Sarie

‘Mooiste ding!’ sê Elize Cawood oor haar eie roos

Jy kan ’n Carike Keuzenkamp in jou tuin hê, ’n Mimi Coertse kweek, en nou met ’n spog. Die pragtige wit-en-pienk roos wat na dié geliefde aktrise genoem is, ‘is meer werd as enige toekenning’ Elize Cawood

- DEUR DELIA DU TOIT FOTO PHYLLIS GREEN STILERING FANIE CRONJÉ

Daar’s ’n vrou in elke geur, sê D.J. Opperman in sy gedig “Sproeireën”. En wat rose betref, is dit waar. Daar’s die Rina Hugo – ’n dieppienk blom wat volop bloeisels maak. Die Mara Louw – ’n geel blom met delikate pienk rande.

En nou, die Elize Cawood. Nes die bekroonde aktrise, bekend vir haar rolle in flieks soos Verspeelde lente, Die wonderwerk­er en Lien se lankstaans­koene, is haar roos klassiek en elegant.

Elize vertel toe sy die dag in Mei vanjaar haar roos by die bekende rooskweker Ludwig Taschner se plaas buite Pretoria gaan kies, was dit liefde met die eerste oogopslag. “Ek het gedink ek sal iets soortgelyk­s aan die appelkoosk­leurige Just Joey kies. Daar aangekom, het ek na ’n klomp pienk en appelkoosk­leurige blomme gekyk, maar ek kon net nie besluit nie. Toe gaan pluk Ludwig sy keuse en ek het dadelik geweet: Dís my roos daai!

“Dis treffend – ’n enorme wit blom met ’n pienk skynsel om die rand asof iemand liggies daarop geteken het. Dit was die mooiste ding wat ek al in my lewe gesien het!”

Rose hou nog altyd vir haar ’n spesiale bekoring in, sê Elize. Sy het self ’n tuin vol rose by haar huis in Johannesbu­rg. “Ek is net mal daaroor. Hulle lyk en ruik pragtig, en dis boonop so ’n dankbare plant wat selfs in droogte aanhou blom.”

Sy kry dié liefde van haar ouers af. “Daar was altyd rose in ons tuin en dit het ’n spesiale betekenis gehad in ons familie – vir my ouers se 33ste huwelikshe­rdenking het my pa byvoorbeel­d 33 roosboompi­es gaan koop en in die tuin geplant vir my ma.”

En om ’n roos na haar genoem te kry is ’n groot eer, sê sy. “Die grootste! Ek giggel soos ’n skoolmeisi­e as ek daaraan dink. Vir my hou dit ’n baie meer spesiale betekenis in as enige toekenning. Lank nadat mense van my werk as aktrise vergeet het, sal my roos nog daar wees. Hoe wonderlik.”

Ludwig sê dis nie sommer enigiemand na wie ’n roos genoem word nie. “Ons word gewoonlik deur iemand gekontak en gevra of dit moontlik sou wees – dié keer was dit Elize se buurvrou Elizabeth Pretorius, ’n bemarker saam met wie ons al voorheen gewerk het, wat ons genader het. Maar dan besluit ons eers of dit sal werk, want om die roos te verkoop moet mense van die persoon hou!”

Elize, sê hy, is ’n uitstekend­e aktrise en boonop beeldskoon, wat haar ’n gepaste keuse gemaak het.

“O, genade,” lag Elize as sy dít oor die foon hoor. “Ek kan maar net hoop ek doen dit gestand! Ek het my ure ingesit as aktrise en wil nog lánk nie ophou werk nie. Maar ek weet nie of só ’n klassieke en elegante blom soos ék is nie, veral waar ek hier op my stoep by die huis in die son sit en bak. Sonder fieterjasi­es, ja, dalk. En ek dink rose praat met my omdat hulle so gehard is, hulle gaan net aan en doen hul ding.”

Elize se roos, sê Ludwig, word ’n edelroos genoem omdat dit regop groei en lang stele maak. “Dié een groei maklik en goed in die son en die geplukte blomme hou ook lank in water.”

Hoewel die roos nie ’n skerp reuk het soos sommige rooi bloeisels nie, is daar tog ’n subtiele geur, sê Elize. “Die geur is effens sterker in die aand. En die blom gaan ook mooi lyk in my eie tuin – ek hou van plante met wit blomme, omdat jy dit in die donker kan sien en jou tuin dan saans ook mooi lyk.”

As sy self ’n roos na iemand kon noem, sê sy, sou dit Zelda la Grange (Madiba se oud-assistent) wees. “Daardie vrou verdien darem die hoogste toekenning. Sy’s so hardwerken­d en eenvoudig ’n nice mens. Sy het al baie vir ons land beteken en ek sal wil sien dat sy ook daarvoor vereer word.” Die Elize Cawood-roos sal vanaf 1 Oktober teen R120 by Ludwig’stuinsentr­ums landwyd te koop wees.

Dis treffend – ’n enorme wit blom met ’n pienk skynsel om die rand asof iemand liggies daarop geteken het Elize

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa