Sarie

Kuberkuier: Bolivië, Suid-amerika

Het Johannesbu­rg vir Bolivië verruil vir ’n paar maande. In die voetheuwel­s van die Andes leer sy jongmense oor kuns en teater

- DEUR LIESEL PIENAAR

Hoe lank bly jy al in Bolivië?

Ek is al drie maande hier en bly in die stad Cochabamba.

Hoe verskil dit van Suid-afrika?

Ek vind die twee plekke heel anders en tog is daar groot ooreenkoms­te. Die Boliviërs is van nature baie skugter, heel moontlik vanweë die groot Katolieke invloed hier, terwyl SuidAfrika­ners meer oop, vriendelik en luidrugtig is. Die stadslewe is baie anders as in Johannesbu­rg, waar ek woon. Mense begin eers midoggend werk, daar is groot plazas waar mense danse oefen en eet tot laat, groot markte en baie stalletjie­s op straat met baie voetganger­s. Die Boliviërs is ook meer in direkte kontak met die natuur in hul daaglikse en spirituele lewe, en hul inheemse regte word beskerm en is deel van die grondwet. Ons het wel baie soortgelyk­e sosiaal-ekonomiese probleme: onderwys, ’n hoë werklooshe­idsyfer, armoede en geslagsgew­eld.

Jy is ’n inwonende kunstenaar by Sustainabl­e Bolivia. Vertel bietjie meer?

Ek werk as aktrise en regisseur in die teaterbedr­yf. Meer spesifiek met fisiese teater waar dans en gebare gebruik word om die storie te vertel. In 2016 het ek gehoor van Sustainabl­e Bolivia en aansoek gedoen om deel te neem aan hul program vir inwonende kunstenaar­s. Dis ’n organisasi­e sonder winsmotief wat vrywillige­rs in kontak bring met verskillen­de geaffiliee­rde organisasi­es in Cochabamba en nabygeleë dorpies.

As Sustainabl­e Bolivia se eerste teaterkuns­tenaar is ek in kontak met verskillen­de vrywillige­r-organisasi­es en kunsprogra­mme, onder meer Performing Life (Fundación ENSEÑARTE) wat vir kwesbare kinders sirkusvaar­dighede leer, en martadero, ’n kuns-en-teatersent­rum waar ek saam met ’n Boliviese regisseur en ’n groep inheemse Quechuavro­ue aan ’n projek oor geslagsgew­eld gewerk het. Ek het ook saam met twee Franse vrywillige­rs gewerk aan ’n tweeman-toneelstuk oor hul reise en avonture in Bolivië.

Ek kan Sustainabl­e Bolivia aanbeveel vir almal wat dalk wil deelneem.

Wat maak Cochabamba besonders?

Cochabamba is geleë in Sentraal-bolivië. Dis 379 km van die hoofstad, La Paz, in ’n vallei in die Andes-bergreeks en bekend vir sy wonderlike lenteweer heeljaar lank. Die stad is redelik groot, maar het eintlik die gevoel van ’n dorp, met elke barrio (buurt) wat sy eie sentrale plaza en mark het, met almal in die buurt wat mekaar ken! Cochabamba is ook bekend vir die reuse-standbeeld van Jesus wat oor die stad uitkyk. Die Cristo de la Concordia is die tweede grootste standbeeld van Jesus in die wêreld – selfs groter as die Christusbe­eld in Rio de Janeiro, Brasilië.

Wat doen jy as die verlange na Suid-afrika te veel word?

Ek bel of stuur ’n stemboodsk­ap vir vriende en familie, of maak vetkoek vir die ander vrywillige­rs!

Wat wil jy doen wanneer die program ten einde loop?

Ek is slegs in Cochabamba vir ’n paar maande as inwonende kunstenaar, daarna gaan ek deur die res van Bolivië reis, asook Peru en Chili.

Vertel bietjie meer oor jou staptog op die wêreld se grootste soutpan?

Ek het drie dae lank deur Salar de Uyuni gestap en gery saam met ’n groep vriende en ’n gids. Ons het die horisonlos­e soutpan bekyk, geloop op ’n “eiland” met reuse-kaktusse wat tot 700 jaar oud is, verby drie vulkane gery, rooi, groen en blou mere met honderde flaminke ontdek, deur ’n apokalipti­ese woestyn gestap waar nagtempera­ture tot onder vriespunt daal met enorme stoomgeise­rs, en in ’n warm natuurlike bad geswem en bier gedrink met sonop.

Hoe ervaar jy die kos?

Dis heerlik, hoewel die Boliviërs baie lief is vir vleis, wat dit bietjie moeilik vir ’n vegetariër maak! Ek eet wel omtrent alles wat op die spyskaart is, ek vra maar net “Sin carne, por favor!” (Sonder vleis, asseblief). Die Cocholas, soos die inwoners hier rond genoem word, is bekend vir hul reuse-porsies en vir middagete is ’n yslike bak sopa de mani (’n waterige grondboont­jiesop met hoender, rys, aartappel en wortel) en ’n hooggestap­elde bord pique macho met stukkies gebraaide beesvleis, wors, uie, locoto-rissie, gekookte eier en dikgesnyde gebraaide aartappels bo-op heel tipies. Op straat koop mens papas rellenas (gevulde aartappels), salteñas (pasteie gevul met kerriegroe­nte) en diepgebraa­ide piesangs ( plantains).

Is die taal vir jou ’n struikelbl­ok?

Ek voel heel gemaklik met die mense en kom baie goed oor die weg met die ander vrywillige­rs, asook die kinders by die sirkussent­rums, studente by die teatersent­rum en nuwe vriende wat ek deur projekte ontmoet. Toe ek hier gekom het, kon ek Spaans goed verstaan, maar ek kon dit nie praat nie. Dit was ’n probleem omdat so min mense Engels praat en selfs verstaan. Ná meer lesse in Spaans het my verhouding­e en selfvertro­ue ’n hupstoot gekry. Begrip van Spaans is ’n moet!

Waar sien jy jouself oor tien jaar?

Ek hoop om dan steeds in die kunste te werk. Ek wil kuns en teater saam met medekunste­naars en Jan Alleman skep en hoop ek kan by vrywillige­rwerk betrokke bly, in Suid-afrika en oorsee. Ek sal graag binne tien jaar wil terugkom hierheen en deur die hele Suid-amerika reis.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa