Sarie

Redakteurs­brief

- #wonderwerk Sien inhoudsbla­aie oor ons Afrikaanse Woord van die Maand Gaan ook na

Mooiste, mooiste maand, besing digter C. Louis Leipoldt die maand Oktober.

Vir SARIE beteken Oktober net een ding: die mooiste, mooiste voorblad. Dié voorblad in die jaar wat behoort aan ons lesers, die SARIE Voorbladge­sig.

Ons sê geluk aan ons SARIE Voorbladge­sig 2017! Aan nie een wenleser nie, maar aan twee wat vanjaar sáám dié titel dra.

Yolani Abrahams van Ceres in die Wes-kaap en Nadia de Wet van Standerton in Mpumalanga is provinsies uitmekaar, die een ’n opgeleide sjef, foodie en entreprene­ur, die ander ’n boervrou en ma met ’n handelsgra­ad wat haarself nou Russies leer. Die een ’n sonskyn-krullebol, die ander ’n boeiende brunet. En albei mooi, mooier, mooiste op ons Oktober-voorblad! Hierdie is die sewende jaar dat SARIE Voorbladge­sig aangebied word – dié jaar groter omdat dit ook ’n kyknet-program van sewe episodes ingesluit het. Oor die laaste jare het meer as 50 000 SA vroue al ingeskryf. Dis die antwoord op die vraag “Waarom het jy ingeskryf?” wat my altyd die meeste interessee­r. Want niemand hóéf in te skryf nie, die lewe het genoeg uitdagings, oorgenoeg mededingin­g en wavragte vol pret. So hoekom?

Die antwoorde van vanjaar se wenners het my ’n bietjie laat nadink. “Wonderwerk­e gebeur . . . En vroue aan die ander kant van dertig kán hulself nog uitdaag,” was Nadia se antwoord. “Ek het ’n kans gevat; wie nie waag nie, wen nie,” het Yolani gesê.

Wonderwerk­e en waagstukke. Die een wat jou geloof toets en soms moeilik is om in te bly glo; die ander ’n wilde of berekende sprong in die donker. Maar albei kragtig genoeg om jou vasbyt te toets . . . en dalk vir ’n wen te sorg!

Die ding van die meeste wonderwerk­e is, glo ek, jý laat dit gebeur. Doen jy min of niks, is die kans op ’n wonderwerk seker maar skraal – al glo jy hoe. Hoe meer jy jou halfpad-doen kan omdraai in ’n “ek gaan voluit hiervoor, want ek glo hierin en wíl dit doen”, hoe meer sal dinge, en wonderwerk­e, gebeur.

Daar’s ’n Britse wiskundige wat bevind het wonderwerk­e gebeur meer as wat ons dink (glo minstens een keer per maand!), juis omdat ons dit self láát gebeur.

Om te waag . . . dis ’n ander saak. My mening? Dis in jou aard, of nie. Baie van ons is net te skrikkerig om ’n kans te vat, daar’s iets wat ons terughou. Dalk vrees ons mislukking en die gedagte daaraan is vreesaanja­end, selfs vernederen­d. Of miskien weet ons net nie hóé om meer avontuurlu­stig te wees nie. Om soms net daardie wilde perd op te saal en die onbekende pad te vat. Goeie nuus is, sê kenners, jy kan leer om meer avontuurlu­stig te wees; om te waag.

Hierdie wedstryd het 50 000+ vroue opgelewer wat waag, en in wonderwerk­e glo. Wat weet groei kom as jy jouself uit jou gemaksone pluk. Vroue wat sê, ek skuld myself iets, ek wil weer voel ek’s waardevol, weer iets nuuts aanpak. Eintlik is hierdie vroue – elkeen wat ingeskryf het – ’n mentor. Hulle wys vir ons iets. Want die lewe lê tussen #wonderwerk­e en waag, en hulle omarm albei.

En ja, dink mooi daaraan, wat het jy tog om te verloor! Tot ek en jy weer gesels wanneer ons November-uitgawe vanaf 23 Oktober op die rak is – ’n uitgawe vol sonskyn.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa