ONS WENNER! VOORBLADGESIG 2017 YOLANI SJEF VAN CERES ‘Ek’s ’n waaghals’
’n Patisseriesjef en foodie van Ceres en ’n boervrou en ma van Standerton. Ontmoet die twee wenners, saam SARIE Voorbladgesig 2017. Met haar krullebol en maklike glimlag kan Yolani Abrahams nie meer verskil van Nadia de Wet met die diepdonker oë nie. Maar
Wonderwerke gebeur. Vat ’n kans, waag ’n bietjie . . .
Met sulke geloof en vasberadenheid het twee Sarie-lesers letterlik derduisende ander deelnemers uitgestof en die titel SARIE Voorbladgesig 2017 losgeslaan!
Vanjaar se wenners, die 24-jarige patisseriesjef Yolani Abrahams van Ceres in die Wes-kaap en die 34-jarige Nadia de Wet,’ n boervrou en ma van Standerton in Mpumalanga, kry elk SARIE se gesogte Oktobervoorblad. Die uitgawe met die twee verskillende voorblaaie sal vanaf 18 September landwyd sy aan sy op die rak lê.
“Ek is verheug oor die wenners, eintlik over the moon,” sê Sarie-redakteur, Michélle van Breda. “Hoe heerlik dat ’n sjef van fyngebak en ’n boervrou wat haarself leer Russies praat, vir ons die mooiste voorblaaie gegee het. Albei is só reg. Boonop lyk hulle nie naastenby soos enige van ons vorige wenners nie. Dis net weer ’n bewys van die wonderlike diversiteit van Sarie-lesers – wat voorkoms, persoonlikheid en ingesteldheid betref.”
Maar, erken Michélle, vanjaar was táái. Dit het ’n ruk geneem om die wenners te bepaal, omdat al tien finaliste op kamera daardie “bietjie ekstra” gehad het. “Fotograaf Leana Clunies-ross het met elkeen getoor, en jy kon sien elke finalis het hard gewerk. Die kyknet-program het ook gemaak dat ons die finaliste ’n bietjie beter leer ken het as ander jare, en dit het dit moeiliker gemaak om gefokus te bly – om te beoordeel op nét die beste voorblad moontlik.
“Maar op die ou end het die foto’s die hardste gepraat. Ná die Voorbladreis van weke waarin sewe episodes vir kyknet verfilm is en honderde foto’s en Tv-skote van elke finalis geneem is, was dit duidelik Nadia en Yolani. So verskillend, maar saam is hulle perfek. Hulle verdien élk die voorblad.”
Volgens Michélle is Yolani sonskyn. Sy’s oop en warm, en wys gou wie sy is. Voor die kamera kom die glimlag spontaan, en haar oë lag elke keer saam. En wie kan daardie wonderlike krullebol weerstaan!
“Nadia is die teenoorgestelde. Jy wil eintlik nie hê sy moet glimlag vir die kamera nie, want met daardie donker hare, donker wenkbroue, donker oë en vlekkelose vel boei sy jou. Sy laat jou wonder. Ons kon blaaie met Nadia se foto’s gevul het.
“Langs mekaar gaan hierdie twee voorblaaie in sinergie op die rak lê. In die kollig, saam net pure magic!”
Ná meer as 50 000 inskrywings in sewe jaar is dit ’n feit dat SARIE Voorbladgesig die verbeelding van Suid-afrikaners aangegryp het. Vanjaar het vroue, soos in die verlede, van reg oor die land (en Namibië!) ingeskryf, met Pretoria die topstad met dubbel soveel inskrywings as Kaapstad in die tweede plek, gevolg deur Johannesburg, Stellenbosch en Bloemfontein. Maar dorpe soos Vryheid, Zeerust, Orkney, Velddrif, Belfast, Boksburg, Mosselbaai, die Paarl, Komatipoort en vele meer het ook van hulle laat hoor. Die jongste deelnemer was 19 en die oudste 75. Twee derdes van die inskrywings was in die kategorie 18 tot 30, en dié jaar het die donkerkoppe geseëvier met 63% van die inskrywings teenoor 32% blondines en 5% rooikoppe.
Volgens die tien finaliste, wat ’n risiko-analis met ’n vlieglisensie,’n regstudent,’n boekhouer, eienaar van ’n skoonheidsalon, administrasiebeampte in landelike ontwikkeling en beplanning, modeontwerper, menslikehulpbronbeampte en persoonlike assistent ingesluit het, het hulle ingeskryf omdat hulle lus was vir iets nuuts, om te kyk hoe ver hulle kom . . . byna ’n let’s-go-for-it-houding.
Nadia, wenner in die kategorie 31 en ouer, het dit dalk die raakste opgesom met ’n eenvoudige “Hoekom nou nie? Wonderwerke gebeur!
“Maar ek het ook ingeskryf om te wys dat ’n vrou, en ma, wat aan die ander kant van dertig is, haarself nog kan uitdaag en inspirerend kan wees.”
Vir Yolani, wenner in die kategorie 18 tot 30, was dit ’n geleentheid vir groei. “Ek het bloot ’n kans gevat, die lewe is ’n kreatiewe reis en wie nie waag nie, gaan nie wen nie.”
As jy nie op die rooi tapyt kan verskyn of so gelukkig is om met ’n prins te trou nie, is die voorblad van ’n tydskrif ’n heerlike manier om ’n bietjie in die kollig te wees.
Dít was juis die kommentaar van een van die finaliste tydens die skiet van SARIE Voorbladgesig vir kyknet. Sielkundige Marlize Heppell van Klerksdorp stem saam: “Vir baie vroue is ’n plek in só ’n voorbladgesig-kompetisie ’n bevestiging van hul eie waarde. Dis tog lekker om erkenning te kry . . . almal van ons het ’n behoefte daaraan.”
Niemand kan ontken dat ’n goeie voorblad ’n impak het op almal wat betrokke is nie, sê SARIE se stylredakteur, Fanie Cronjé. “Kyk maar na prinses Diana wat vanjaar al twintig jaar dood is. Sy was agtien keer op SARIE se voorblad, en elke keer het verkope gestyg. Lesers was mal oor haar nie net omdat sy pragtig was nie, maar ook oor haar menslikheid.”
’n Goeie voorblad gaan op die ou end meer oor die emosie as oor die mooi, erken Michélle.
Verlede jaar was die eerste keer in SARIE se 68-jarige bestaan dat ’n uitgawe twee verskillende voorblaaie gehad het – een vir elk van die twee SARIE Voorblad-wenners, Nicola Smit (24),’n au pair van Kraaifontein wat vir haar graad in opvoedkunde deur Unisa studeer, en Elmaré Schutte (42) van Pretoria,’n gekwalifiseerde oudioloog wat as transformasiebeampte by ’n kommersiëlediensteonderneming werk.
“Elkeen het iets anders gehad: Nicola, jonk, haar toekoms voor haar, en met haar voorblad kan jy die verwagting lees; Elmaré twintig jaar ouer en vol lewenslus, maar haar voorblad het ’n kalmte wat net met lewenservaring kom.”
Ontmoet nou 2017 se twee wenners wat eweneens SARIElesers en kyknet-kykers geboei het. >
YOLANI ABRAHAMS eienaar van die patisseriewinkel Kole & Deeg, Ceres in die Wes-kaap
Jy sien eers die guitige haredos, dan die petite lyf, maar moet Yolani nie onderskat nie. Jonk soos sy is, besit sy reeds haar eie besigheid, die patisseriewinkel Kole & Deeg.
“Ek’s nie bang om ’n kans te waag nie; daarom het ek aan die wedstryd deelgeneem. In my bedryf raak jy vinnig volwasse. Jy werk baie hard en staan heeldag op jou voete. Jy moet kritiek leer hanteer, en wanneer mense op jou trap, raak jy taai ter wille van oorlewing. Maar ek het met tyd ook geleer jy kan nie almal tevrede stel nie …”
Yolani som haarself op as toeganklik, geduldig en hardwerkend. Met ’n goeie humorsin! Iemand wat klimblokke van struikelblokke maak en weet jy kan elke keer opstaan.
En já, sy hou daarvan om haar stempel op dinge af te druk. Soos met haar liefde vir boheemse klere, en haar hare wat sy al blond gekleur het. Kleintyd wou sy reguit hare hê en haar ma moes die krul uithaal. Vandag weet sy haar krulkop is haar bate.
“Mense wil dikwels daaraan vat,” lag sy. “Eintlik het ek die beste van twee wêrelde – ek kan dit afro- styl dra of reguit maak!”
Behalwe dat sy ’n sjef is, bestempel sy haarself as ’n regte egte foodie met romerige parmesaanpasta met vars knoffel en basiliekruid haar gunsteling. Haar liefde vir bak kom van haar oorlede ouma Sarah, vir wie sy dikwels by die koolstoof gehelp het. En natuurlik is haar gunsteling- Afrikaanse woord “appelliefie”!
Kleintyd het sy saam met haar ouers – haar ma, Maggie,’n verpleegkundige, en haar pa, Trevor,’n politikus en kleinboer – asook twee broers, Etienne en Leolan, op Ceres gebly. “Toe die boerdery al groter word, het ons plaas toe getrek by Wolseley. Ek is mal oor dié wêreld – veral as die sneeu op die berge lê.”
