‘Om die onbekende te ontdek is ’n uitdaging’
Helène Behrens, handelaar in Persiese tapyte en kelims
As kind wou Helène Behrens die wêreld ontdek.
As volwassene is die MiddeOoste haar “kantoor”, want die afgelope 33 jaar al is sy eienaar van Helène Rautenbach (haar nooiensvan) Persian Carpets & Kelims in Johannesburg.
Dié plaasmeisie van die Vrystaat sal deesdae sommer maklik in ’n burka in Afghanistan – op Arabies – sake beklink met ’n geharde Moslem-sakeman . . . nie iets wat in enige vrou se bolla sit nie.
Haar belangstelling in die matbedryf is by ’n kunsuitstalling op Bethlehem in die Oos-vrystaat geprikkel en dit was liefde met die eerste oogopslag. “Elke mat is ’n kunswerk en maak ’n verskil aan ’n vertrek.”
Helène se reise na die Midde-ooste het in 1995 begin, ná die dood van haar pa, Pieter, in 1994, toe sy ’n bietjie geld geërf het.
“My ouers het geboer en ek en my vier susters het by ons pa en ma, Lollie, onafhanklikheid en harde werk geleer. My jongste sus, Rulé Mans, boer nou op die plaas in die Oos-vrystaat.”
Ná matriek het Helène bedryfsielkunde gaan studeer, maar dit laat vaar. Sy wou eerder ’n entrepreneur word en het op 21 reeds haar eie matbesigheid besit.
Haar man, Werner Behrens, ’n “korporatiewe dier”, ondersteun haar onvoorwaardelik. Hulle het twee kinders, Paul (18) en Elene (16). Sy het ook twee stiefkinders, Liezl (37) en Ludwig (34).
Vol bravade het sy haar eerste reis in 1995 na die Midde-ooste getakel. “Dit was vreesaanjaend. Ek het níks geweet nie.” Sy het ook bloutjies geloop . . .
“Om die onbekende te ontdek is uitdagend. Ek reis dikwels alleen, maar dit is bevrydend.” Sy geniet dit veral om kleurryke mense te ontmoet. “Die Midde-oosterse geskiedenis is anders en interessant.”
Die onrus in die Midde-ooste skrik haar nie af nie. Sy het besluit niks gaan haar stuit om matte te koop nie, haar onderneming moet aangaan, kom wat wil. “Nee wat, ek stuur ’n skietgebedjie op en daar gaan ek.”
In Afghanistan, vertel sy, is die eetgewoontes nogal ’n ding. “Morsig. Jy eet met die hand. Maar jy durf hulle nie in die gesig vat en dit nié doen nie. Daar dra ek die burka – my kop en lyf is toe, maar my gesig steek uit – uit respek vir die Moslem-geloof.”
Dikwels moet sy konsentreer om nié ’n man se hand te skud wanneer sy sake doen nie. (Hul geloof verbied hulle om aan ’n vreemde vrou se hand te raak.) “Ek het al ’n groot aankoop gedoen van anderhalf uur. Die man het nie na my gekyk nie en slegs deur sy tolk gekommunikeer.” Vreemd vir iemand wat nooit eens haar eie man se raad vra as sy iets koop nie. Sy is immers ’n gerekende sakevrou.
In Iran sit vroue agter in die bus. “’n Gordyn skei ons van die mans voor. Jy durf ook nie langs die huurmotorbestuurder sit nie. Vroue mag net voor sit langs hul eie man of seun.”
Midde-oosterse kos bekoor haar. “In Pakistan is dit propvol geurige rissies. Fesenjan, ’n gereg van hoender of bees met ’n marinade van gemaalde okkerneute en granaatsap, is weer ’n heerlike Iranese lekkerny. En saffraan . . .”
Een van haar reis-hoogtepunte was ’n besoek aan die Ermitage-museum in St. Petersburg in Rusland. “Daar is die ongelooflikste kunswerke en die oudste bestaande mat op aarde, die Pazirik, wat dateer van sowat 500 v.c.”
Sy werk fleksietyd van die huis af. “Die grootste uitdagings is om die regte voorraad aan te hou en kontantvloei is soms ’n probleem. Ek verpes admin, maar dis belangrik.”
Voor sy reis, doen sy haar tuiswerk, daarsonder kan dit lewensgevaarlik wees. Sy het ook drie jaar Arabies gestudeer om beter te kan kommunikeer met haar sakekontakte. “Dit is baie moeilik – jy skryf en lees van regs na links.”
Reis bly in haar bloed. “Dit inspireer my en só kan ek ander inspireer.”