Sarie

Nuwe baba, jy’s vies vir jou man

Jul bondeltjie vreugde is gebore, maar nou baklei julle soos kat en hond. Toemaar, dis algemeen. En redbaar!

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

“Eenmiddag, ’n paar maande ná ons dogtertjie se geboorte, lê my man, Tom, uitgestrek op die rusbank, sy oë vasgenael op die Tour de France. Terwyl ek Sylvie voed, vra ek of hy na die stapel wasgoed sal omsien. ‘Maar ek het dit laas keer gedoen,’ sê hy. Met ’n pols wat begin jaag, verduideli­k ek as ons beurte gemaak het, was ek omtrent ’n honderd bondels wasgoed voor hom.”

Jancee Dunn het hande in die hare gesit oor haar en haar man se rusies ná hul dogtertjie se geboorte. Oor sy manier om planne te maak en by die deur uit te glip sonder om haar te raadpleeg, wie van hulle verdien om op ’n Saterdag bietjie laat te slaap en waarom sý al die kos moet maak.

Sulke rusies kan onherstelb­are skade aan ’n huwelik en kinders berokken. ’n Amerikaans­e studie toon babas so vroeg soos ses maande wys ’n stresrespo­ns op hul ouers se ontstelde stemme. Jancee het besluit om elke moontlike hulpbron te gebruik om haar wankelrige huwelik te red. ’n Jaar lank het sy haar in navorsing verdiep, kenners geraadplee­g en haar man na huwelikste­rapie toe “gesleep”.

Dinge het verbeter. Tom het haar begin help, sy was gelukkiger en hy dus ook. Hulle het geleer om verskille kalm te bespreek en hul dogtertjie het rustiger geraak. Jancee het boonop ’n boek geskryf om ander nuwe ouers te help: How Not to Hate Your Husband After Kids (Penguin Random House, 2017).

Sy het gevoel sy kan nie vriende en familie in haar vertroue neem nie, want ander ouers met pasgebore babas hanteer dinge dan soveel beter. Sien jy nie gereeld stralende ouers op sosiale media met #Soblessed daarby nie?

Maar navorsing wys pare in nege uit tien verhouding­s is drasties minder gelukkig in die eerste paar jaar van ’n kind se lewe, sê dr. Elizma van der Smit, sielkundig­e van Klerksdorp.

En ja, ontnugteri­ng en woede teenoor jou man is algemeen. Jy slaap dalk hopeloos te min, probeer self aanpas by jou nuwe rol as ma en voel jou man ondersteun jou nie regtig nie. “’n Baba verander alles in jou lewe. Daar is te min tyd vir dinge soos slaap en seks, te min geld en meer kommer en irritasies,” volgens haar.

Daar word inderdaad baie min, of niks, gepraat nie oor hoe die praktiese dinge in ’n huishoudin­g en verhouding gaan werk ná die baba se koms, sê Karlien Erasmus, sielkundig­e van Pretoria. Die meeste voornemend­e ouers sien net die romantiese prentjie van hul bondeltjie vreugde in die oulikste stootwaent­jie.

Vroue voel deesdae hulle lewer net so ’n groot bydrae tot die gesin se finansiële inkomste. Dis mos net regverdig dat mans ook ’n belangrike rol in die versorging en opvoeding van die kinders speel, sê sy.

Tye en rolle het inderdaad drasties verander en pa’s móét meer help en betrokke wees (hoewel navorsing wêreldwyd toon ma’s doen steeds baie meer), volgens dr. Van der Smit. Maar pasop: Studies wys hoe meer Pa by Ma se rol betrokke raak, hoe meer konflik kan daar wees. Waak daarteen dat dit ’n magspel word waar julle op mekaar se tone trap.

Soms vergeet ons ons het ’n groot voorsprong bo mans as dit by kinders kom. Vroue versamel miljoene stukkies inligting oor babas via ’n “sosiale pyplyn”, skryf Jancee. Hulle pas as kind dalk babas vir sakgeld op, woon ooievaarst­ees by, praat met ouer ma’s – en het waarskynli­k reeds menings gevorm oor baie kwessies rakende kinderopvo­eding. Mans nie. Dis daarom soms makliker om dinge self te doen as om hom ook nog touwys te probeer maak.

Volgens dr. Van der Smit neem dit Pa boonop langer om ’n band met die baba te vorm en daarvoor moet hy meer tyd met die kind deurbring. Ja, jy weet meer en kan probleme vinniger oplos, maar laat hom toe om ook sy voete te vind – sonder jou wakende oog.

Onthou ook, vroue kan ’n klomp dinge gelyk doen, terwyl mans slegs op een ding fokus. Moet hom dus nie oorweldig met ’n vae taak soos “kyk asseblief na die baba vir ’n paar uur nie”, gee hom eerder spesifieke take.

Hy kan boonop nie ruik wat jy wil hê nie. Karlien verduideli­k: “Die meeste mans wat ek in terapie gevra

’n Baba verander alles in jou lewe Dr. Van der Smit

het, voel as hul vrou net meer direk vir hulle sê wat hul behoeftes is, sal dinge beter gaan. Moet dus nie verwag hy moet tussen die reëls lees nie. En gee positiewe terugvoeri­ng as hy wel sinvol op jou behoeftes reageer.”

Uiteindeli­k, sê sy, moet elke ouerpaar bepaal wat werk vir hulle. “Elkeen se ‘ bloudruk’ – hoe dinge in jul onderskeie ouerhuis was – speel dalk die grootste rol in jul verwagting­e vir jul eie huwelik. As jou pa baie betrokke by jou lewe was, gaan jy onbewustel­ik/ bewustelik ook van jou man verwag om meer daar te wees vir jul kinders. Práát oor jul verwagting­e vir jul onderskeie ouerskapro­lle.”

Weet dus konflik is normaal ná ’n nuwe baba. Pas jou verwagting­e aan. Die werklikhei­d verskil gewoonlik hemelsbree­d van jou fantasie, sê dr. Van der Smit.

Sy gee nog wenke

Waak teen die “ek-is moeër-asjy”-kompetisie. Kry soms hulp (’n ouer of kinderoppa­sser) sodat julle albei kan rus. Of kom ooreen jy slaap Saterdae laat en hy Sondae. Dalk werk dit beter as julle ’n “eendag-aan-een-dag-af-ooreenkoms” het. (Hy staan byvoorbeel­d een nag op, jy die volgende een.) Bepaal wat vir julle die beste werk.

’n Vaste roetine vir die baba kan baie help met die “ek-skreeu-virmamma-verskynsel”. As Pa weet badtyd is sy werk, is daar geen debat nie. Jul baba is ook gewoond daaraan.

Werk presies uit watter take wie doen. Besluit wie is goed waarmee en wie hou van wat. Spesialise­ring werk beter.

Moenie die baba dadelik vir Pa gee as hy ná werk by die deur instap nie. Gee hom kans om eers asem te skep. Ontspan dalk eers saam as gesin en los hulle dan ’n bietjie alleen.

Moenie aanvaar hy sal sien jy is besig en vrywillig inspring om te help nie. Mans reageer beter op direkte opdragte (sonder ’n sarkasties­e stemtoon). Bedank hom vir sy hulp, al kry jy nie noodwendig elke keer ’n dankie nie.

Plak ’n lys met take teen die yskas op en ruil dalk elke week.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa