hom langs haar. Dis ’n mooi stem, ’n gerusstellende stem. Maar ’n stem wat op die regte tydstip soos ’n sweepslag kan knal. “Ja.” Haar stem klink hees. Haar maag voel hol en haar vingerpunte tintel. Sy wil haar hand teen sy wang nestel en die growwigheid van sy baard teen haar handpalm voel. “Ek het jou aktetas saamgebring,” sê sy onnodig. “Dankie. Sal jy vanaand saam met my gaan eet . . .? En toemaar, ek is nie getroud nie,” sê hy en sy oë vonkel. “Ja, graag,” sê sy en glimlag net so ondeund. “Ek hou van oplettende mans.”