LAAT DÍT JOU OOREET?
WAT AS . . . Jy weet nie wanneer jy weer kans gaan kry om te eet nie. Of weer sulke lekker kos gaan sien nie. Of iemand anders gaan dalk die stukkie koek in die yskas gaps. SINTUIE
Jy is in ’n restaurant en eintlik versadig. En dan sien jy die heerlike crème brûlée en móét dit proe. Of jy ruik die aroma van varsgebakte brood in die supermark. Die kos smaak só lekker jy wil nóg hê. Jou mond soek aanmekaar variasie, teksture, smake. Daarom kan ons so maklik van soet en glad na sout/skerp/speseryagtig en krakerig oorskakel. DIS BETAAL EN DÁÁR Jy het tog nou vir die bord kos in die restaurant betaal. Of moeite gedoen om te kook. Daar is toebroodjies tydens die vergadering in die raadsaal. Hoekom mors? TYD Ontbyt, middagete, aandete: Dis etenstyd! Ons word gekondisioneer om op sekere tye te eet en dit maak sin (veral ontbyt). Maar ís jy honger? Indien nie, is dit dalk beter om ontbyt tienuur soggens te eet en middagete ook bietjie later. GEVOELENS Ons eet dikwels om moeilike emosies te verdoof, te vermy of ons aandag daarvan af te trek. Wanneer ons gestres of angstig is. Verveeld of alleen, geïrriteerd of gefrustreerd is. Dan voel ons skuldig en eet selfs nog meer. Die manier hoe ons angs in ons lyf ervaar, boots die gevoel van honger so dikwels na, ons ken later nie meer die verskil nie. Eet kan ook tydelik die gevoel van angs sus. VERLIGTING Jy kan nie eet as jy gestres is nie. Maar daarná eet jy uit verligting. En eet . . . Of dalk laat stres jou juis eet. BELONING Wanneer ’n baba huil, gee Ma hom melk. Is ’n kind hartseer, kry hy iets lekkers as susmiddel. Ook as beloning as hy goed vaar op skool. As volwassenes het ons dus geleer om kos te gebruik as beloning/troos. “Ek verdien sjokolade want . . .” FISIEKE SENSASIES Jy is moeg en eet om beter te voel. Of het ’n hoofpyn, seer rug of pynlike gewrigte. Kos trek tydelik jou aandag van die ongemak af. Wees bewus van die snellers wat jou laat ooreet. Jy kan dan strategieë uitwerk om dit volgende keer te fnuik.