Nadat Yolani aan die Hoërskool Charlie Hofmeyr op Ceres gematrikuleer het, het sy ’n diploma in kulinêre kuns aan The Private Hotel School op Stellenbosch behaal.’n Opskietbakkery was die antwoord op haar behoefte om sommer dadelik haar eie ding te doen. “Mense is gek oor ons brood. Dis ook my gunsteling om te bak. Die knie van die deeg is terapeuties. Ek maak van roosterkoek tot ciabatta, saad- en bruinbrood – enigiets nuuts.
“Wanneer ek werk, is ek in my element. En die vryheid om vir jouself te werk is heerlik. Ék maak die reëls.” Gelukkig verstaan haar kêrel, Stefan Roos, haar, vertel sy. Hy is ook ’n sjef en werk by ’n Indiese restaurant in Kaapstad. “Ons droom van ons eie restaurant.”
En sou sy wen? “Dit sê selfs ’n sjef wat saans met seer voete en deurmekaar hare by die huis opdaag, kan op die voorblad wees. Ek hoop dit inspireer al die vroue in my beroep!”
Op haar linkerenkel pryk juis ’n tatoeëermerk van Afrika. “Ek is trots Suid-afrikaans. En as ek myself wil motiveer, loer ek na die woorde op my linkerarm: I have the freedom to live out my passion, to be creative on my life’s journey.”
NADIA DE WET
boervrou van die plaas Platrand, Standerton, Mpumalanga Niks is onmoontlik nie, wonderwerke gebeur. Dít is wat sy vir vroue sou sê as sy wen, het Nadia tydens die kyknetopnames gesê. Toe ’n vriendin haar eers ingeskryf het, was sy vuur en vlam vir die uitdaging.
Dié ma van drie reken soos jy ouer word, raak jy waaghalsiger. Sy het onlangs deur middel van ’n app haarself Russies begin leer. “My broer, Justin, werk in Praag. Baie mense praat naas Tsjeggies ook Russies daar, en ek is mal oor die taal.”
Sy meen jy is nooit te oud om iets nuuts te probeer nie. “Dié wedstryd is nie net vir jong meisies nie. Ek wou wys ’n ma van die platteland kan ook deelneem.”
Maar SARIE Voorbladgesig is nie Nadia se enigste avontuur nie. Sy is lief vir avontuursport en het al “twee keer by die Bloukransbrug naby Nature’s Valley rekspronge gedoen. Ek doen ook kontemporêre jazzdanse en Pilates.”
Oor skoonheid en mooiwees is sy heel nugter: “Ja, ek glo skoonheid maak deure oop. Aantrekliker mense is sosiaal meer aanvaarbaar. Die res moet hard werk om iewers te kom. Nee, dis nie regverdig nie, maar dis die waarheid. Mooiwees vervaag wel, maar dit tel punte.”
Tog weet sy innerlike krag is die ding wat jou op die ou end deurtrek. “My ouers is geskei toe ek vyf jaar oud was. Dit was moeilik. Ek het in my laat tienerjare ’n senuwee-ineenstorting gehad en het lank aan depressie gely. Met my eerste kind het ek postnatale depressie gekry. En met my tweede het ek boonop 32 kg aangesit, my derde was ’n verrassing . . . ek moes myself verloor om myself te kon vind.”
Maar ma-wees geniet sy terdeë. “Ek leer my kinders, John (7), Esabella (5) en Sylvia (2), om ander te behandel soos hulle behandel wil word. Hulle moet gelukkig wees en veilig voel. Die lekkerste is dat kinders jou fokus buite jouself plaas. Hoe kan jy ellendig voel as ’n kleintjie haar hande om jou gesig sit en jou wange soen?”
Nadia het ’n Bcom-graad van Tukkies. “Ek het grootgeword in Pretoria, waar ek aan die Afrikaans Hoër Meisieskool gematrikuleer het, so ek mis soms die stadslewe – die flieks, teater, winkels en anonimiteit. Maar die platteland is so lekker om kinders groot te maak. Hulle loop kaalvoet, klim boom en ry fiets. En as jy swaarkry, is daar altyd iemand met ’n bord koeksisters voor jou deur.”
Die toekoms maak haar soms onseker – plaasmoorde in SA is ’n werklikheid en niks in die lewe is ’n gegewe nie. “Maar ons woon in ’n pragtige land, ek is so lief vir Afrikaans.”
Oor haar lewe is Nadia diep dankbaar. “Ek glo daar is ’n plekkie vir almal onder die son. Dan is jy voor, dan weer agter. Jy hardloop op die ou end ’n resies net teen jouself. Soms kan ek nie glo ek is so gelukkig nie. My man, NJ, is ’n stille reus. Hy is geduldig en intelligent – én pragtig!”
En haar gunsteling- Afrikaanse woorde? “Vir seker gogga en bakkie …” Sy kon #wonderwerk bygevoeg het, want een het so pas met Nadia gebeur!